Deel
1 In 'n land baie ver hiervandaan, by 'n groot meer, woon
'n groot klomp swanedrake. Die mammas en die pappas werk en gesels en die kinders
baljaar van vroeg tot laat. Een mamma sit geduldig op haar nes en broei.
Kort-kort
maak Pappa Swanedraak 'n draai by die nes. Hy is al skoon ongeduldig van die weke
se gewag vir die eiers om uit te broei. Mamma Swanedraak weet sommer dat hierdie
eiertjies binnekort sal uitbroei.
Sowaar!
'n Paar uur later voel Mamma Swanedraak hoe die eiertjies begin kraak en vyf klein
swanedrakies broei uit. 
'n
Paar maande later is die vyf swanedrakies al sterk en hulle swem en baljaar te
heerlik saam met al die ander. Een van die swanedrakies, klein Drommie Draak,
is net anders as die ander drakies.
Drommie
Drakie sit elke dag onder die groot wilgerboom en kyk hoe die voëltjies bo
in die lug vlieg en sweef. Dan wens hy dat hy ook kan vlieg met sy vlerke.


Swanedrakies
het vlerkies, maar hulle vlerkies kan nie vlieg nie. Hul vlerkies is heeltemal
te klein vir hul lyfies.
Dae
lank dink hy en wonder wat hy kan doen. Eendag hoor hy die groot swanedrake praat
oor die towerpaddas. Hy hoor dat dit paddas is wie se agterlywe vas aan mekaar
sit. Die paddas het twee tonge met sterk towerkrag op die punte. "Miskien
sal die paddas my vlerkies groter kan toor?" |