|
Die gedweë metode (passief) van skryf is 'n algemene slaggat. So algemeen,
dat selfs die gesoute skrywer by tye daarin trap. Hierdie metode dreineer die
mees opwindende verhaal van lewensbloed en energie. Gedweë
metode van skryf (passief) se voorstelling van die sinne is dat die storie nou
gaan begin, dog daar is nie 'n begin nie. 'n
Voorbeeld: verhaal van 'n kat en 'n muis in die huis. "Die muis sit op
die mat. 'n Groot kat stap die vertrek binne. Die kat ruik die muis. Die muis
kyk na die kat. Die kat sien die muis. Die vrou van die huis kom die vertrek binne.
Sy sien die kat en muis". Elke sin val loodswaar
op die bladsy. Daar is geen aanduiding van 'n storie nie, geen lewe, energie
en geen "stem" wat met jou praat nie. Geduldig, gedwee, passief - en
dood. Nog 'n probleem
is dat daar geen hoofkarakter hier is nie. Beide die kat en muis se siening kry
voorkeur. Die vrou wat inkom trek dan ook die kollig weg. Uiteinde is dat daar
in werklikheid geen verhaal kan wees nie. Al drie die karakters is daar, dog nie
een gee definitiewe rigting aan die verhaal nie. Wanneer jy die verhaal skryf,
konsentreer op jou hoofkarakter. Dit is die hoofkarakter wat doel, lewe en rigting
aan die verhaal gee. Voorbeeld
van die kat en muis: "Die muis se oë rek groot toe hy die groot kat
sien wat by die vertrek ingestap kom. Hy sien hoe die kat hom ruik. Terwyl die
vrou by die vertrek inkom duik die muis haastig agter 'n bank se poot in om weg
te kom van die kat en die vrou af." Die
leser sal aanneem dat die kat die muis sal agtervolg en die vrou die kat uit nuuskierigheid
sal volg. Deur die geduldig, gedwee, passiewe manier van skryf te vermy is die
storie aan die rol gesit. Hier word die muis gebruik as die hoofkarakter, die
kat en vrou as sub-karakters. Die
werkwoord is die bruikbaarste instrument wat jy kan kry. Kies jou werkwoorde met
sorg. Laat jou werkwoorde jou karakter se aksies, reaksies, doen en late op 'n
duidelike manier weergee. Om te "sit" kan verskillend beskryf word:
plaas te neem, slapval, neerplak, hurk, op hurke neerbuig. Daar is geen nie 'n
rede om te sê die man het in die veld gaan sit nie. Jy kan dit so stel:
Die man het in die gras gehurk. Die onderwerp en werkwoord stap hand-aan-hand.
Duidelik en kragtig om onmiddellik 'n effektiewe beeld te skep. Dit
neem tyd en oefening probleme soos passiewe skryf en verklarende styl in jou werk
uit te skakel. Maar die uiteinde vir volgehoue deursetting sal 'n gemakliker,
lewendige en unieke skryfstyl wees. e.t. |