|
Lank voordat ons die woorde
op papier neerpen "sien" ons die storie al in ons gedagtes. Ons weet
hoe ons karakters hulle gaan gedra, want alreeds weet ons alles van die karakters
se verlede en is in beheer van die karakters se toekoms. Ons ken en verstaan die
belang van elke gebeurtenis in die verhaal. Al wat jy nou moet doen is om jou
leser te vertel. Suksesvolle
fiksie is afhanklik van logiese oorsprong en effektiewe oorsetting, vertolking
en oordrag van die konsep/idee/storie as 'n geheel. In die werklike lewe gebeur
niks asof dit in 'n kokon gehul is nie. Emosie is 'n natuurlike reaksie op enige
gebeurtenis en aksie die opvolg op reaksie. Hierdie is 'n integrale deel van suksesvolle
fiksie. Drie belangrike
punte waar oorsprong en effek van uiterste belang is:- Die
Hoofkarakter: Die hele konsep van jou verhaal spruit uit jou hoofkarakter.
Dit maak hierdie karakter dan ook die mees ontwikkelde en meerdoelig-dimensionele
persoon van jou verhaal. Deurdat jou hoofkarakter probleme ondervind, konflik
moet hanteer, soekend is na iets wat vir hom van belang is, of 'n kombinasie van
al hierdie, maak dit jou verhaal interessant en aanvaarbaar vir die leser. Jou
leser moet glo dat die probleme wat jou karakter ondervind belangrik is. Soveel
te beter as die probleme voorkom asof dit wel daar was voordat die verhaal nog
begin het. Jy moet uitbeeld hoekom dit van soveel belang is vir jou karakter.
Dit is deel van die prentjie wat jou leser van jou karakter vorm en hierdie prentjie
moet jy met die verloop van die verhaal laat verander. Dit sal jou karakter baie
aanvaarbaar maak vir jou leser - asof die karakter 'n vriend word.
Hierdie verskillende aspekte van karakter-uitbeelding is baie belangrik en die
basis hiervan geskied al op die eerste bladsy van die boek. Aangesien jy die verhaal
met aksie wil begin en so die aandag vasvang en behou, het jy nie veel tyd vir
die opstel van jou karakter se motivering nie. Die konflik en probleme van die
verhaal kan ontvou soos die storie ontsluit. Dit is belangrik dat die agtergrond
van die verhaal binne die eerste bladsy geskep word. Dit is jou karakter se drasak
wat hy gaan uitpak en deursoek in die verloop van die verhaal. Die verhaal sal
nie waar en effektief oorkom as hierdie drasak eers op 'n later stadium aan die
leser voorgestel word nie. Die
intrige/komplot struktuur:- Elke voorval in die boek of toneel wat
jy skep moet logies volg of inskakel by die voorafgaande voorvalle of tonele.
Met die begin van elke hoofstuk moet jy jouself afvra of jy alreeds jou grondslag
vir hierdie hoofstuk in die voorafgaande tonele geskep het. Moenie die konsep
van jou verhaal manipuleer sodat die storie 'n gemaklike einde bereik nie. As
komplot so swaai en onverwags in 'n onbeplande rigting draai, gaan terug op die
voorafgaande gebeurtenisse in die verhaal en maak seker dat die nuwe wending by
die vorige inpas en sin sal maak vir jou leser. Elke hoogtepunt, oomblik van spanning,
opgewondenheid of inspanning moet 'n direkte gevolg wees van 'n gebeurtenis in
'n voorafgaande toneel of voorval. Die
oplossing, ontbinding en afsluiting:- Soos wat die verhaal met logiese
oorsprong effektief ontvou het moet dit onvermydelike oplossings voortbring vir
die ontbinding en afsluiting van die boek. Wie jou karakter is, hoe die karakter
begin en verander gedurende die verhaal, sy reaksie en die manier waarop hy die
konflik en probleme wat hy ondervind hanteer, selfs die vriende wat hy het en
maak in die verhaal - dit alles moet slegs een gevolgtrekking en slot bring. Die
leser moet aan die einde kan terugkyk en van begin tot einde van die storie oortuig
wees dat dit die enigste logiese oplossing is. Die oplossing, ontbinding en afsluiting
van die storie sal met genoegdoening aanvaarbaar wees as die voorafgaande verhaal
logies, oorspronklik, effektief en oortuigend oorgedra is. As 'n karakter eers
in die laaste hoofstuk voorgestel word as die een wat die sleutel tot die oplossing
van die konflik en probleme van die verhaal hou, sal hierdie karakter nie water
trek by die leser nie. Dit sal die logiese en oorspronklike effek van die verhaal
skaad. Die skryf
van fiksie is presies soos om 'n huis te bou. Die fondasie moet sterk en kragtig
wees. Elke brokkie van die verhaal moet soos 'n baksteen stewig vasgemessel
wees op die fondasie van die verhaal. As die fondasie wankelrig is sal die verhaal
in duie stort. As die een muur van die verhaal sterker en hoër gebou word
as die ander, sal die uiteinde, die logiese, oplossing, ontbinding en afsluiting
van die storie skeef, krom en oneffektief hang. Deeltjies
en gedeeltes van die storie vorm die verhaal as geheel. Elke afdeling, woord,
sin en toneel vorm die soliede basis wat die huis van jou storie is. e.t. |