| Jong mense
wat teen hierdie ouderdom nog nie ywerige lesers is nie, sal dit nie skielik
geniet om uit hulle eie uit fiksie te lees nie. Hierdie jong mense mag wel goeie
lesers wees en altyd hulle leesvoorskrifte by die skool suksesvol afhandel, maar
sal nie maklik uit vrye wil vir hulle leesstof kies nie. Nog minder sal hulle
'n sent van hulle toelae op storieboeke spandeer. Daar
is verskeie redes hiervoor. Eerstens, hulle het nooit geleer dat lees 'n baie
goeie manier van ontspanning is nie. Ook nie dat dit een van die beste punte van
kommunikasie tussen mense kan wees nie. 'n Gesprek oor boeke kan die aanknopingspunt
van hegte vriendskap word. Boeke leer ook die jongmense om op enige vlak te kan
kommunikeer. Op hierdie ouderdom is hulle lewens ewe skielik baie vol en daar
is baie om te leer. Op skool is daar nuwe uitdagings van skoolopvoerings, die
skoolkoor, sportaktiwiteite, ens. Al hierdie vul 'n gaping, help met selfbeeldontwikkeling
en dien ook om vriendskappe te ontwikkel. Dit neem baie van die jongmens se tyd
en tensy hy/sy alreeds in die gewoonte is om te lees, is daar op hierdie stadium
nie voldoende tyd om nog die leesgewoonte ook aan te kweek nie. Daarby is daar
die geldkwessie. Jongmense wil te veel "ander noodsaaklikhede" met hulle
toelae koop. Hulle voel dat die nuutste CD, rekenaarspeletjie, klere, haartooisels
en juwele belangriker as 'n boek is. Goeie
nuus is dat daar wel menige jongmense is wat teen hierdie ouderdom al wel deeglik
die genot van lees ondervind. Daar is verskeie redes hoekom jongmense lees. Van
die belangrikste redes is dat jongmense 'n soort van kameraadskap vind in die
leesstof wat hulle verkies. Puberteitsjare bring allerhande veranderinge en uitdagings.
Wanneer hulle lees en ondervind dat die karakter in die fiksie presies dieselfde
probleme, gevoelens en emosies as hulself beleef, dan besef hulle dat hulle nie
alleen staan nie. Met
die skryf van fiksie vir die jong volwasse leser (puberteitsjare), het jy die
geleentheid om verhale te skep wat hierdie jong mense deur hierdie traumatiese
tyd in hulle lewe help, sonder om te dweep, voor te sê, of te preek. Jy
het die gulde geleentheid om die gevoel van eensaamheid, kwesbaarheid en volwasse
onhandigheid te verminder. Jou verhale kan hulle meer deel van die mensdom laat
voel en hulle riglyne aanbied om hierdie moeilike stadium te oorbrug. Weer eens:
sonder dweep, sonder om te preek of voor te wil sê - eenvoudig net deur
'n emosionele vrugbare storie te vertel! Of
jy voorkeur gee aan die skryf van fantasie, misterie, realistiese fiksie, avontuur
of historiese fiksie, wetenskaplike fiksie, is daar in werklikheid slegs drie
hoofonderwerpe waaronder fiksie vir die jong volwassene val. Dit is romanse,
identiteit en op 'n meer ernstige trant. Soos
in die verskeie afdelings van prenteboeke die geval, is ook hier oorvleueling
van die temas. Byvoorbeeld: meeste fiksie vir die jong volwassene handel oor identiteit
met 'n onderliggende afdeling van romanse. Fiksie wat handel oor lewensveranderinge
of lewensgevaarlike gebeurtenisse se basis is beduidend gerig op die identiteitvorming
van die karakter. Romanse
Romantiese fiksie vir die jong volwassene word duidelik gebaseer op jongmensverhoudinge.
Die onderwerp handel gewoonlik oor die hoofkarakter se onbeantwoorde liefde. Die
hoofkarakter voel onhandig en weet nie hoe om te werk te gaan om die liefde van
sy/haar se lewe te wen nie. In die proses om hierdie oorwinning te smaak, is daar
menige kwesbare, vernederende en humoristiese situasies waarin die karakter beland. Hier
kan daar verskeie draaie en swaaie ingebring word om die standaardromanse op te
kikker en eie te maak. Die hoofkarakter kan 'n jong meisie wees wat haarself verbeel
dat haar hele wese aan die kaptein van die skool se rugby span behoort, net om
met 'n skok te ontdek dat dit eintlik nog die hele tyd die buurman se seun is
wat haar so lam in bene laat voel het. Omdat hy en die eerste span kaptein maats
was en altyd saam gestap het, het sy dit byna te laat agter gekom. Of: die hoofkarakter
kan dalk hartkloppings ontwikkel vir die grootste rebel in die skool. Hier kom
die vader of moeder (selfs albei ouers) in. Hulle is nie gediend met hierdie romanse
nie. Nog 'n ander verhaal: romanse in die skool, gevorm om een of ander skoolaktiwiteit
soos bv 'n opvoering, sport, of romanse tussen twee hoofsangers in die skoolkoor.
Hier kan jy uitbeeld dat die manlike hoofsanger oor een of ander fratsongeluk
deur jou hoofkarakter vervang word. Die vroulike hoofsanger is duidelik nie gediend
met die onderwyser se keuse nie. Sy hou nie van hom nie en voel dat hy die koor
tot nadeel sal strek by een of ander kompetisie. Jy kan voorhou dat jou hoofkarakter
'n growwe, onaanvaarbare en selfs slierterige karakter is. Hy het wel 'n uitstaande
mooi stem waarvan niemand voorheen bewus was nie. Op grond van die stem is hy
gekies, alhoewel sy klere, haarstyl en karakter die ander in die koor glad nie
aanstaan nie. Met die verloop van die verhaal kan hierdie karakter groei en selfs
verander. Hier kan jy uiting aan jou verbeelding gee. Sien die tonele in jou geestesoog
soos hulle in die leë saal woel en worstel met woorde, handelinge en houdings.
Sien elkeen se gesigsuitdrukkings, word deel van jou hoofkarakter want deur sy
oë sal jy elke ander karakter in hierdie koor sien en in jou verhaal uitbeeld.
Maak net seker dat jy voldoende romantiese spanning kan skep in watter situasie
jy ook al hierdie hoofkarakter plaas. Onthou ook die oplossings vir die romantiese
probleme en moontlike teenstand. 'n
Baie belangrike aspek in die skryf van fiksie vir die jong volwassene is die karaktergroei.
Selfs in die ligste van romantiese fiksie moet die hoofkarakter groei aantoon
en verandering in emosionele volwassenheid plaasvind met die finale oorwinning
van sy/haar geliefde. Identiteit
Die jong volwasse leser is alreeds vasgevang in die penarie van vrae oor wie hy/sy
is en wat hy/sy wil wees. Die soektog na die eie self is die belangrikste rit
van puberteitsjare - en alle jong volwasse lesers wil verbind met die karakters
in hulle leesstof. Hulle wil lees dat hierdie karakters dieselfde probleme ondervind
as wat hulle deurgaan.
Identiteitskrisis is hoofsaaklik gesentreer op vriendskappe en verhoudings gedurende
die puberteitsjare. Dikwels bevraagteken jong volwassenes wie hulle vriende werklik
is en hoe hulle nou eintlik veronderstel is om vrede te maak met hulle ouers en
ander volwassenes se uitkyk en siening op die lewe en verhoudings. Baie belangrik
op hierdie ouderdom: die jong volwassene moet nou hulle eie seksuele ontwikkeling
deurgaan en hulle seksualiteit aanvaar. Dit is 'n baie moeilike stadium vir die
jong volwassene. Al hierdie onderstrominge moet hulle deurgaan, deurwerk, verwerk
en aanvaar. Dus is al hierdie ook baie goeie onderwerpe om te gebruik in fiksie.
Respekteer jou leser: Maak seker dat jou jong volwasse leser se gevoelens
en emosies met respek gehanteer word met die uitbeelding van jou komplot, die
konflik wat jou karakter ondervind en die oplossings tot die probleme. Die algemene
probleme van die jong volwassene soos om nie tot die rugbyspan gekies te word
nie, of nie die netbalspan te haal nie, of nie gekies te word om die hoofrol in
die opvoering te vertolk nie - dit alles is gewoonlik van geen en nul waarde vir
die volwassene, onderwyser en ouer. Selfs hier sal menige jong volwassene baie
keer oordramatiseer. Al voel jy ook dat die puberteitsjare krisis sindroom belaglik
en selfs lagwekkend is, is hierdie tydperk vir die jong volwasse leser 'n saak
van erns. Hulle beskou hierdie gebeurtenisse, probleme en emosies baie keer as
'n saak van lewe en dood. Die hoë selfmoordsyfer van jongmense in hulle puberteitsjare
getuig al te duidelik hiervan. Jy as skrywer kan jou hoofkarakter hier tot voordeel
van die jong volwasse leser gebruik. Weer eens sonder om te dweep, te preek of
voor te sê - deur eenvoudig jou hoofkarakter se doen en late so uit te beeld
dat die oplossings vir hierdie probleme outomaties en duidelik voorkom in die
verhaal. Moet nooit jou jong volwasse leser se intelligensie onderskat, ignoreer
of minag nie. Op
'n meer ernstige trant Natuurlik is daar baie groter en meer
ontstellende gebeurtenisse in die puberteitsjare as om nie na 'n partytjie genooi
te word of om nie vir die koor gekies te word nie. Daar is die harde lewensfeite
van die voorheen ongekende uitdagings van seksualiteit, verdowingsmiddels, drank,
kindermolestering, geweld, wegloop, verwerping, ens. Indien jy verkies om een
of meer van hierdie as onderwerp te gebruik vir fiksie gerig op die jong volwasse
leser, graad ses en ouer, maak voorsiening vir breedvoerige en in diepte navorsing
oor hierdie onderwerpe. Die jong volwasse leser gaan hom/haarself vereenselwig
met jou karakter. Lewensvatbare
veranderinge en lewensgevaarlike situasies vind 'n newebeeld in die jong volwasse
leser. Jong mense, veral meisies, in hulle puberteitsjare, is oorlopend vol van
emosies en hulle soek eenvoudig 'n uitlaatklep om ontslae te raak van hierdie
emosies - selfs al beteken dit trane. Dink terug aan jou jong volwasse lewe en
onthou die verskeie emosionele toestande waardeur jyself gegaan het. Onthou ook
die skryfstof wat jou tot trane gedryf het en selfs jong manlike vriende 'n stewige
knop in die keel besorg het. Al lewe ons nou in 'n meer moderne tydvak moet skrywers
vir die jong volwasse leser nog steeds poog om dieselfde effek en reaksie by hulle
lesers te ontlok. Die karakters moet mekaar soek en vind. Die skrywer is in elke
karakter en elke karakter is die skrywer. Hierdie siel reflekteer in die leser
en die leser word meegesleur deur elke karakter - die ontwikkeling, groei, belewenisse,
ondervindinge en emosies van elke karakter. Identiteit
Die jong volwasse leser se gedagtes en emosies is in 'n warboel oor wie en wat
hulle is en wie en wat hulle wil wees. Hierdie soeke na hulle eie self is die
belangrikste tog van hulle hele puberteitslewe en hierdie jong mense wil verhale
lees waar die karakters dieselfde probleme en emosies ondervind as hulself en
ook die oplossings voor die hand bring. Wat
ook baie byval vind in hedendaagse leesstof, is verhale waar die karakters te
doen het met kanker, jong kinders wat sterf aan vigs, of ongeluksgevalle waar
die karakter uitgebeeld word as 'n skenker of 'n ontvanger van 'n orgaan - die
beskrywings in hierdie verhale pertinent, uitdruklik beskrywend, menslik en emosioneel
- om die leser ook duidelik te laat verstaan dat saam met al die seer daar weer
lag, lewe en liefde kan wees. Hierdie verhaalrigtings leer die jong volwasse leser
dat dit normaal en aanvaarbaar is om gedurende die puberteitsjare hierdie verskillende
emosies deur te gaan. Dit leer hulle, sonder sedepreke en neulery dat hulle wel
tog normaal en aanvaarbaar is al gaan hulle deur hierdie stadium van hulle lewe.
Dit leer ook die volwasse leser dat sy of haar kind deur 'n normale lewensfase
gaan en herinner die ouer daaraan dat hy/sy deur presies dieselfde stadium gegaan
het, al poog so baie van die volwasse lesers om hierdie erkenning te vermy. Onthou
julle almal die eerste keer wat julle Romeo en Juliet gaan kyk of gelees het en
met julle jong vriende bespreek het? Kan jy onthou hoe oud jy was? En hoe jy gevoel
het? Onnodig om verder uit te brei. Hierdie
vorm van fiksie gee aan die jong volwasse leser die ideale geleentheid om verskeie
situasies te ondervind en te beleef vanaf 'n veilige distansie. Op 'n manier word
hulle geleer om dit waarvoor enige mens die bangste is - die dood - te leer ken
in die veiligheid van die geskrewe woord op die bladsye van 'n boek. Korrekte
en in diepte navorsing - uitermate belangrik vir enige fiksie: As jy beplan
om fiksie aan te pak wat in hierdie kategorie val, moet jy jou onderwerp noukeurig
kies. Doen jou navorsing op die onderwerp, self al moet jy met spesialiste op
die gebied van jou gekose onderwerp kommunikeer. Moet nie die fout maak om jou
navorsing net op die internet te baseer nie. Baie keer kry jy nie die korrekte
en in diepte kennis aangaande die onderwerp op hierdie manier nie. Nadat
jy jou navorsing en voordat jy jou werk voltooi het, sit en gee eerlike oorweging
aan hoe jou onderwerp jou leser gaan en kan affekteer. Byvoorbeeld: selfmoord
onder jongmense. Hierdie, ligweg gestel, lyk asof dit 'n baie eenvoudige en redelik
maklik oordraagbare onderwerp sal wees vir die jong volwasse leser. Doen nou jou
navorsing en krap dieper. Jy sal vind dat nadat die media oor 'n selfmoordgeval
van jongmense berig het, die statistiek t.o.v. selfmoord van jeugdiges styg. Op
dieselfde trant is dit moeilik en baie gewaagd om 'n verhaal te skryf oor anoreksie
of bulimie want hier sal jy as skrywer presies moet verduidelik waaroor hierdie
siekte gaan en wat dit veroorsaak. Baie gevaarlike leesstof, veral vir die jong
volwasse leser. Jong volwasse lesers sal hierdie soort van fiksie in 'n mate slaafs
navolg want watter jong dame wil nie 'n baie slanke liggaamsbou hê nie?
Hulle sal hierdie as 'n baie maklike metode beskou, selfs aanvaarbaar, want daar
word dan fiksie hieroor geskryf. Dit is hoekom jy wat skrywer is die onderwerp
van jou verhaal noukeurig en oordeelkundig moet kies. Jy is dit aan jou leser
verskuldig. Baie
belangrik met die lewering van fiksie vir hierdie afdeling: Oorweeg presies
hoe jy die onderwerp en jou hoofkarakter bymekaar gaan bring. Sal die siekte of
die situasie jou hoofkarakter self affekteer, of sal dit 'n geliefde, 'n vriend,
'n kind of 'n ouer van jou hoofkarakter affekteer? Daar is baie moontlikhede,
so besluit vooraf presies wat die verloop van jou verhaal gaan wees eerdat jy
begin. Ook, hoe dit jou leser gaan beïnvloed. e.t. |