Werner Weideman
het 'n maat wat niemand anders nog ooit gesien het nie.
Sy
naam is Dingemalêrie.
Dingemalêrie
woon in die ou parkie met die hoë bome oorkant die straat en
hy is altyd bly om Werner te sien. Werner is net so bly om vir Dingemalêrie
te sien, want hy mag nie maats in sy kamer kry nie. Sy
ma sê hulle sal sy kamer deurmekaar maak. En mevrou Saar, wat
elke dat die huis kom skoonmaak, sê hulle sal sommer die hele
huis deurmekaar maak. Sy pa sê hulle maak dalk die tuin en die
motorhuis ook deurmekaar.
Smiddae
ná skool kan Werner nie wag om by Dingemalêrie te gaan
speel nie. Hy eet sommer gou-gou sy middagete en doen so gou soos
nou sy huiswerk en dan sluip hy in die gang af en uit by die voordeur,
en...
"Werner
Weideman, waar dink jy gaan jy heen?"
Ag,
toggie! Mevrou Saar het hom gesien.
"Jou
kamer lyk soos 'n varkhok," raas mevrou Saar. "Ek bel sommer
die Burgemeester dat hy die koerant kan vra om 'n foto te kom neem.
Dan kan die hele dorp sien hoe deurmekaar jou kamer is."
Werner gaan pak sy kamer reg so vinnig as wat hy kan. Hy maak sy lego's
bymekaar en gooi hulle in 'n boks. Hy tel sy slaapklere van die vloer
af op en druk sy boeke in die rak.
En
toe hardloop hy gou-gou parkie toe.
Dingemalêrie
wag vir Werner op 'n swaai. "Wiebl, wiebl," sê hy
toe hy vir Werner sien.
Werner
tel hom op en gaan sit op die swaai. Hy en Dingemaêrie swaai
hoog en ver. En toe gaan draai hulle op die rondomtalie.
"Wieblllllll,"
lag Dingemalêrie van die lekkerte. Skrrie-e-ek! skree die rondomtalie.
Toe
dit begin laat word, sit Werner Dingemalêrie op die grond neer
"Gaan
klim in jou boom, Dingemalêrie," sê hy. "Ek
moet nou huis toe gaan."
"Waar was jy die hele middag, Werner?" vra sy ma toe
hulle daardie aand aan tafel sit.
"Ek
het met Dingemalêrie in die parkie gaan speel," sê
Werner.
"Jy
met jou stories oor Ding... Dingemal-dinges," frons sy pa.
"Hoekom
speel jy nie liewer met jou nuwe rekenaarspeletjie nie?" wil
sy ma weet.
"Maar
dis lekkerder om met Dingemalêrie te speel," sê
Werner. "In my kamer is daar niemand wat saam met my speel
nie."
"Mevrou
Saar kla dat jou kamer soos 'n varkhok lyk," sê sy pa
streng. "Vir die volgende week bly jy smiddae in die huis.
Jy mag nie parkie toe gaan nie. Miskien sal dit jou help om te onthou
om jou kamer reg te pak."
"Maar..."
begin Werner.
"Niks
ge-maar nie," sê sy ma. "Jy's gehok en dis klaar.
Jou kamer lyk naar. Daar sal nog eendag vreemde goed onder jou bed
uitbroei, as jy nie oppas nie."
"Ja,"
sê sy pa. "'n Vreemde spesie, vir al wat ons weet."
*
|