| Hoekom
wil jy skryf? Skryf
is sonder twyfel een van díe belangrikste, indien nie díe belangrikste
werk nie. Met woord op papier bring jy idees en drome na mense. Dit is nie vergesog
om te sê dat jy as skrywer 'n direkte bydrae lewer om die wêreld 'n
beter plek te maak nie. Die
gebeurtenisse van jou verhaal en die karakters wat jy beskryf en op papier laat
lewe, kan mense onbewustelik help om hulself en mekaar beter te verstaan. Moontlik
skryf jy 'n verhaal waar die een karakter so sterk na vore tree dat die leser
met daardie karakter kan vereenselwig en identifiseer. So sterk dat die leser
somtyds sy persoonlike kwellinge en probleme kan vergeet, en selfs oplossings
kan vind in jou karakter se ondervindinge. So kan die leser dan sy eie lewe bevoordeel. Jonk
en oud verdien net die beste - elke storie 'n lewenservaring van sy eie. Erfstuk Skryf
is jou direkte deel aan en toevoeging tot die erfenis van taal, kultuur en eie
geskiedenis wat oorgedra word aan die nasate. Dit is die beste erfstuk wat ooit
nagelaat kan word. Bekendheid,
herkenning, erkenning en waardering Jou
bekendheid as skrywer en die erkenning en waardering van jou werk, hang totaal
van jouself en jou eie bemarking af. Die epikus is oor die algemeen uitermate
gesteld op die behoud van identiteit en privaatheid. Hier en daar is hierdie neiging
al verbreek, maar oor die algemeen bly dit die "ongeskrewe reël"
van die epikus. Die "ongeskrewe reël" geld nie vir die
skrywer, potensiële skrywer en amateur skrywer nie. Gou word hulle name en
selfs gesigte deur die publiek herken, erken, en waardeer. Ongeag die
"reël" - eer kom skrywers toe vir die wonderlike verhale wat hulle
tower en wat die publiek so aangryp. Geld?
Wat van geld? Dit
is die moeilikste deel - die geld. Moet vir geen oomblik glo dat enige mens kan
bepaal hoeveel geld jy gaan verdien met jou voeging van woord op papier nie. Die
enigste manier om dit te kan voorspel, is om beheer te hê oor die breë
publiek se denke! Waarvan die een persoon hou, vind dalk nie byval by die ander
nie. Die uitgewer hou miskien nie van die onderwerp nie en keur die boek af. Die
volgende uitgewer hou van die werk en publiseer dit. Maar nie een van die twee
kan eers begin om 'n moontlike syfer aan jou te noem nie. Daar
was al hoeveel gevalle waar die uitgewers geweier het om 'n manuskrip te publiseer
op grond daarvan dat die mark "oorvol" is, of dat "daar nie huidig
'n mark vir so iets is nie". Baie sulke verskonings. Dan het die skrywers
hulle manuskripte op eie koste gepubliseer. Menige blitsverkopers het op hierdie
manier die lig gesien en dieselfde uitgewers bly nog steeds hulle hare uittrek
want hulle het nooit kon droom dat die werke wat hulle afgekeur het wonderlike
blitsverkopers geword het nie! Daar is geen beter aansporing vir skrywers as hierdie
feite nie. Die
epikus is dié wat wêreldbekendheid verwerf met hulle werk. Menige
keer word hierdie werke tot rolprente verwerk en in al die rolprentsale getoon.
Hulle word ook op videoband vasgelê en versprei en die rolprente word op
televisie vertoon. Dit beteken goeie geld.
Oor die algemeen lewe skrywers volgens 'n wipplank balans - hulle skryf en werk.
Hulle kan ook verdere take verrig om hulle inkomste aan te vul soos deur as gasteskrywers
by skole en funksies op te tree of deur vertaalwerk te doen. Baie
skrywers is in die onderwys; werk selfs in 'n biblioteek. Ander weer beoefen beroepe
wat geen verband met die skryf van verhale hou nie. Die
harde feite is: as jy besluit om te skryf omdat jy wil ryk word en gou baie geld
wil verdien. is dit raadsaam om jou roeping as skrywer te heroorweeg. Om
te skryf moet 'n verlenging van jou eie drome, ideale en fantasie wees. Het
jy besluit? Waarvoor
(hoe) wil jy as skrywer bekend staan? Skryf dit op die eerste bladsy neer. Hierdie
woorde, wat jy elke dag sal sien sodra jy begin werk, sal in jou geheue ingegraveer
word en onbewustelik as inspirasie dien. Dit sal rigting gee aan jou soeke en
strewe na volmaaktheid in jou werk. e.t. |