Vir een hele week
kan Werner nie by Dingemalêrie gaan speel nie.
Elke
middag wanneer hy van die skool af kom, moet hy reguit huis toe gaan.
En wanneer hy klaar geëet het, moet hy kamer toe gaan om sy huiswerk
te doen en reg te pak.
Die
derde middag sien Werner dat daar 'n groot doenigheid in die parkie
is. 'n Paar mans met geel oorpakke is besig om een van die groot bome
in die parkie af te saag. Werner sit in sy kamer en kyk deur sy venster
hoe hulle die saag laat brul en die boom met 'n groot gekraak op die
gras laat val. En toe begin hulle om die boom in stukke op te saag
en op 'n groot vragmotor se bak te laai.
Ai,
toggie, dink Werner benoud. Netnou saag hulle Dingemalêrie se
boom ook af!
Sê-nou
net een van die mans trap op Dingemalêrie? Of 'n boom val op
hom? Of hulle ry met die vragmotor bo-oor hom?
Terwyl
Saar in die kombuis besig is, hardloop hy gou-gou na die man wat die
vragmotor bestuur.
"Hoekom
saag julle die bome af?" vra hy.
"Hier
gaan nuwe kantore vir die Burgemeester gebou word," verduidelik
die man. "Die parkie moet afgebreek word en die bome moet afgesaag
word."
"O,
nee, asseblief! Julle moenie die parkie afbreek nie. Ek speel daar,"
soebat Werner.
"Gaan
huis toe, seun," sê die man. "Dis nie meer 'n plek
vir kinders nie. Jy gaan net seerkry hier."
Daardie middag wil Werner nie sy spaghetti en maalvleis eet nie.
"Wat
is verkeerd, Werner?" wil mevrou Saar weet.
"Hulle
gaan die parkie afbreek," sê Werner.
"Dis
goed," sê mevrou Saar. "Dan kan jy elke dag by die
huis bly en jou kamer regpak."
Toe
Werner se ma van die werk af kom, kom kyk sy na sy kamer.
"Jou
kamer is mooi netjies, my groot seun," prys sy hom. "Jy
mag maar weer parkie toe gaan."
Werner
hardloop so vinnig as wat sy bene hom kan dra parkie toe. Toe hy
daar kom, sien hy dat Dingemalêrie se boom weg is.
Dingemalêrie
is ook weg.
Werner
soek oral - op die swaai en by die wipplank en die glyplank en die
rondomtalie.
"Dingemalêrie!"
roep hy.
"Wiebl,"
antwoord Dingemalêrie uit die vullisdrom.
Werner
gaan haal hom dadelik daar uit. Dingemalêrie bewe vreeslik
van die bang.
"Arme
Dingemalêrie," sê Werner. Hy steek hom in sy hemp
weg en neem hom saam na sy kamer. Hy maak vir hom 'n warm lêplekkie
langs sy kussing.
|