"Gollie,
jy moet vir ons luister," sê Nellie Naald, "Hierdie huis is 'n
gevaarlike plek." "Ja,
hier's 'n hond. Hy't gevaarlike tande wat 'n lapkind soos jy sommer gou uitmekaar
sal skeur," waarsku Sarel Skêr. "O
nee!," roep Gollie benoud uit. "Moenie
nou bang wees nie, Gollie. Sien jy daardie rakkie bokant die bed?" vra Malie
Maatband. Die
lappop kyk na 'n rakkie bokant die koppenent van die bed. Op die rakkie is 'n
meisietjie van fyn porselein. "Ja,
ja, ek sien dit," sê Gollie. "Gaan
klim daarop. Daar kan daardie gulsige brak van Mevrou Soesman jou nie in die hande
kry nie," belowe Malie Maatband. "Dis
'n goeie plan. Gollie kan van daar af sien as die vuilgoed by die deur inkom,"
stem Sarel Skêr saam, "En hy is dan ook nie alleen nie." "Ja,
dis waar," sê Nellie Naald. "Nou
toe, waarvoor wag jy, Gollie?" sê Tollie Garetol en tol sy lyf in die
rondte. "Goed
dan," sê Gollie en staan teen die bed op. Toe sit hy die een voet voor
die ander een en weer en weer. "Kyk!"
roep Nellie Naald opgewonde uit, "Hy kan loop!" "Is
hy nie oulik nie?" roep Malie Maatband uit. "Klim
op die bed, Gollie," sê Tollie Garetol en tol en tol in die rondte,
"As jy so mooi kan loop kan jy op die bed ook klim!" Gollie klouter
sommer maklik op die bed. Maar net toe hy bo-op die bed is, gaan die kamerdeur
oop. "Tik-tak-tik,"
hoor Nellie, Malie, Sarel, Tollie, Pottie en hulle kyk met groot oë na mekaar.
"Dis hy!,"
fluister Nellie, "Dis daardie nare hond wat sy stert so heen en weer teen
die deur klap! Harloop!!!!" Soos
blits hardloop hulle almal onder die bed in. Hulle hoor ou Bruno se asem en sien
sy groot pote onder die rand van die rooi deken van die bed uitsteek en hulle
harte klop kadoef-kadoef vir Gollie se part. "Arme
Gollie," sê Nellie Naald. Skielik
hoor hulle hoe Gollie roep en skree: "Help! Help!" Nellie,
Sarel, Tollie, Pottie en Malie kyk na mekaar met groot oë. "Daardie
nare hond het vir Gollie," sê Nellie en 'n traan val uit haar oog,
"Ons arme lapkind." "Dit
help niks om nou te huil nie, Nellie. Ons moet iets doen!" sê Sarel
Skêr. "Wat?"
vra Malie Maatband. "Ja
wat?" vra Pottie Potlood, "Wie kan nou iets doen teen so 'n groot gevaarlike
brak, hm?" "Kom,
ons kan nie vra wat nie. Ons moet dink. Gollie is ons kind. Ons moet hom help!"
sê Sarel Skêr. "Ja,
ek stem saam," snik Nellie, "Ek kan daardie hond lekker seer steek."
"En jy Malie?"
vra Sarel, "Wat kan jy doen?" "Ek
kan...e...ek kan, wag laat ek 'n bietjie dink. Ja, ek kan vir Gollie aan my vasmaak
en hom van daardie hond af wegkry." "En
jy, Sarel?" vra Nellie, "Toe, wat gaan jy doen hm?" "Ek...e...wel,
ek wil daadie brak bykom. Weet nog nie hoe nie, maar ek sal hom seermaak."
"Ek sal voor
sy neus verby rol om sy aandag van Gollie af te trek," sê Tollie Garetol,
"Hy hou mos daarvan om agter my aan te hardloop en my met daardie groot poot
van hom te klap." Dan
spring die klomp knopiespelde soos een man uit die blikkie en sê: "Ons
sal hom so seer steek dat hy nooit weer 'n lapkind sal byt nie." "Help!
Help!" hoor hulle vir Gollie roep. Nellie
kyk vir Sarel. "Ons kan nie langer wag nie." "Eina,
o eina!" huil Gollie. "Kom
julle!" sê die leier van die knopiespelde en soos blits spring hulle
almal uit die blikkie en hardloop na Bruno se pote toe. "Hardloop vinnig
en spring!" roep die leier. Hulle hardloop vinnig en spring op een slag in
Bruno se twee voorpote in. Bruno
los dadelik Gollie se arm en tjank, tjank gaan sit hy op sy sitvlak en lek sy
pote wat sommer baie seer is. "Toe,
nou is ons kans om vir Gollie van die bed af te kry," sê Malie Maatband
en klim op die bed. Sarel Skêr en Nellie Naald volg haar. Hulle
skrik toe hulle vir Gollie sien. Sy een arm is flenters gebyt. Die wit stopsel
steek uit. En toe sien hulle sy gesig en hulle snak na hulle asems. Sy een oog
is weg. Toe
Gollie vir hulle sien begin hy vreeslik te huil. "Toemaar,
ons gaan jou nou van hierdie bed af kry," troos Malie en gooi haar lang lyf
om Gollie se laplyf. "Kruip nou tot by die voetenent van die bed en klim
versigtig af, hoor jy?" sê Malie. "Ja,...my
arm is so seer," snik Gollie. "Toemaar,
ons sal jou arm weer gou regmaak," belowe Nellie, "Kom, maak nou soos
Malie sê." Bruno
se oë traan eintlik so seer is sy pote. Hy bly lek maar die seer wil nie
weggaan nie. Gollie
klim stadig van die bed af terwyl Sarel, Tollie, Pottie, Nellie en Malie op die
grond staan en kyk. Toe hy op die grond is, is almal baie bly. "Kom,
ons moet in die hangkas klim. Dis die veiligste daar," sê Sarel.
Hulle hardloop
by Bruno verby. Hy sien hulle nie eens raak nie. Hy is te besig om sy seer pote
te lek. Na
'n rukkie is hulle by die deur van die hangkas. Sarel maak die deur oop en toe
klim almal in. Die kas is donker binne. Maar dit is niks. Hulle is veilig en Gollie
is veilig. "O
eina," begin Gollie weer te huil, "My arm is so seer." "Toemaar,
sodra daardie nare Bruno hier uit is sal ons jou arm regmaak," belowe Nellie
Naald. Die
deur van die kas staan effens oop. Sarel kan mooi sien hoe Bruno nog steeds sy
pote lek terwyl hy tjank. Net
toe hoor hulle hoe Mevrou Soesman van die kombuis se kant af roep: "Bruno!
Bruno! Waar is ounooi se honne!" Bruno
se ore staan skielik regop toe hy dit hoor. Hy probeer om op sy pote te trap maar
dis so seer hy gaan sit weer en tjank. "Bruno!
Bruno! Kom ounooi se honne!" roep Mevrou Soesman weer. Bruno
probeer weer opstaan. "Kom
ons spring uit!" skree die leier van die knopiespelde en soos een man spring
almal uit Bruno se pote en hardloop reguit na die oop deur van die hangkas.
Toe Mevrou Soesman
weer vir Bruno roep, hardloop hy by die kamer uit met sy stert tussen sy bene.
"Mooi so,
julle knopiespelde!" sê Sarel Skêr, "Julle is ons helde!"
"Sjoe, julle
was darem slim!" sê Nellie Naald, "Ek wou daardie hond nog tussen
sy tone steek toe hoor ek hoe tjank hy al klaar." "Kom
julle ouens, ons moet nou eers vir Gollie regmaak," sê Sarel Skêr.
En sommer gou-gou
maak hulle Gollie se arm reg en gee vir hom 'n nuwe oog. "Dankie
julle," sê Gollie, "Kan ek nou maar op daardie rakkie gaan sit?"
"Ja, jy mag,"
sê Nellie Naald, "Jy sal net baie stil moet sit." "Ja,
daardie hond weet nou van jou. As hy jou op die bed sien, sal hy jou weer gryp,"
sê Malie Maatband. Hulle
kyk almal toe Gollie oor die kamervloer stap na die bed, opklim, oor die bed kruip
tot by die vensterbank, teen die gordyn op klim en dan op die rakkie langs die
porseleinmeisietjie gaan sit.
|