Lank
gelede is verby. Hierdie storie gebeur nou. Nou-nou het nog gebeur nie. Dis nou,
in die nou. In
die straat staan daar een leë huis. Die mense wat daar gebly het, het weggetrek.
Die
huis se naam is Huis want sy mense het nooit vir hom 'n naam gegee nie. Huis
voel baie eensaam want hy het nie maats om mee te gesels nie. Dag
vir dag staar Huis na die son wat opkom en ondergaan, opkom en ondergaan. In
die nag droom hy van mense wat in hom kom kuier en lag. In die oggend word hy
wakker en dan is daar niemand. Sy kamers is leeg. Huis
het een groot wens. Hy sien die wens gedurig in sy gedagtes gebeur. Hy droom hoe
hy van hoë geboue afspring en voel hoe lekker dit is om deur die lug te sweef.
Hy wens so hy kan vlieg. Hy wil ver en hoog vlieg, sommer na ander planete en
sonnestelsels toe. Huis
verlang ook so baie na mense binne sy mure. Hy verbeel hom een nag hy hoor stemme
in sy woonkamer. Skielik voel dit lekker vrolik in hom. Hy dink die stemme het
'n vuurtjie in sy kaggel aangesteek. Huis
is effens skrikkerig om te loer wie kom kuier het. Hy is bietjie bygelowig. Net
nou is dit spookstemme. Hy hou nie van spookstemme nie, hulle maak hom bang. Huis
maak stadig sy een oog oop en loer
. Aaaaaaaaaaaa, hoe wonderlik, dis die
Ligstemme. Ligstemme is baie welkom tuis want hulle maak lig en hulle kielie hom.
As huise
gekielie word begin hulle lag. As huise lag begin hulle lewe. As huise lewe dan
groei hulle pote. As huise pote het kan hulle rondloop. As hulle rondloop begin
hulle kuier en dis wat huise die heel graagste doen: kuier. Huis
is so opgewonde hy kan nie wag dat die son opkom en ondergaan nie. Uiteindelik
is dit die volgende aand. Huis het pote gegroei deur die dag en is nou gereed
vir sy heel eerste uitstappie. Aan
die begin trap hy moeilik want hy wankel bietjie. Hy lag vir homself, 'n huis
wat loop, verbeel jou! Gou raak Huis gemaklik en daar kom 'n huppel in sy stap. Kort
voor lank is hy by buurt se parkie waar al die huise met pote snags bymekaarkom.
Hulle het 'n groot vuur gemaak en braai vir mekaar marshmellows. Die huise lag,
gesels en vertel stories. Die
huise met pote is so bly om vir Huis te sien aankom dat hulle van veraf waai en
toe hy naby is hom dadelik vra om sy storie te vertel. Huis
vertel vir hulle van die besoek van die Ligstemme. Die
aand hou die huise tot laat middernagfees. Een van die huise, Toskaan, het al
ver gereis. Hy besit 'n reuse paar vlerke. Blykbaar groei huise vlerke as hulle
heeltyd daaroor dink en daarop fokus. Toskaan
vertel van die sonkastele op Saturnus, die gastehuise op Jupiter, die motorhuise
op Mars maar is veral opgewonde oor die meisiehuise op Venus. Na
sewe jaar land Huis op die planeet Venus. Huis het groot vlerke gegroei. Op
Venus swem hy elke dag. Dis lekker warm en naby die son. Huis gebruik sy vlerke
as vinne. Hy breek 'n paar swemrekords. Al
die geboue op Venus is vol skilderye. Huis gaan gereeld op kunstoere. Hy leer
ook om Veens te praat. Een
aand op Venus se strand ontmoet hy vir Paleis. Huis
bring haar aarde toe. |