2001-06

jongklomp
haasbekkies


Gysbert en Ansie gaan kuier op die plaas
Rosa Els
Deel 2

3. Oupa vertel stories

Die aand na ete gaan haal Oupa die Bybel. Die kinders wil graag van Dawid en Goliat hoor. Die verhaal is vir die kinders baie mooi en hulle sit doodstil en luister. Gysbert wil nou graag bosveldstories hoor van toe Oupa nog klein was.

Oupa sit in die groot leunstoel met die kinders weerskante van hom. Hy vertel hoe hulle altyd bosveld toe gegaan het in die winter. Hy was toe net so groot soos Gysbert. Hulle het in tente gebly en van takke 'n ringmuur om die tente gemaak. Dit het hulle 'n skerm genoem.

Saans is daar groot vure gemaak met hardekool hout. Sy pa en vleis gebraai en sy ma het vetkoek gebak. Soms het hy saam met sy pa gaan jag. Daar was bie rooibokke en koedoes op die plaas. As sy pa 'n rooibok skiet het hulle die lewer gebraai. Dan het sy ma vir hulle van die vars, warm brood gegee wat sy self gebak het. Sy pa het 'n miershoop uitgehol en dan is daarin vuur gemaak. Dit was dan die oond waarin sy ma die brode gebak het.

Gysbert en Ansie weet nie wat 'n miershoop is nie. Oupa sê hy sal hulle eendag saamneem Bosveld toe en vir hulle 'n miershoop gaan wys.

Toe die groot horlosie nege uur slaan, sê Oupa dit is nou slaaptyd. Hy sal volgende keer nog stories oor sy kinderdae vertel.

Ouma neem die kinders na hulle kamer toe. Hulle is maar te bly dat hulle klaar gebad het. Hulle borsel gou tande en spring in die bed. Ouma gee vir elkeen 'n soentjie en skakel die lig af.

Gysbert kruip onder die warm komberse in en wonder wat hulle more alles gaan doen. Ansie slaap sommer dadelik.

Maar Gysbert lê en kyk hoe die vure daar teen die berg brand. iemand het die gras daar aan die brand gesteek. Dit is baie mooi om die vuur so in die nag te sien.

Dis vir hom baie lekker om op die plaas te slaap. Hy kruip diep onder Ouma se bont kombers in.

 

4. Die tarentaalnes

Die volgende oggend is die kinders baie vroeg op. Hulle gaan saam met oupa na die skaapkraal. Snags word die skape toegesluit, sodat die diewe hulle nie kan steel nie. Toe Oupa die hok oopmaak, sien hulle dat daar tweeling lammertjies die nag gebore is. Die een is wit en die ander een swart. Dit is tog te mooi as hulle so aan hulle ma drink.

Hulle gee ook kos vir die ganse. Daar is baie klein gansies. Daar sit nog 'n gans op 'n klomp eiers en broei. Oupa sê hulle behoort nog hierdie week uit te kom.

Toe Ouma roep, stap hulle vinnig huis toe om te gaan eet. Die kinders wil vanmore 'n bietjie in die veld agter die huis gaan stap. Ouma sê hulle mag net tot by die doringboom loop. Hulle stap al met die voetpad langs.

Meteens staan Gysbert stil. Tussen die gras sien hy 'n pragtige voël met swart en wit spikkels. Skielik vlieg die voël op en die twee skrik hulle boeglam. Toe sien hulle die nes met spierwit eiers. "Kom ons gaan roep vir Oupa. Hy sal weet watter soort voël dit is," sê Ansie.

Die twee hardloop huis toe. Hulle wil sommer gelyk praat. "Oupa, dis 'n groot voël daar onder in die gras. So 'n bonte, Oupa. Sjoe, ons het groot geskrik. En daar is 'n nes vol eiers ook. Oupa moet gou kom kyk!" praat die twee deurmekaar.

"Ja," sê Oupa. "Ek weet van die nes. Julle het 'n tarentaalwyfie gesien wt broei. Ek sien hulle loop veral soggens vroeg en laat in die middag hier rond."

Oupa stap saam met hulle. Gysbert gaan wys waar die nes is. Toe die tarentaal hulle gewaar, vlieg sy weer op. Oupa sê hulle moet maar altyd 'n hele ent van die nes af gaan staan. Hy buk en tel iets langs 'n graspol op. Dis 'n swart veer met wit spikkels. Oupa gee dit vir Ansie aan. "Dis die tarentaal se veer, Oupa," sê sy. Oupa glimlag. "Jy's slim," sê hy.

Hulle sal maar elke oggend gaan kyk of die eiers al uitgebroei is. Dalk sien hulle nog klein tarentaaltjies ook.

vervolg
 Kopiereg Rosa Els
Die storie is geskryf deur tannie Rosa Els

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012