|
Voordat jy enigsins begin, doen 'n volledige ondersoek na die spesiale
vereistes wat gestel word aan die verskillende ouderdomsvlakke en die verskillende
soorte prenteboeke. Daarna sal alles wat jy benodig, bymekaar gebring word vir
die afronding van jou werk: jou skryfstyl, tekste, beplanning van storie en tema,
taalgebruik, trant en rigting van jou storie en tema. Ons
het alreeds gepraat dat prenteboeke geskryf word vir kinders, maar dat in gedagte
gehou moet word dat dit oor die algemeen volwassenes is wat die boeke koop en
dit vir die kinders gee of voorlees. Daar is 'n magdom redes hoekom 'n volwassene
'n prenteboek koop. Onthou:
prenteboeke moet dubbeldoelig geskryf word. Vir die plesier, maar ook om die kind
op 'n subtiele manier te leer. Dit moet 'n aantrekkingskrag bevat vir die
volwassene sowel as die kind. Hierdie boeke is die unieke kombinasie van kunstigheid
en kundigheid op sy beste. Jou navorsing
Lys al die verskillende redes onder mekaar waaraan jy kan dink hoekom 'n volwassene
'n prenteboek sal koop. Bewaar hierdie lysie, want aan die einde van die werkstuk
gaan jy hierdie lysie weer benodig. Lengte
en spasiëring Soos
voorheen bespreek, maksimum van 32 bladsye. Dit is raadsaam om in gedagte te hou
dat hierdie die voorblad, die kopieregte verklaringsblad en toewydingsblad insluit.
Voorblad: bevat jou titel, naam en voorblad prent. Kopieregte verklaringsblad:
bevat die kopieregte bewoording wat jou beskermingsregte op jou werk is. Toewydingsblad:
party keer word 'n boek toegewy aan 'n geliefde, kennis of instansie. Die kopieregte
verklaringsblad en toewydingsblad kan gesamentlik op een bladsy verskyn. Aandag
moet geskenk word aan die uiteensetting of spasiëring van die boek. Jy moet
besluit of jy die verhaal op 'n enkelblad wil begin. Of sal dit miskien meer effektief
wees indien jy dit begin op twee bladsye wat teenoor mekaar staan? Hierdie konsep
is bekend as die dubbelbladsy verspreidings tegniek. Teen
hierdie tyd het jy al menige keer vir jouself gesê dat jy 'n goeie storie
wil skryf en nie tyd het vir al hierdie fieterjasies en tierlantyntjies nie. Feit
is: dit is die beginpunt. Met al hierdie fieterjasies en tierlantyntjies tot nou
toe, is jy nou reg om te begin met jou storie. Ons
gaan begin deur 'n "prenteboek te maak" Hoe?
Skryf jou storie
en maak verskeie afskrifte daarvan.
Vat 16 bladsye papier, opmekaar gestapel en vou hulle in die helfte. Nou het jy
'n losblad boek van 32 bladsye. Gebruik 'n skêr en sny die een afskrif van
jou storie in verskeie episodes (gedagtes, insidente, tonele van die storie) en
sit die woorde rofweg vas op die bladsye.
Jy wil eintlik nie meer as een episode op 'n bladsy plaas nie. Jy wil probeer
om 'n egalige, stimulerende plasing en voorstelling van enkelblad sowel as dubbelblad
sketse en woorde te kry. Jy kan dit dalk ook verkies om die teks op die een kant
en sketse op die teenoorgestelde kant te plaas. Daar
is ook die gesamentlike enkelblad konsep waar die teks-episodes en sketse op dieselfde
blad geplaas word. Hier kan die teks eerste geplaas word, met die sketse direk
daaronder. Of die teks kan verdeel word in twee, drie of vier onderbrekings en
die sketse tussenin kan gebruik word as 'n uitvloeisel van die teks. Nog 'n manier
is eers die sketse, dan die teks. Die
gesamentlike dubbelblad konsep: die teks kan aan die een kant van die dubbelblad
wees met die sketse op die teenoorgestelde kant. Of die teks kan verdeel word
in twee onderskeie afdelings aan die een kant van die dubbelblad met die gepasde
sketse vir elke teks op die teenoorgestelde kant. Die
algemene reël is dat dit die leser net so lank moet vat om die teks te lees
soos wat dit hom sal vat om die sketse te bestudeer. Jy
kan nie teken nie? Ontspan en visualiseer. Penteboeke is afhanklik
is van sketse, prente, illustrasies, of foto's. Jy kan nie teken nie en ken ook
nie 'n kunstenaar nie? Moenie bekommerd wees nie, daar is 'n eenvoudige oplossing.
Uitgewers het gewoonlik 'n lys van name van kunstenaars wat hulle kan aanbeveel.
Sommige uitgewers is selfs bereid om net die manuskrip en 'n rowwe aanduiding
van die illustrasies wat jy in gedagte het, te aanvaar. Indien die manuskrip vir
publikasie aanvaar word, sal hulle dan die nodige kunstenaars aanstel. (Soms verkies
uitgewers dat 'n manuskrip sonder illustrasies voorgelê word.) Net
omdat jy nie vir die illustrasies of kunswerke kans sien nie, beteken nie dat
jy nie bevoeg is om prenteboeke te skryf nie. Sien die verhaal
in jou geestesoog en skryf die verhaal so dat wie dit ook al lees, dit ook kan
visualiseer. Maak seker dat jou storie baie aksie, verandering van omgewing en
lewendige karakters bevat. As die woorde jou uitlok om te wonder hoe die
prentjie sal lyk, gaan dit dieselfde doen by die uitgewer en sal hy 'n tweede
en derde keer na jou werk kyk. Kry
jou sketse, illustrasies, prentjies of foto's bymekaar. Ook hiervan moet jy verskeie
afskrifte maak. Presies dieselfde werk verbonde aan die tekse is ook hier van
toepassing. Die sketse, illustrasies, prentjies of foto's is tot die fynste besonderhede
net so belangrik soos die woorde. Hiermee tesame skep jy nie net die beeld van
'n wonderwêreld vir die jong lesertjie, die ouer leser en die volwassene
nie, maar dit moet ook so effektief wees dat dit die leser deel maak van hierdie
wonderwêreld. Gebruik
'n skêr en afskrifte om jou nabootsing van jou prenteboek te vorm en hervorm.
Dit sal jy vele kere doen. Jy sal hier ook moontlik die nodigheid insien om van
die teks-episodes te verander, of aan te pas. Of moontlik van die visuele prentjies
wat skielik sal lyk asof dit nie meer so perfek pas by die teks nie. Oor en oor,
totdat jy heeltemal tevrede is met die nabootsing van jou prenteboek. Wanneer
jy heeltemal tevrede is met die uitleg, teks-episode spasiëring, verhaal
en die totale effek van die prenteboek, is dit tyd om dit weer van voor af netjies
uiteen te sit. Hier gebruik jy jou tikmasjien, woordverwerker, of rekenaar en
skandeerder. Netjies uiteengesit, elke bladsy presies soos jou nabootsing waaraan
jy soveel tyd en aandag gewy het.
Werkstuk Gaan terug na jou heel eerste
navorsing in hierdie werkstuk. Vergelyk of jou werk aan hierdie ondersoek na die
spesiale vereistes wat gestel word, en wat jy gedoen het, voldoen. Die
volgende navorsing wat jy moes gedoen het, het gehandel oor die opstel van 'n
lysie oor hoekom jy dink 'n volwassene 'n prenteboek sal koop. Neem nou hierdie
lysie en kyk in fynere besonderhede of jou werkstuk aan dié eise voldoen. Hierdie
werkstuk moet weer en weer gedoen word. Daar moet gestrewe word om, sover moontlik,
aan elke punt te voldoen. Onthou die skep en deel van die wonderwêreld!
Dit is van pas om deurentyd aanpassings en veranderinge te doen aan hierdie nagemaakte
prenteboek. Wanneer
jy uiteindelik ten volle tevrede is met die resultaat, is dit tyd om hierdie prenteboek
weer eens van voor af te doen. Netjies en presies. Laat ekstra spasie aan die
kante sowel as by die onderpunt van die bladsy. Wanneer voltooid, plaas in 'n
lêer en sit veilig eenkant. Jy sal op 'n latere stadium meer te wete kom
oor hoe om te werk te gaan om jou prenteboek-manuskrip voor te berei vir voorlegging
aan 'n uitgewer. |