Arrie
het geskrik toe hy my die eerste keer gesien het. Sy oë was so groot soos
pierings en terwyl hy in die huis hardloop, skreeu hy vir sy ma dat daar 'n monster
op die grasperk is. Arrie se ma vra toe wat se monster en hy sê, 'n uh,
uhm,
'n dino.., 'n dinoso
Sy ma sê, nee man, dinosourusse het
lankal uitgesterf maar hy kan 'n koekie uit die blik vat en met sy monster gaan
speel. Sy sê sy kan nie saam kom nie want sy was skottelgoed.
Arrie
het versigtig nadergekom en my die koekie gegee wat ek vinnig opgeëet het
want ek was baie honger.
"Waar
kom jy vandaan." Arrie se oë is nog steeds groot.
"Hier
agter die klipkoppie, die eierdoppe lê nog daar. Wil jy gaan kyk?"
vra ek opgewonde want ek is nou al 'n maand oud en niemand om mee te speel nie.
"Jissie
ja," sê Arrie en vertel my hy het uit sy ma se maag gekom.
Oppad
na die koppie stry ons want ek sê alle babas broei uit eiers. Arrie sê
aikona, hy kan nie onthou van enige eierdoppe in sy kot nie.
"Kom
ek gaan wys jou," sê ek en ons klim die hoë koppie uit. Agter
'n groot klip lê die groot wit doppe.
"Sien
jy nou," sê ek trots.
Ek
en Arrie rus 'n bietjie op 'n klip terwyl hy met 'n eierdop speel.
"Dit
is nogal dik nê, amper so hard soos klip."
Ek
is nog honger en kou aan 'n stuk van die dop maar Arrie is reg, dis hard en dit
proe sleg.
"Jy
weet, my ma glo nie aan monsters nie. Sy sê jy kan nie bestaan nie."
"Maar
hier sit ek dan voor jou. En wat is 'n monster?" vra ek.
"In
my monsterboek is daar baie prentjies van diere soos jy. Party is baie groot met
lang tande en het skubbe op. Ander het vlerke soos jy en dan is daar een wat kan
vuur spoeg wat einlik 'n draak is. Maar ek het nie geweet monsters kan praat nie."
"Ek
ken ook Xhosa," sê ek en stoot my bors uit.
"O
ja, en dit sê ook in my boek dat monsters baie kan lieg."
"Molo,
ewe, unjani, ndiphilile."
"Wat
beteken dit?"
"Hello,
hoe gaan dit, goed dankie."
"'n
Monster wat Xhosa praat. My ma gaan my nooit glo nie."
"Het
jy nog koekies, ek's honger."
Terwyl
ons terugloop plaas toe, klap ek my vlerke maar styg net 'n entjie op. Dit moet
nog groei sê Arrie.By die huis vra Arrie vir nog 'n koekie. Sy ma sê
dis die laaste vir die dag. Hy vertel sy ma dat ek ook Xhosa kan praat maar sy
lag en sê dat monsters nie kan praat nie, al wat hulle kan doen is om mense
bang te maak. Arrie stry met haar maar sê sy is te besig om te gaan kyk
maar vra wat is sy monster se naam.
"Wat
is jou naam," vra hy terwyl ek die koekie eet.
'Ek
het nie 'n naam nie, dis lekker koekies, wat se soort is dit?" wil ek weet.
"Tjoklit
chips," antwoord hy. "Dis nou 'n ding, eers sê my ma dat daar
nie monsters nie is nie en dan dat hulle mense net bang maak en dan vra sy jou
naam. En jy is die heeltyd honger. Wat gaan jy eet" "Tjoklit
chips, sê ek.
"Aikona,
my ma sê daardie was die laaste een vandag."
"Nee,
ek bedoel Tjoklit chips is my naam."
"Jou
naam kan nie Tjoklit chips wees nie, dis die koekies se naam."
"Is
nie, ek onthou nou dis my naam."
"Issie,
dis net omdat dit die koekies se naam is dat jy so sê," stry Arrie
Ek
word kwaad en toe ek hardop skree, "Tjoklit chips is my naam,"
spring daar 'n lang rooi vlam by my mond uit.
Ons
skrik ons boeglam en Arrie se ooghare is gebrand.
"Jislaaikit,"
stotter hy verbaas terwyl hy droë stukkies ooghare van sy gesig afvryf.
Arrie
spring op en dans opgewonde rond.
"Jy
kan vuur spoeg, jy's die draak wat kan vuur spoeg,"
"Okei,
oukei, jou naam kan Tjoklits wees," sê hy toe hy weer gaan sit.
"Tjoklit
chips," sê ek hard.
Hy
keer vir sy gesig en sê, "olraait, oukei maar dan moet chips jou van
wees, mens het net een naam."
"Goed,
my naam is Tjoklits," kondig ek trots aan.
Arrie
kyk my vol bewondering aan al het hy nie een ooghaar op sy kop nie. Voor
dit donker word, sit Arrie sagte strooi in een van die buitekamers sodat ek sag
en warm kan slaap. Hy wou my in sy kamer laat slaap het maar hy dink sy ma is
nog bang vir monsters, wat nog te sê van drake, en hy's bang ek steek per
ongeluk die huis aan die brand.
Ek
kon hoor hoe sy met hom raas. Sy glo nie dat 'n monster wat eintlik 'n draak is
en wat se naam Tjoklits is, sy ooghare afgebrand het nie. Sy gaan ook sy pa hiervan
vertel en vra dat die petrol veilig gebêre word.
Ek
wil julle nog so baie stories vertel soos toe ek geleer om te vlieg en toe die
honde op die plaas my gejaag het maar ek is nou moeg en wil gaan slaap. As julle
mooi soet is dan vertel ek julle more hoekom Arrie die verkyker gebou het wat
op my kop is. |