2015-06

jongklomp
haasbekkies


Die Drie en die leeubaba
An-Mari Fouché
Deel 2

Timmie ry vinnig met sy fiets deur die woud, met die leeubaba voor in die mandjie en sy rugsak op sy rug. Toe hy net buite die woud is, hoor hy iemand sy naam roep. Dis sy beste vriend, Gerrie die kameelperd. Timmie draai sy fiets en stop langs Gerrie waar hy by ’n doringboom staan en blare eet.

“Waarnatoe is jy oppad?” vra Gerrie en buig sy lang nek om die mandjie te beloer.

“Ek gaan die leeuprins terugvat na sy huis toe,” sê Timmie trots. “Iemand het hom voor ons huis se deur neergesit.”

“Haai!” sê Gerrie en sy oë rek groot. “Maar dis mos baie ver! En wat as jy verdwaal?”

“Ek het ’n padkaart. Wil jy saamkom?” vra Timmie.

“Ok,” sê Gerrie nadat hy ’n oomblik gedink het. “Laat ek net vir my gaan padkos inpak.”

En daar gaan die twee vriende met die leeubaba verder op die pad na die paleis toe: Timmie ry op sy fiets en Gerrie draf langsaan. Koning Leeu en sy familie bly op die Goue Koppie in die bosveld. Soos hulle ry beduie Timmie vir Gerrie hoe die pad lyk.

“Ons gaan nou hier deur die Grasveld, dan kom ons by drie groot bloekombome. Daar draai ons regs en loop tot ons by die rivier kom, by die Seekoei Kruising. Dan loop ons weer links deur die Klipveld tot in die Bosveld en dan sal ons die Goue Koppie van daar af sien.”

“Is dit nie gevaarlik nie?” vra Gerrie, en rek sy nek om te kyk of hy nie gevaar in die gras kan sien nie.

“Miskien,” sê Timmie, en sy oë blink van die avontuurslus.

***

gras

Timmie trap sy fiets en hulle vorder vinnig op die grondpad deur die Grasveld. Die gras is lank, en net Gerrie se nek en die punt van Timmie se stert steek bo dit uit.

“Ek sien iets beweeg!” sê Gerrie skielik, en sy oë is groot.

“Wat is dit?” wil Timmie weet. Hy hou op trap, sit sy fiets versigtig neer en klouter teen Gerrie se nek uit.

“Nee, ek weet nie. Dit kan enigeiets wees!”

Die ding in die gras kom al hoe nader en hardloop al hoe vinniger. Swoesj! hardloop hy uit die gras uit tot in die paadjie en duik weer vinnig weg aan die ander kant. Hy hardloop ’n paar blitsige sirkels om die twee. Uiteindelik kom staan die jong jagluiperd in die paadjie en lag vir hulle.

“Julle moes julle gesigte gesien het!” lag hy effens uitasem.

“Sies vir jou, Fielies!” sê Gerrie vies. “Ek het my amper doodgeskrik!”

Timmie spring van Gerrie se nek af en tot by sy fiets.

“Kyk hierso,” wys hy vir Fielies die babaleeu.

“Jhô!” sê Fielies verbaas. “Waar kry jy dit? Waarnatoe vat julle hom? Kan ek saamgaan?”

“Iemand het hom op die trappies voor my deur gelos. Ons vat hom terug Goue Koppie toe. Ja, kom saam!”

En daar gaan die drie vriende verder deur die Grasveld op pad na die leeupaleis op die Goue Koppie. Timmie ry sy fiets, Gerrie stap rustig langs hom met sy lang bene en Fielies hardloop sirkels deur die gras langs hulle.

***

Uiteindelik sien hulle die drie groot bloekombome. Daar is lekker skaduwee, en hulle besluit om eers te stop en rus want die son is nou hoog en dis baie warm. Terwyl hulle daar sit, kom ’n kekkelende trop tarentale verby getrippel.

“Wat maak julle drie kinders so alleen hierso?” wil hulle weet.

“Ons vat die leeubaba terug huis toe,” sê Timmie.

“Tjie, tjie, tjie!” sê die tarentale. “Dis mos baie ver!”

“Ek gee nie om nie,” sê Timmie.

“Pasop net as julle deur die rivier gaan,” sê die tarentale. “Pê-pê-pê-pasop vir die krokodille. Hulle sal julle met ’n glimlag opeet!”

Die tarentale draf verder onder die bome deur en verdwyn al kekkelend in die gras.

Die drie vriende is nou honger, en elkeen haal die padkos uit hulle rugsakke uit. Timmie eet sy piesangs, Gerrie sy gedroogde blare en Fielies eet ’n lekker vet stuk biltong.

“Dink julle nie die leeubaba is al honger nie?” vra Gerrie bekommerd. Timmie maak die komberse bietjie oop en kyk.

“Hy slaap nog vas,” sê Timmie en haal sy skouers op.

“As hy wakker word kan ek vir hom ’n stukkie biltong gee,” bied Fielies aan.

“Nee man, hy is nog te klein!” sê Gerrie. “Mens moet vir ’n babatjie melk gee.”

“Wat ons waar kry?” vra Fielies.

“Kom ons ry verder voor hy wakker word,” sê Timmie. “Dalk kry ons iemand langs die pad wat weet.”

pyllinks
vervolg

Die storie is geskryf deur An-Mari Fouché. An-Mari is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2015.
Illustrasies deur Bianca Jooste 2016.
Kopiereg An-Mari Fouché

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016