"Wat
kan ons tog doen? Dis so vervelig hier in die ou naaldwerkmandjie," sug Nellie
Naald, "Vandat Mevrou Soesman nie meer die mense se klere regmaak nie, sien
ons ook nie die buitekant van die mandjie nie." "Ja,"
stem Tolla die tol wit gare saam, "Kan ons nie iets doen nie?" "Wat?"
vra Malie Maatband, "Julle kla! Wanneer laas het Mevrou Soesman my gebruik.
My lyf voel al stokstyf van net so lê en niks doen nie." Sarel
Skêr spring wydsbeen op. "Ek
het 'n plan!" roep hy opgewonde. "Jy't
altyd planne, Sarel. Wat is dit nou weer?" vra Malie Maatband. "Hierdie
keer is dit 'n wonderlike plan," sê Sarel Skêr, "Ons moet
net eers uit hierdie mandjie uit kom." "Goed
dan," sê Nellie Naald, "Het jy miskien 'n plan om hier uit te
kom, hm..Sarel?" "Wel,..ja,
as ons almal saamwerk, kan ons die mandjie se deksel lig en uitklim. Wat sê
julle?" "Goed
dan," sê Nellie Naald, "En wat maak ons as ons buite is, hm?"
"Dis nou
juis my plan," sê Sarel Skêr en dans opgewonde rond, "Onthou
julle die lappoppe wat Mevrou Soesman altyd vir die bazaar gemaak het?"
"Ja, ja...
natuurlik. Wie sal hulle nou vergeet. Dit was die vir my die lekkerste tyd van
my lewe. Nou werk ons net knope aan en maak ritssluiters heel. Hoe vervelig,"
sug Nellie Naald. "Toe,
toe, toe, wat is jou plan, Sarel?" vra Malie Maatband ongeduldig.
"As ons eers
hier uit is, kan ons die sak oorskietlappies gaan soek en dan maak ons 'n lappop.
Wat sê julle?" "'n
Lappop!" roep Nellie Naald uit, "Ja, kom ons maak ons eie lappop. Ons
weet mos hoe." "Ja,
ons kan. Ons het alles hier in die naaldwerkmandjie. Pottie Potlood, hoor jy wat
ek sê," sê Malie Maatband, "Hoekom is jy so stil?"
"Ek hoor
julle. Ja, ek stem saam. Ek sal die patroon teken en Sarel Skêr kan dit
uitknip," sê Pottie Potlood en gaap lui. "Nou
toe, waarvoor wag ons. Sarel, hoe kom ons nou hier uit?" vra Nellie Naald.
"Maklik!
Tolla Garetol moet kom staan sodat ek op hom kan klim om die deksel te lig. Dan
klim Malie Maatband uit, gooi haar lyf om die deksel se handvatsel, maak 'n stewige
knoop en spring tot op die vloer. Dan hou sy die deksel oop vir ons ander om uit
te klim. So maklik soos dit!" verduidelik Sarel Skêr. "Dis
'n goeie plan. Jy's 'n ou slimkop, Sarel. Kom ons doen dit," giggel Nellie
Naald, "Kom Tolla, rol tot by die kant van die mandjie sodat Sarel op jou
kan klim." "Goed
dan," mompel Tolla Garetol en rol tot by die kant van die mandjie. Sarel
klim op Tolla en Malie Maatband agterna. En sommer gou-gou knoop Malie haar lyf
om die handvatsel van die mandjie en spring tot op die grond. "Die
mandjie is oop!" roep sy, "Julle kan nou maar uitklim!" "Kom
Pottie ...en julle knoppiespelde daar in die blikkie. Ons het julle ook nodig.
Kom!" roep Nellie en ryp vir Pottie Potlood aan die hand. Nie lank
nie, toe staan hulle almal buite die mandjie. "Waar's
die sak lappe?" vra Tolla Garetol. "Ek
weet," sê Sarel Skêr, "Mevrou Soesman het dit in 'n kussingsloop
onder die bed gebêre." "Kom
ons gaan soek dit dan," sê Nellie Naald en stoot die deur van die donker
kas waarin die naaldwerkmandjie gebêre word oop en loer in die kamer rond.
"Ek sien nie daardie aaklige brak van Mevrou Soesman nie. Kom!"
Hulle hardloop
onder die bed in. "Hier's
die sak met die lappe!" roep Sarel Skêr uit. "Kom ons soek lappe
vir ons lappop." Hulle
kry rooi en groen en geel en blou stukke en ander met strepe en kolle. Malie Maatband
help gou vir Sarel Skêr om die lap op die grond oop te gooi. Pottie Potlood
kry 'n stuk bruin papier en teken vinnig 'n patroon van 'n lappop daarop. Sarel
Skêr knip die patroon stuk vir stuk uit en sit dit op die lap. "Kom
steek die patroon vas, julle knoppiespelde," roep Nellie Naald. Die knoppiespelde
spring uit die blikkie, hardloop vinnig oor die patroonstukke en duik deur die
papier en in die lap in. Sommer gou is al die patroonstukke aan die lap vas.
Sarel Skêr
begin te sny. Girts-girts-girts. Hy sny al die stukke van die patroon uit. Die
arms, die bene, die lyf en die kop van die lappop en later die klere. 'n Broek
en 'n hemp. "My
werk is nou klaar. Toe Nellie, die groot werk is joune," se Sarel Skêr.
"O nee, jou
werk is nog glad nie klaar nie. Jy moet vir my die gare van Tolla se lyf afknip,"
sê Nellie Naald vinnig. Nellie se lang blink lyfie werk vinnig. Eers werk
sy die bene, toe die arms, toe die lyf en toe die kop. Toe sy klaar is, sê
sy: "Nou moet ons hom opstop. Waar gaan ons stopsel kry?" "In
die kas waar ons naalwerkmandjie staan," sê Pottie Potlood so uit die
bloute. "Hoe
weet jy?" vra Nellie Naald. "Gaan
kyk, toe. Hoekom glo jy my nie... hm... hoekom nie. Kom ek wys julle," sê
Pottie. Hy maak die kas se deur oop en daar sien hulle die groot plastieksak vol
wit stopsel. "Toe,
toe, toe, haal dit uit," sê Nellie Naald, "Sarel, wat staan jy
so. Help vir Pottie." Hulle
haal die sak met die stopsel uit die kas en help vir Nellie Naald om die lappop
se lyf styf op te stop. "Kyk
hoe mooi lyk hy," roep Nellie Naald opgewonde uit, "Nou moet hy nog
oë kry en hare. "Ek het twee bruin knope en oranje wol in daardie lappesak
gesien." Nie
lank nie of die lappop het bruin oë en oranje hare. "Hy's
mooi. Dink julle nie so nie?" vra Nellie opgewonde. "Nes
'n regte lappop!" roep Sarel Sker uit. Nellie
Naald werk met rooi gare 'n mond en met swart gare wenkbroue en toe is die lappop
klaar. "Wat
is sy naam?" vra Tolla Garetol, "Hy moet 'n naam kry." "Ja,
hy moet 'n naam kry," stem Malie Maatband saam. "Ek
het 'n naam," roep Nellie Naald uit, "Wat van Rooikop!" "Nee,
dis aaklig!" roep Malie Maatband uit. "Wat
van Lappie. Ek dink dis mooi," sê Pottie Potlood. "Lappie?
Nie sleg nie..." sê Sarel Skêr. "Wat
dan?" vra Tolla Garetol ongeduldig, "Wat van Gollie?" "Dis
'n mooi naam!" roep Nellie Naald uit, "Wat dink julle?" "Ja!"
roep almal gelyk uit. Nellie
Naald kyk na die lappop en sê: "Jou naam is nou Gollie. Hoor jy, Gollie."
En net toe sy
weer sy naam sê, gebeur 'n snaakse ding. "Dis
'n mooi naam," sê die lappop skielik en glimlag. Nellie
Naald, Pottie Potlood, Tolla Garetol, Sarel Skêr en Malie Maatband skrik
hulle boeglam. Nellie
Naald se oog rek groot. "Hy... e... hy praat!" sê sy, "Hy
het lewendig geword!" "Wat
maak ons nou met hom?" vra Sarel Skêr bekommerd. "Ja,
hy is nou ons kind," sê Malie Maatband. |