| Daar
in ongetwyfeld menige verskille tussen prenteboeke en fiksie of novelle ('n
baie verkorte weergawe van fiksie/romans). Van die meer ooglopende verskille is:
fiksie het baie minder, indien enige, prente, illustrasies of foto's. Meestal
geen. Die ander verskille gaan ons nou na kyk. Jy
behoort volledige kennis te dra van die standaardgebruike van toepassing by die
skryf van fiksie vir die jonger leser. Hierdie plaas jou in die posisie dat jou
werk wel aan die redakteurs se verwagtinge kan voldoen. Natuurlik kan reëls
gebreek word, maar indien jy nog nie voorheen 'n middegrade fiksie gepubliseer
het nie, is dit raadsaam om eerder by die reëls te hou. Dit gee jou 'n baie
beter kans op sukses! Die
lesersgroep is totaal verskillend van die lesersgroep van prenteboeke.
Die koper van fiksie is gewoonlik die leser self, afhangende van die ouderdomsgroep.
Die ouderdomsgroep van graad drie en jonger word, alhoewel hulle self hul eie
keuse van leesstof maak, nog steeds deur die volwasse ouer beïnvloed. Wanneer
hierdie lesertjies die ouderdomsgroep van graad vier en vyf bereik, kies hulle
self wat hulle wil lees. Hulle word wel met hierdie keuse beïnvloed deur
hulle maters. Nog
'n belangrike verskil is die onderwerp. Terwyl prenteboeke oor die algemeen
oor onderwerpe handel wat te doen het met dierekarakters, nostalgiese situasies,
of die handeling van volwasse karakters en situasies, gaan die fiksie vir die
jong leser selde oor enige van hierdie onderwerpe. Die onderwerp is gewoonlik
oor die jongmense self en gebaseer op die jong leser se ouderdomsgroep se doen
en late, ondervindinge, konflikte, probleme en oplossings - eie aan die moderne
lesertjie se lewe. Fiksie vir die jonger leser konsentreer op een karakter
en vertel die storie soos gesien deur die oë van 'n kind. Hierdie konsep
word nie gebruik in die Begin-leser-boeke of Eerste-hoofstuk-boeke nie. Hierdie
boeke kan 'n verskeidenheid van karakters bevat. Soos wat die kinderleser ouer
word verkies hy/sy om te kan identifiseer met een karakter en nie 'n paar nie. Fiksie
word dus gekategoriseer volgens onderskeie afdelings, die mees algemene sluit
in die ouderdomsgroep en genre. Ons begin, soos reeds voorheen ligweg genoem,
by die algemene beginsels. Om
die ouderdomsgroep in aanmerking te neem Maklike
lesers. Vir die ouderdomsgroep
wat die prenteboeke ontgroei het, maar wel nog nie reg is vir die ouer fiksie
nie. Hierdie boeke is tussen 32 en 48 gebinde boek bladsye. Woord en taalgebruik
oor die algemeen eenvoudig gehou, aangesien die jong leser self hierdie boek lees.
Ander metodes word ook hier aangewend om die lees te vergemaklik, bv. Die appel
val uit die boom
Hier kan 'n potlood tekening voorkom met 'n pyltjie na
onder - tussen die boom en die appel - om aan te dui hoe die appel uit die boom
val. Teks (woorde) word hier, met eenvoudige illustrasies en herhaling, gebruik
om aanskoulike voorstellings te beklemtoon. Hoofstukboeke.
Hierdie boeke oorbrug die gaping tussen die "klaar met die prenteboeke"
en "nog nie heeltemal gereed vir die volle fiksie-golf nie" stadium,
dog al te oud vir die Maklike-lesers. Soos die beskrywende naam word hierdie boeke
verdeel in onderskeie hoofstukke - so tussen drie en vyf hoofstukke. Elke hoofstuk
bevat gewoonlik illustrasies. Die Hoofstukboeke wat sonder illustrasies is, bevat
soveel aksie in die verhaal, dat dit die lesertjie se verbeelding aangryp. 'n
Hoofkarakter word hier gebruik en daar word gekonsentreer op die kind se ondervindinge
en situasies waarin 'n kind hom van tyd tot tyd bevind. Skoolondervindinge en
-situasies is gewilde onderwerpe. Woordeskat en taalgebruik word noukeurig gevolg
en herhaling word alleenlik gebruik om die jong lesertjie se begrip van die verhaal
te verseker. Middegrade
fiksie. Die leserskring is hoofsaaklik in graad 3-5. Hier word die hoofkarakter
so 'n jaar of twee ouer voorgestel as die moontlike lesertjie. Ouderdom speel
hier 'n besliste rol en hierdie ouderdomsgroepe verkies om die verhale te lees
van karakters wat uitgebeeld word as effens ouer as hulself. Die hoofkarakter
se doen en late, ondervinding en reaksies word duidelik uitgebeeld in elke hoofstuk
van die verhaal. Daarby word die verhaal uitgebeeld soos gesien en ondervind deur
die oë van die hoofkarakter. Humor dra 'n groot deel by tot hierdie skryfstyl.
Jou leserskring vir die Middegrade fiksie is oor die algemeen kinders van hierdie
ouderdomsgroepe. Die groep voel dat daar baie te leer is uit die karakter se ondervindinge.
Hulle kies en lees ook self hierdie boeke. Menige keer word die boeke gekoop met
geld wat hulle self gespaar of verdien het. Moontlikhede
en onderwerpe: (graad 3-5) Meeste
Middegrade fiksie word beskou as realistiese of feitlike fiksie. Die skryfstyl
word gebaseer op die hedendaagse situasies, konflikte, probleme, oplossings en
humor van hierdie ouderdomsgroepe. Gereeld word daar gekonsentreer op die verskillende
situasies wat kinders ondervind by die skool en tuis. Daar word nie as 'n volwassene
geskryf nie, nog minder word die verhaal vanuit die volwassene se oogpunt vertel.
Die karakter is 'n kind, 'n jaar of twee ouer, die situasie en omstandighede soos
baie van die lesertjies se situasie en omstandighede. Die karakter vertel die
verhaal, gesien uit die oogpunt van 'n kind van daardie ouderdom. Hier moet die
skrywer die rol aanneem van die jonge karakter wat hy/sy skep, dink soos die karakter,
voel soos die karakter en die verhaal beskryf soos die karakter dit sien. Dit
is die enigste manier waarop die "stem" van die verhaal vasgevang en
uitgedruk gaan word. Op hierdie manier word alle emosie en humor ter tafel gelê
- vanuit die oogpunt van 'n kind. Fantasie:
'n Baie gewilde skryfstyl vir hierdie ouderdomsgroep. Fantasie skuif
die werklikheid agterweë en skep 'n wonderlike fantasiewêreld vir die
leser. As jy hierdie fantasiewêreld met jou woorde wil skep moet jy van
die begin, deur die middel tot aan die einde daarby hou. As die hasie praat en
sing terwyl dit hop, mag die karaktertjie nie skielik ophou praat of sing met
sy bewegings nie - tensy dit deel vorm van die verhaal. Wat ook al jou karakter
se eienskappe aan die begin is, dit moet konstant dieselfde bly tot aan die einde. Terwyl
fantasie die werklikheid agterweë laat, mag die groei van die karakter nie
agterweë gelaat word nie. Op 'n manier moet die werklikheid van die lewe
en die gebeure in die fantasiewêreld bind, die jong leser boei en in 'n
mate leiding verskaf. Fantasie bevat al die beginsels van goeie fiksie - insluitende
die "verbeeldingsvlugte-toelatingsproses". Dit moet konflik en probleme,
oplossings, karaktergroei, "stem" en 'n noukeurige beplande en uiteengesette
komplot bevat. Misterie
- Die Geheim: Misterie, of Die Groot Geheim - baie gewilde leesstof onder
die Middegrade lesers. Misterie vir kinders is baie minder gekompliseerd as misterie
gerig op die volwasse leser. Hierdie vorm van skryf moet ook nie 'n groot hoeveelheid
bloed en geweld bevat nie. Hou jou jong lesertjies in gedagte wanneer jy die misterieuse
veld betree. Die kinderkarakter/s van jou verhaal is veronderstel om op 'n veilige
en verantwoordelike manier op te tree. Die komplikasies van die verhaal kan hulle
wel in 'n ander rigting laat neig, maar die oorsprong van die verhaal moet moreel
en eerbaar wees. Rillers:
Gedurende die middel 1990's was rillers weghardloop wenners vir Middegrade. Teen
einde van 1990 het hierdie fenomeen afgeneem en nou beskou die meeste uitgewers
rillers vir hierdie kategorie as afgesaag en nie-betalend nie. Sportverhale:
Fiksie wat handel oor enige vorm van sport, veral waar jong meisies by betrokke
is, die kompetisie sterk is en daar onverwagse komplikasies intree, is besig om
baie gewildheid te verwerf onder die Middegrade groepe. Geskiedkundige
fiksie: Die belewenisse van kinders voorgestel in periodieke of geskiedkundige
tye is uiters gewild onder die Middegrade lesers. Hierdie verhale bevat 'n hoofkarakter
wat, alhoewel dit in die verlede tyd afspeel, dieselfde probleme, konflikte, emosies,
en oplossings ondervind en beleef as die moderne kind wat die leser is. Geskiedkundige
fiksie beteken daar word gefokus op die hoofkarakter. Dit is maklik om verstrengel
te raak in geskiedkundige besonderhede en die moontlikheid bestaan dat jy kan
eindig met 'n vervelige geskiedkundige relaas wat die Middegrade leser gaan verveel.
Dit is hoekom daar op die hoofkarakter gekonsentreer en gefokus moet word. Die
verhaal sal sy eie verloop neem. Diereverhale:
Jong lesers hou van verhale wat handel oor diere, veral as die diere in een of
ander penarie of verknorsing is en daaruit moet woel. Verhale wat handel oor perde
is 'n groot gunsteling by dogters van hierdie ouderdom. Hou in gedagte dat daar
vele ander diere onderwerpe ook hier gebruik kan word. e.t.
|