Helena
en Drikus kuier graag vakansies by ouma en oupa op die plaas. Hier is dinge baie
anders as in die stad. Op die plaas is daar baie diere en daar is altyd genoeg
tyd vir die kinders om ouma en oupa met klein takies te help; soos om hoendereiers
uit te haal, die lammetjies melk te gee en vir ouma groente uit die groentetuin
te gaan haal. Drikus hou veral daarvan om allerhande interessante vere, klippe,
leë voëlnessies en selfs dooie goggas te versamel wat hy in 'n boks
onder sy bed hou. Hulle speel die heeldag buite. Maar wanneer dit aand word, is
dit 'n ander storie.
Dit
word pikdonker op die plaas. Die huis het nie elektrisiteit nie en omdat daar
nie straatligte buite brand nie, word dit só donker dat jy partykeer nie
jou hand voor jou oë kan sien nie. Helena en Drikus is nogal skrikkerig vir
dié donkerte, want hulle is dit nie gewoond nie.
In
die aand steek ouma en oupa gas- en parafienlampe aan om lig te maak. Dit maak
lang, spokerige skaduwees teen die mure. Oupa steek somtyds net 'n kers aan om
vir Drikus en Helena 'n skaduvertoning te gee. Dan hou hy sy hande naby die muur
en wanneer jy die skaduwee van sy hande dophou, verander dit in allerhande diere
- 'n kameelperd, krokodil, draak, volstruis en ander voëls. Hulle is altyd
verstom oor die manier waarop oupa sy hande beweeg om prentjies teen die muur
te vorm.
Drikus
hou van die kers wat oupa aansteek. Hy kan vir ure na die flikkerende flammetjie
kyk en hy geniet dit om die kers dood te blaas. Partykeer gee ouma vir hom 'n
domper om oor die vlammetjie te sit, sodat die vlammetjie ophou brand. Maar ouma
waarsku altyd die kinders om nie met kerse en vuurhoutjies te speel nie, want
dit is baie gevaarlik. 'n Klein vlammetjie kan 'n baie groot vuur veroorsaak.
Na
die skaduvertoning sit hulle om die kombuistafel en dan lees ouma vir hulle 'n
storie. Hulle geniet die stories baie, maar wanneer hulle moet gaan slaap, is
Drikus baie bang.
"Oupa,"
vra Drikus een aand. "Is daar regtig iets soos Doukse?"
"Doukse?"
vra oupa. "Wat is dit?"
"Helena
sê Doukse is snaakse gediertes met eend- en bokpote en 'n snawel soos 'n
voël. Hulle eet goggas en stout klein seuntjies vir nagereg."
"Nee,"
sê ouma vinnig. "Dit is sommer net bangpraatjies," en sy kyk kwaai
vir Helena wat haar kop skamerig laat sak.
En
skielik sê oupa, "Wag nou ouma, kom ons kyk wat sê die woordeboek."
Hy gaan haal 'n dik woordeboek in die studeerkamer. Toe hy in die kombuis kom,
gaan sit hy weer by die tafel, maak die boek oop en blaai 'n paar bladsye. Hy
druk met sy vinger op 'n bladsy en knipoog vir ouma voor hy lees: "Die definisie
van 'n Douks:
'n
Dierasie heel dierbaar wat hou van plesier; hul
dans in die maanskyn, drink dikmelk vir bier. Hul
lyk nie aandoenlik met snawel en klou, maar
is heel onskaadlik as jy van hul hou."
"Dit
klink darem nie asof hulle gevaarlik kan wees nie. Ek sal nogal nie omgee om een
te ontmoet nie," troos Helena.
"Ja,"
sê ouma "Doukse mag nou wel lelik wees, maar hulle klink darem heel
jollie vir my."
"En hulle eet defenitief nie kinders nie. Daarvoor is julle buitendien te
maer," voeg oupa by en knyp Drikus se bobeen liggies.
Helena en Drikus lag te lekker, maar toe word oupa ernstig: "Julle moet nou
in die bed spring. Dis al laat." Hy gee vir elkeen 'n flits om saam kamer
toe te vat. Toe hulle in die kamer kom, klim elkeen in sy eie bed. Hulle
sit hulle flitse af en bêre dit onder hulle kussings. Hulle lê nog
'n rukkie toe Drikus skielik 'n geskuifel onder sy bed hoor.
"Jig,
sies, gagga, gggggggggggg!" hoor hy saam met spoegklanke.
"Klink
soos iets in die boks," dink hy en flits met sy flitslig onder die bed. Hy
sien niks, maar hoor 'n geskuifel en gestamp. Hy trek die boks onder die bed uit
en skyn die lig in die boks. Drikus kan sy oë nie glo nie! Binne in die boks
sit 'n gedierte wat hy nog nooit voorheen gesien het nie. Dis bietjie groter as
oupa se foksteriër-hond maar dan lyk dit glad nie na 'n spesifieke dier nie.
Eerder na 'n klomp diere wat saamgevoeg is; dit het voorpote van 'n gans, agterpote
van 'n bokkie, 'n lang skerp snawel met 'n kegel op sy kop.
"Jy
skyn in my oë! Vat die lig weg!" raas die gedoente.
Drikus
laat die flits eenkant skyn. In die flou liggie van die flits kan hy die diertjie
steeds sien. Hy is só verbaas en kry net 'n paar woorde uit sy mond uit:
"Jy is 'n ...d...d...dinges!" sê hy net.
"Nee
man, ek's 'n Douks. Het jy nog nooit voorheen 'n Douks gesien nie?"
Drikus
skut net sy kop heen en weer.
"Ek
kan nie glo jy eet sulke slegte goggas nie!" gaan die Douks voort. "Die
doppe is heeltemaal te taai, die pote te stekelrig, en dis so droooooooooooog!
Ek sal nog vir jou wys waar jy die krakerigste, sappigste goggatjies met pikante
pootjies kan vang. Hoe kry jy dié happies in jou lyf?" babbel die
Douks nog eenstryk deur.
"Ek
eet nie goggas nie, ek tel dooie goggas op en versamel dit. Eet jy net goggas
of seuntjies ook?" vra Drikus huiwerig.
"Nee!
Jy moet jou tog nie aan Helena se bangpraatjies steur nie. Ek is heel gaaf en
hou van mensekinders. Goggas is my gunsteling happies en dan is ek natuurlik versot
op dikmelk. Maar daarvan mag ek net 'n bietjie van drink," gesels die Douks
terwyl hy oor die rand van die boks klim.
Die
Douks se geklets het Drikus heeltemaal gerus gestel en hy is nie meer bang nie.
"Wat maak jy hier?" vra Drikus nuuskierig.
"Ek
het spesiaal vir jou kom kuier om vir jou te wys jy hoef nie vir my bang te wees
nie," sê die Douks. "Al lyk ek vreemd, beteken dit nie ek is boos
nie. Ek hou nie daarvan as kinders bang gemaak word nie. Dis hoekom ek nie baie
vriende het nie - want mense is bang vir my. Ek bak graag poetse vir mense wat
kinders bang maak; ek knoop hulle hare terwyl hulle slaap of steek hulle skoene
en sokkies weg. Partykeer stel ek hulle wekkers dat dit nie lui nie. Jy moet sien
hoe skarrel hulle in die oggend om betyds te wees" sê die Douks en
grinnik. O ja, en as jy weer iemand sien wat hulle klere onderstebo aangetrek
het - dis ek wat dit laat gebeur," sê hy verder trots.
"Dit
sal hulle leer!" sê Drikus. Ek weet hoe dit voel om bang te wees wanneer
my sussie spookstories vertel. Ek sal nooit iemand bang maak nie."
"Ek
weet, daarom het ek vir jou 'n persentjie gebring," sê die Douks en
haal 'n pragtige kers uit die kegel op sy kop uit. "Elke keer as jy bang
is, moet jy die kers blaas. Die vlammetjie skyn soos maanlig en sal my na jou
toe bring. Maar jy moet een ding onthou, jy mag nie die kers met 'n vuurhoutjie
of enige ander vlammetjie aansteek nie," waarsku die Douks. "Dit sal
dan nie werk nie."
Drikus
is baie opgewonde en blaas na die kers. Skielik verskyn 'n vlammetjie wat silwer
lig soos die maan laat skyn. Toe hy afkyk om die Douks te bedank, kan hy hom nie
sien nie. "Dankie jou dierbare dierasie," fluister Drikus en hy klim
in die bed en sit die kers op die tafel langs die bed neer. 
Die
volgende oggend toe Drikus wakker word, skyn die son vrolik in die kamer. Hy wonder
of als wat hy gisteraand gesien het nie maar net 'n droom was nie.
"Jy
het gisteraand lekker in jou slaap gepraat", sê Helena terwyl sy haar
hare voor die spieël uitkam. "Ek kan nie verstaan hoekom my hare so
gekoek is nie! Ek het dit tog goed uitgekam voor ek gaan slaap het," sê
sy.
Skielik
sit Drikus regop. Toe hy van die bed afklim, trap hy in sy boks. Hy kyk mooi na
sy versameling goggas en sien daar is 'n paar weg.
"En waar kom die pragtige kers vandaan?" vra Helena toe sy op Drikus
se bed gaan sit.
"Jy
sal nooit raai wie ek gisteraand ontmoet het nie," sê Drikus en sy
oë blink. |