| Onthou,
dit is oor die algemeen volwassenes wat die boeke kies en koop. Hulle besluite
berus op aanbevelings deur 'n winkeleienaar, biblioteek, onderwyser, vriend of
net omdat hulle van die prentjies hou, 'n spesiale onderwerp soek of eenvoudig
net om een of ander gebeurtenis te herdenk, bv. verjaardag, vakansie
Hou
in gedagte dat volwassenes en kinders oor die algemeen saam aan prenteboeke lees.
Die storie moet dus ook 'n 'ingeboude' aantrekkingskrag besit vir die volwassene
- al is dit slegs in 'n mate 'n herinnering aan sy eie kinderdae, 'n tikkie sentiment
of 'n titseltjie aanraking aan moraliteit. Dit
is die storie in totaal - nie die individuele woorde wat miskien tog 'n bietjie
gesofistikeerd kan wees - wat die deurslag moet gee en vir die kind aanvaarbaar
en verstaanbaar moet wees. Hierdie konsep sal meer verstaanbaar wees as dit in
twee gedeel word: Eerstens moet die storie beginsels bevat wat die volwassene
sal aantrek en tweedens moet dit beginsels bevat wat die jong lesertjie sal aantrek.
Ideaal moet hierdie twee só bymekaar gebring en gemeng word dat nie die
volwassene of die jong lesertjie die onderskeid sal agterkom nie. Prenteboeke
as leerstof: Onderwysers
en bibliotekaresses moet nie as tweederangse lesers van prenteboeke beskou word
nie. Die gebruik van prenteboeke vir opleiding in skole en kleuterskole word die
afgelope jare sterk aanbeveel. Waar moontlik is skole en openbare biblioteke besig
om 'n uitgebreide afdeling van verskeidenheid prenteboeke te bou. Aan te beveel
is prenteboeke wat leerstof subtiel oordra. Die geheim
subtiel. Prenteboeke
moet sagkens leersaam wees, sonder dat dit is asof die volwasse of jong leser
met 'n hamer oor die kop geslaan word oor die morele reg en verkeerd of 'n vrag
informasie. Prenteboeke
is die unieke kombinasie tussen die kunstige prent en gesoute woord - hierdie
skryfstyl verlang dat gekonsentreerde aandag geskenk moet word aan die storie,
taal, die 'stem' van die verhaal en die sketse. Elke greintjie besonderheid van
die prenteboek is van uiterste belang. Humor
- die lekker lag
Die eerste leesstof vir kinders was meer didakties as lagsaam, leersaam en ontspannend.
Die boeke was ingestel op die volwassene skrywer se siening oor hóé
volwassenes die kinderlewe sien en verkies. Dit was uit en uit bedoel om die kind
op 'n skerp manier te leer sowel as morele lesse te bied. Lewis Carroll se Alice's
Adventures In Wonderland wat in 1865 gepubliseer is, is bv. uitgekryt as 'nonsens'
en 'onaanvaarbaar' vir kinders. Die
siening van uitgewers, ouers en onderwysers het die afgelope jare verander. Humor
speel 'n baie belangrike rol speel in die leesstof van jong lesers. Die jare het
bewys dat boeke kinders en jong mense leer om te droom, te dink en te lag sonder
dat daar 'n pertinente les op elke bladsy moet wees. Kindersielkundiges
deel humor in vier algemene afdelings: fisiese humor - om te lag; 'n situasie
se humor raak te sien; die humor wat te vind is in die gebruik van woorde en die
humor van 'n karakter. Die eerste twee afdelings is minder gesofistikeerd as die
laaste twee. Al vier afdelings kan suksesvol in kinderboeke vir alle ouderdomsgroepe
gebruik word. Die suksesvolste kinderboeke vat die lesertjie deur al die trappe
van lag. Fisiese
humor kan enigiets wees vanaf hansworstery en dolle klug vir jong lesers (soos
'n lomp eend of hasie of bysiende skilpad) of 'n karakter wat buitensporig aantrek
vir die middegrade of jong volwasse leser. Die ouer leser verkies 'n meer verbale
of denkende humorstyl. Humor in situasie-beskrywing mag blatant duidelik wees.
Humoristiese uitbeelding vir die ouer kind kan nader aan die werklike lewe wees
en gebaseer word op eie ondervindinge. Humor
waarby die speling van woorde betrokke is, oorbrug ouderdomsfases. Die lag kan
wees in die eerste rympies vir die jongstes, die uitklophou vir die 7-10-jarige
ouderdomsgroep, die makietie van die 10-14-jariges, of in die sinspeling vir die
jong volwassene. Die
humor en lag in die karakter self is een van die moeilikste vorms van humor wat
die skrywer moet ontwikkel. Onthou, die jong leser hou daarvan om 'ouer as die
karakter te voel'. Die lesertjie wil verlig wees dat hy ouer geword het as die
karakter wat 'n jonger weergawe van homself voorstel. Die humoristiese karaktertjies
in die boeke se handelinge en optredes is gewoonlik van so 'n aard wat onaanvaarbaar
is in die werklike lewe. Wenk Nie
alle volwassenes kan presies onthou wat hulle as snaaks en lagwekkend gevind het
as kind nie. Die beste is om navorsing te doen. Luister na die jong mense en kindertjies
as hulle met mekaar praat en gesels. Onthou hulle gesig en woordelikse uitdrukkings.
Maak notas van hulle sê-goed, die manier van sê en gesels. Verwyl
tyd in die parkie of speelgroep. Vra 'n onderwyseres of jy 'n dag of drie in haar
klas kan deurbring as toeskouer. Maak bandopnames van kinders sonder dat hulle
dit agterkom. As jy dit openlik gaan doen sal die kinders teruggetrokke raak en
nie natuurlik reageer, praat en handel nie. Vra die bibliotekaresse watter boeke
word die meeste deur die jong lesers uitgeneem en lees dit. Wanneer jy twyfel,
maak die humor van jou boek eerder 'n bietjie meer gekompliseerd as meer eenvoudig.
Die jong leser se sin vir humor ontwikkel baie vinniger as wat die volwassene
hom eer voor gee. 'n Twaalfjarige leser sal dit as uitermate beledigend beskou
as sy leesstof deurtrek is met klop-klop grappe. Humor
beteken lag. Lag beteken plesier en geniet. 'n Boek daarsonder sal nie waardeer
word nie. Bly
onsigbaar Onthou:-
Jy, die skrywer moet ten alle tye onsigbaar bly sodat jou leser homself in jou
storie kan verdiep en deel word daarvan. Jy kan die leser vertel en wys
wat gelyktydig op verskeie plekke gebeur, maar onthou dat jy nie met hierdie metode
ná aan enige van jou karakters gaan kom of hulle gedagtes sal kan lees
nie. Hierdie is 'n goeie manier om 'n hoofstuk te begin en die opening van 'n
toneel só oombliklik vas te vang. Maar ná die eerste twee paragrawe
moet jy uitswaai na die siening en storie wat om jou hoofkarakter draai.
Die hele verhaal van die boek kan nie alwetend voorgestel word nie. Dit sal verhoed
dat die leser met enige van die karakters kan vereenselwig of sal kan agterkom
wie nou eintlik die hoofkarakter in jou verhaal is. Oor die algemeen
bevat prenteboeke een hoofkaraktertjie, maar jong volwassene fiksie kan tot drie
hoofkarakters bevat, elkeen in beheer van sy eie beeld, siening en storie. Hier
is dit aan te beveel dat elkeen sy eie hoofstuk verdien. Hierdie proses is moeilik
om toe te pas in die prenteboeke en leesstof vir die jongere leser, tensy elke
karaktertjie 'n verskillende rol in die storie speel en jy 'n uitstekende skrywer
is om hierdie karakters van mekaar te skei, dog bymekaar te hou in 'n gesamentlike
konsep. e.t. |