1.
Die rooi koevert Gysbert
het die rooi koevert tussen die ander briewe dadelik gesien. Sy naam was groot
en duidelik daarop geskryf.
"Mamma, Mamma, kyk net hier. Ek het 'n brief gekry! Mamma, hier is my naam
geskryf." Mamma sien sommer dadelik dit is Ouma se handskrif. Gysbert kan
nie wag om dit oop te skeur nie. Ansie
hardloop ook nader toe sy hoor hoe opgewonde Gysbert is. Hy skeur die brief oop
en begin lees, maar sien dat die brief ook vir Ansie geskryf is. Hy lees hardop
sodat sy ook kan hoor. Ansie is nog nie in die skool nie, maar Gysbert is al in
graad 2. Liewe
Gysbert en Ansie Dit
is een van die dae vakansie, en nou wil Oupa en ek baie graag hê dat julle
twee vir ons op die plaas moet kom kuier. Dit het al gereën en alles is so
mooi groen. Mamma
kan al volgende week begin om julle klere in te pak, en onthou tog om skoene en
klere vir die kerk ook in te pak. Pappa
en Mamma kan julle dan die Saterdag nadat die skool gesluit het, plaas toe bring.
Laat weet vir ons of dit reg is. Van Ouma. Toe
Pappa van die werk af kom, het hy ook gedink dit is 'n baie goeie plan. Die kinders
was so opgewonde en kon nie wag om vir Ouma te bel nie. Hulle wou sommer hê
dat Mamma dadelik hulle tasse moet pak. Gysbert sug so 'n lang sug toe Mamma sê
daar is nog vyf slapies oor voordat die skool sluit. Die
dae gaan nou stadig verby. Maar die aand nadat die skool gesluit het, is die tasse
gepak. Die kerkklere en skoene is heel bo. Pappa sê: "Moet tog nie
julle tandeborsels en tandepaste more vergeet nie. Onthou ook julle handdoeke.
En ek dink julle twee moet nou dadelik in die bed gaan klim, want more baie vroeg
gaan die wekker ons almal wakker lui."
Die kinders het al vroeg klaar gebad en hulle slaapklere aangetrek. Toe Pappa
praat, luister hulle dadelik want hulle wil tog nie more nog vaak wees as die
wekker lui nie. 2.
Eindelik is dit Saterdag Toe
Mamma die kinders gaan roep, sit hulle al kant en klaar aangetrek. "Mamma,
ons het al ons gesigte gewas en ons tande geborsel." Sy sien ook dat hulle
hare glad gekam is. "Ons
drink net gou koffie en dan val ons in die pad, want Ouma wag vir ons vir ontbyt,"
sê Mamma. "Hoe
lank gaan ons ry, Mamma?" vra Ansie.
"As ons nou in die motor klim, kan ons agt uur op die plaas wees."
Die
pad is vir die kinders baie lank. Uiteindelik sien hulle die wit huis met die
rooi dak tussen die bome uitsteek. Vyf
minute voor agt hou pappa stil langs die groot, groen grasperk voor die huis.
Oupa
en Ouma kom aangestap na die motor. Die kinders gryp hulle om die nek en soen
hulle sommer 'n paar keer. Pappa
dra die groot tas en Mamma haal die vrugte uit die motor. Ouma loop voor om te
gaan wys waar die kinders moet slaap. Gysbert
en Ansie kan nie wag om van Ouma se lekker kos te eet nie. Ouma het die tafel
klaar gedek en almal gaan sit aan toe sy roep. Oupa bid eers voordat hulle eet.
Hy sê dat hy baie dankbaar is dat hulle veilig gery het. Daar
is pap en eiers op die tafel. Ouma sê ook altyd dat hulle vars vrugte moet
eet en melk moet drink. Sy glo dat kinders gesonde kos moet eet om sterk en gesond
te wees. Sy sê hulle kan maar self van die yskoue melk en lemoensap in die
yskas vir hulle ingooi as hulle dors is. Net
voor middagete ry Pappa en Mamma weer. Gysbert en Ansie en Oupa en Ouma waai totdat
die motor tussen die bome verdwyn. |