|
|
| Bernie
soek 'n blom | Marianna
Brandt | 'n
Storie oor Bernie die waaierbytjie | Bernie
is 'n waaierbytjie. Sy werk is om die nes koel te hou. Sy vlerke is al so moeg
van op en af waai. "Ek
wens ek was 'n verkennerbytjie," kla hy elke dag, "dan sal ek ver wegvlieg van
die nes af en baie mooi plekke sien." "Dis
nie so maklik nie," vertel die verkennerbytjies, "Jy moet jou eie nektarblom soek.
Dis harde werk." "Ja,
daar is nie meer een blom in die tuin oor nie," vertel 'n ander verkennerbytjie.
Een
oggend besluit Bernie om sommer net weg te vlieg. Hy vlieg oor geel grasvelde
en hoë groen bome. Hy sien nie een blom nie. Later vlieg hy oor 'n rivier met
koel water en besluit om eers 'n bietjie te rus. Hy gaan sit op 'n grashalm. Toe
sien hy vir Spring-Hopper, 'n groen springkaan. "Spring-Hopper,
kan jy my sê waar ek nektar kan kry," vra Bernie. "As
ek geweet het Bernie, het ek nie nou hier rondgevlieg nie," sê Spring-Hopper en
vlieg weg. Bernie
sien vir Torrie, die tor en vra hom. "Nee
my vriend, my nektarpot is my geheim," sê Torrie en vlieg vinnig weg. Bernie
besluit om maar self te gaan soek. Hy vlieg baie ver en toe toe sien hy 'n blou
berg. Hy vlieg reguit na die berg toe. Toe hy op die berg kom hoor hy skielik
die mooiste musiek. Hy vlieg stadiger en stadiger terwyl hy luister. Dan hoor
hy:
"Bernie by,
Bernie by, Kom
na my, kom na my. Hier
in my kelkie, sal
jy die lekkerste nektar kry." Bernie
luister weer en weer. Terwyl
hy nog so luister na die mooi musiek, kom 'n sterk wind en waai hom oor die berg.
Die wind tol hom in die rondte en ruk aan sy vlerke en hy kan niks voor hom sien
nie. Toe hy
weer sy oë oopmaak, kan hy nie glo wat hy sien nie. "Blomme!"
roep hy verbaas uit. Hy
sien 'n veld met die mooiste blomme. Oranje, geel, pers en pienk blomme. Hy hoor
weer die liedjie. Dit kom van die blomme af. "Hulle
roep my! Hulle roep my!" sê Bernie, klap sy vlerke en vlieg reguit na hulle toe.
Hy gaan sit
op 'n oranje blom. Sy poot gly skielik op die gladde blaar en toe val hy in die
diep donker kelk van die blom in af. "Help!
Help!" skree hy. Toe
hy sy oë oopmaak sien hy 'n goue deurtjie, net soos die kleur van heuning en hy
hoor weer die liedjie. Skielik
gaan die deurtjie oop en 'n pragtige jong vrou staan daar. Sy het lang goue hare
en op haar kop skitter 'n kroon van doudruppels. "Ek
is so bly jy het die lied van my blomme gehoor," sê sy en nooi hom binne.
"Maar..e..waar
is ek nou?" vra Bernie benoud. "Ek
is die Nektarkoningin en jy liewe Bernie is in die grootste nektarkelk in die
hele blommewêreld," sê sy.
Bernie is verstom.
"Kom saam
met my," nooi die Nektarkoningin. Bernie
stap saam met haar in 'n nou gangetjie af en skielik kom hulle in 'n groot kamer.
Langs die mure staan groot potte, so baie te veel om te tel. "Sien
jy daardie potte? Dit is vol van die soetste nektar. Jy kan gaan proe," nooi die
Nektarkoningin. Bernie
neem voelers vol van die nektar. So soet het hy nog nooit geproe nie. Hy kan nie
ophou eet nie. Die
Nektarkoningin lag. "Bernie,
jy kan soveel as wat jy wil van daardie nektar na jou byenes neem. Ek wil in ruil
daarvoor vir jou 'n guns vra," sê sy. "'n
Guns?" vra Bernie. "Ja,
Bernie. Ek wil jou vra om gereeld van ons stuifmeel na daardie berge waar jy die
lied van die blomme gehoor het, te neem. As jy mooi kyk sal jy blomme daar sien.
Maar hulle is baie min en kan heeltemal verdwyn as ons nie iets doen nie," sê
die Nektarkoningin. "Ja,
ja..ek sal," sê Bernie vinnig. "Ek sal dit dadelik doen." Bernie
kan nie glo wat met hom gebeur nie. Hy is nie meer 'n waaierbytjie nie. Hy het
nou sy eie blom gekry. Hy
drink sy maag vol van die soet nektar en maak die stuifmeelsakkies aan sy agterpote
vol stuifmeel. Toe groet hy die vriendelike Nektarkoningin. Hy
vlieg na die berge waar hy die lied van die blomme gehoor het. Toe hy laag vlieg
oor die veld sien hy die blomme en vlieg van blom tot blom en laai stuifmeel af
tot sy stuifmeelsakkies dolleeg is. Terug na die byenes besluit Bernie om
vir niemand sy geheim te vertel nie. "Waar
was jy?" wil die verkennerbytjies weet toe hy by die nes aankom. "Ek
het gaan kyk of ek nie 'n nektarblom kan kry nie," sê hy. "Bernie,
jy kan maar ophou soek. Daar is nie een blom in die tuin en vallei oor nie," sê
een van die verkennerbytjies. Elke
dag glip Bernie van die nes af weg en vlieg oor die berge na die blom van die
Nektarkoningin. Hy maak sy stuifmeelsakkies vol en drink sy maag vol soet nektar
en dan vlieg hy na die blomme om die stuifmeel af te laai. Die
veld word mooier en mooier. Een
oggend kom 'n baie sterk wind op en waai die byenes uitmekaar. "Die
hele nektarstoor is verwoes! Die Koningin se lewe is in gevaar!" zoem die bye
bekommerd. "Daar
is nie kos vir die bababytjies nie," zoem 'n paar ander bye. Die werkerbye
en verkennerbye weet nie wat om te doen nie. Hulle vlieg heen en weer en dink.
"Iets moet
ons doen. Iets moet ons doen," zoem die werkerbye. "Ek
het 'n plan. Ek het 'n plan," zoem Bernie, "Vlieg net agter my aan." Die
werker en verkennerbye vlieg agter Bernie aan. "Wat
weet hy tog? Wat weet hy tog?" zoem die werkerbye terwyl hulle agter Bernie aan
vlieg. "Hy
is net 'n waaierby. Wat kan hy ons leer?" zoem die verkennerbye. Bernie
dans die byedans om vir die bye die pad te wys. Hulle vlieg oor die geel grasvelde
en hoë groen bome en toe sien hulle die berg. Toe hulle op die berg kom sê Bernie:
"Luister na die lied. Luister na die lied!" Die
bye vlieg stadiger en toe hoor hulle ook die lied van die blomme. Skielik sien
hulle die vallei met die mooiste blomme. Bernie
vlieg vooruit en trots wys hy hulle die blomme wat hy met stuifmeel gehelp het.
Sommer gou maak die werkerbye en verkennerbye hulle mae vol nektar en vlieg weer
agter Bernie aan terug na die byenes. Die
Koningin is baie bly toe sy hoor van die nektar wat hulle so gou bymekaar gemaak
het. "Ek
wil julle verkennerbye bedank vir julle harde werk," sê sy. Toe zoem die
verkenner en werkerbye: "Dis Bernie, U Hoogheid. Hy het ons na die grootste blomtuin
geneem wat ons nog gesien het." "Bernie…my
waaierby?" vra die Koningin verbaas. "Ja,
U Hoogheid," zoem Bernie. "Ek
dink ons moet feesvier. Bernie het ons byenes gered," sê die Koningin. Op
die feesaand proe die Koningin van die soet nektar. "Bernie,
van vanaand af is jy 'n verkennerby," sê die Koningin en hang 'n lint om sy nek
met die medalje vir verkennerbye. Die
bye zoem en kom wens hom geluk. Van
daardie dag af sing Bernie sy eie liedjie: "Ek
is Bernie by. Ek is Bernie by. Die
beste verkennerby wat julle kan kry!"
|  |
 |
Kopiereg
Marianna Brandt Die
storie is geskryf deur tannie Marianna Brandt. Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za
|
|