| Goeie
fiksie begin met karakters. Karakters vorm die storie, is die sentrale fokuspunt,
beheer die verhaal, maak die draaie en swaaie en vind die oplossings en afsluiting
van die verhaal. 'n
Algemene fout wat gemaak word is deur eers die verhaal te ontwerp en voor te stel
en agterna die eendimensionele karakters in te dompel en rond te skuif van een
punt tot die volgende. Die resultaat is 'n verhaal en storie sonder emosie, beplanning,
rigting en totaal smaakloos - plat soos 'n pannekoek sonder suiker en kaneel!
Nie eers beskrywings en vertellinge van die wonderlikste avonture sal die leser
se aandag trek en behou as daar nie gelet word op die sorg en emosies van die
karakters nie. Die
idees vir die storie, die tema en boodskap wat jy wil oordra, selfs die besonderhede
van die komplot is baie keer die eerste wat kop uitsteek in jou gedagtes.
Moet nie wegtrek en begin skryf nie. Gebruik eers die tyd om jou karakters
te bou en ontwikkel na gelang van die idee van die storie. Kyk dan of die besonderhede
van die komplot, die tema en die boodskap by die karakter wat jy gebou het inpas.
Onthou, die karakter beheer die storie, nie die storie die karakter nie. Op
'n aparte bladsy in die fynste besonderhede moet jy die karakter aan jouself beskryf.
Beskryf volledig hoe hy lyk, tot hoe hy sy hande gebruik en beduie, sy arms swaai
wanneer hy beweeg, gesigsuitdrukkings wanneer hy stil raak, praat, sing, alles
wat hy doen; sy persoonlike smaak, afsin en weersin. Verbeel jou dat jou karakter
is 'n mens met menslike emosies, reaksies en gevoelens. Krap
diep in jou karakter. Wat is jou karakter se grootste liefde en waarvoor is
hy die bangste? Sy benoudste nagmerrie en wat het hy bereik waarop hy baie trots
is? Hierdie analisering, herkenning en erkenning van jou karakters is baie belangrik.
Selfs al handel jou verhaal oor diere. Elkeen het 'n karakter met uitsluitlike
karaktertrekke. Leer ken hierdie karaktertrekke in die fynste besonderhede en
word deel van die karakter. Jy vind die stereotipe karakter alom bekend en vervelig
- jou leser ook. Wanneer
jy en jou karakter onafskeidbaar voel in jou gedagtes is dit tyd dat om die konflik
en probleme wat die karakter gaan teëkom en moet hanteer na vore te bring.
Die manier waarop jou karakter hierdie probleme en konflik gaan hanteer gaan afhang
van die soort en sterkte van die karakter wat jy geskep het. Dit is hoekom die
analisering, herkenning en erkenning van jou karakters van uiterste belang is.
Dit vorm die onwrikbare agtergrond van jou karakter. Jou hoofkarakter is verantwoordelik
vir die slotsom en afsluiting van die verhaal. Hierdie slotsom en afsluiting is
afhangende van die effektiewe unieke krag en swakhede van die karakter. Hierdie
is 'n ligtelike beskrywing van die totale omvang van jou verhaal. Onderliggend
hieraan is die tema van die verhaal en die boodskap. Die tema word nie
pertinent gestel aan die leser nie, dog moet dit duidelik deurgegee word deur
die handelinge van die hoofkarakter en hoe hy verander met die verloop van die
verhaal. Daar is baie temas om oor te skryf, maar feit is, byna almal is al op
een of ander stadium gebruik. Wat die verskil maak is: wat jou tema en werk sal
laat uitstaan is jou karakters en hoe jou karakters jou verhaal aan die leser
gaan oordra. Hoe meer oorspronklik jou karakters is, hoe meer oorspronklik gaan
jou tema en verhaal wees. Hierdie is alleenlik moontlik met die in diepte analisering,
herkenning en erkenning van jouself teenoor die karakters wat jy skep. Presies
dieselfde konsep moet gebruik word in enige en alle ander karakters wat jy gebruik
en beskryf. Alhoewel jy nie soveel in diepte beskrywings van hierdie karakters
gaan deurgee aan die leser nie, gaan jy wel menige karaktertrekke en eienskappe
gebruik om ook hierdie karakters uniek te maak in jou verhaal. Op hierdie manier
bou en behou al jou karakters hul eie persoonlikheid en die tweederangse of sub-karakters
sal nie verlore raak in die agtergrond van die verhaal nie. Met
die skryf van kortverhale, prenteboeke en 'maklike lesers' word daar merendeels
gefokus op een of twee aspekte van die hoofkarakter se persoonlikheid. Miskien
is hy bang vir die donkerte, het 'n uitstekende sin vir humor, is 'n groot terggees,
of miskien is hy 'n avonturier. Hoofstukboeke, middelgraad en jong volwassene
boeke het meer gekompliseerde temas. Hier is 'n meer indiepte dimensionele verkenning
van die karakter te sprake Met
die gebruik en beskrywing van sub-temas en komplotte wat inskakel by die hooftema
en komplot moet die karakter dus ook die minder ernstige probleme en komplikasies
wat ook by die hoof probleme en komplikasies aanpas, oplos. In die fiksie vir
die leser van hoofstukboeke tot die jong volwassene is die karakters min of meer
van dieselfde ouderdomsgroep of 'n jaar of twee ouer as die leser. Prenteboeke
se karakters is enige ouderdomsgroep, solank as wat die konflik in die verhaal
verstaanbaar is vir die ouderdomsgroepe tussen 4-8-jaar. Die hoofkarakter moet
ook 'n kinderlike blik op die lewe hê. Onthou dat jou karakter, of dit 'n
kind of 'n dier is, konstant moet bly en wees met die oorspronklike karakter wat
jy geskep het. Hier moet die karakter die konflik, probleme en komplikasies hanteer
op dieselfde vlak as wat die karakter geskep is. Nie deur die gebruik van kennis
en ondervinding wat oorspronklik nie deel gevorm het van die karakter nie. Ook
nie omdat dit gemaklik is om op hierdie manier in te skakel by die komplot nie. Laat
jou karakter die rigting en uiteinde van die storie bepaal. Wanneer
jou karakter lewe kry mag jy dalk net vind dat die storie 'n rigting inslaan wat
jy nooit voorheen bepaal of beplan het nie. Laat dit toe. As jou karakters gebaseer
is op werklike emosies en gevoelens, sal die verhaal betroubaar en aanvaarbaar
wees - en jou karakters jou na hoogtes neem wat jy nooit gedroom het moontlik
is nie. e.t. |