Johan
is so opgewonde dat hy al voor die wekker lui wakker is. Hy trek dadelik aan en
kam sy hare vir skool. Vandag moet al die kinders foto's van hulle ma's saambring
om vir juffrou Hannelie te wys.
Niemand
in die klas het nog ooit Johan se ma gesien nie. Want Johan se pa laai hom in
die oggend by die speelskool af en na middagete ry Johan weer met die skool se
minibussie huistoe.
Johan
besluit hy gaan sy ma se foto vir al sy maats wys. Maar heel eerste wys hy dit
vir Ruan. Ruan kyk lank na die foto, maar sê eers niks nie. Al wat gebeur
is dat Ruan sy voorkop vol plooie trek en sy mond begin oophang.
Later
kan Ruan dit nie meer hou nie en vra: "Johan, is jou Ma 'n draak?"
"Natuurlik
nie!" antwoord Johan vies. "Lyk ek miskien vir jou soos 'n draak?"
"Maar..."
vra Ruan, "Is jou ma vir jou mooi?"
"O
ja," sê Johan: "My ma het die mooiste sagste, groenste oë
in die hele wêreld! My pa dink ook Mamma is pragtig."
Ruan
wonder darem en vra: "Maar haar nek lyk net soos 'n slang?"
"O,
dit," sê Johan.
"Mamma
het laasjaar die hek met haar motor omgery. Pappa sê dis omdat sy alweer
nie agter haar kyk nie! Maar ek weet Mamma kon nie agter haar sien nie, want haar
nek was te styf om om te kyk. Vandat Mamma vir haar 'n slangnek gekry het, kan
sy haar kop heen-en-weer en vorentoe-en-agtertoe draai en orals mooi sien. Nou
sal sy nooit weer haar motor stamp nie."
"Maar,"
vra Ruan verder, "Haar mond lyk dan soos 'n eend se bek?"
"O,
dit," sê Johan. "Mamma klets so graag op die telefoon dat
sy 'n eendbek gekry het. Maar dis wonderlik, want nou kan sy elke aand met slaaptyd
vir my lekkerbekstories vertel."
Ruan
is nog nie tevrede nie en vra weer: "Maar haar hande en voete lyk dan soos
eendpote?"
"O,
dit," sê Johan.
"Mamma
en Pappa hou vreeslik daarvan om te dans. Een aand het Mamma so baie gedans, dat
sy later pootuit was. Sy het toe liewer haar dansskoene vir pote omgeruil. Nou
kan sy heelaand met Pappa dans sonder om seer voete te kry." "Ja,
maar wat van haar hande?" vra Ruan.
"Ag,
dis net omdat die seep haar hande skurf maak as sy skottelgoed was. Nou het sy
sagte hande, want sy dra haar oranje rubberhandskoene as sy skottelgoed was en
as sy gaan swem." Ruan kyk weer na die foto. Johan se ma se lyf lyk nog
steeds snaakserig en daarom vra hy: "Nou, hoekom lyk jou ma se lyf soos 'n
koei?"
"Sies,
jy is lelik!" sê Johan. "My ma mag miskien baie van pienk melkskommels
hou, maar sy is beslis nie 'n koei nie! Dit is net haar gunsteling leerjas wat
sy so graag in die winter dra."
Alles
is nog oraait, dink Ruan, maar Johan se ma het vlerke. Hy dink nog steeds sy moet
'n draak wees. "Johan, maar hoekom het jou ma dan vlerke?"
"O,
dit," sê Johan, wat al verveeld met al die vrae is. "Mamma gebruik
haar vlerke om elke aand vir ons drome op die maan en tussen die sterre te gaan
haal. Sy sê dit is soveel vinniger om te vlieg. Nou kan sy eerste daar wees
en net die beste drome kry."
"Maar,"
hou Ruan vol, "Jou ma het dan 'n lang stert met doringhakies?"
"O,
dit . . . dit is nogal oulik!" lag Johan. "Dis net omdat ons tuimeldroër
gebreek het. Nou kan sy al ons nat wasgoed aan die doringhakies haak en met haar
stert droogwaai. En as ons winkels toe gaan, hoef ons nie nog met 'n groot trollie
te sukkel nie. Mamma haak sommer die inkopiesakke aan haar stert." Maar
daar is nog steeds iets van Johan se ma wat hy nie sommer so maklik kan wegverduidelik
nie. Daarom vra Ruan: "Johan, maar daar kom dan vlamme en rook by jou ma
se neusgate uit, net soos by drake."
"O,
dit . . . dit is regtig pret!" sê Johan opgewonde. "Nou, kan ons
elke oggend roosterbrood eet. Mamma maak ook elke Saterdagaand sommer tjop-tjop
lekker braaivleis en blaas op my pienk malvalekkers tot hulle ontplof." Johan
hou baie van Ruan. Dit klink vir hom asof Ruan nogal baie van drake weet. Johan
gee ook nie regtig om dat Ruan sulke lawwe vrae oor sy ma vra nie. Maar skielik
dink hy aan iets. Hy het ook nog nooit Ruan se ma gesien nie. "Ruan, kan
ek bietjie jou ma se foto sien?"
"Nee!"
fluister Ruan benoud.
En
nou wonder Johan darem regtig en vra: "Ruan, is jou Ma dan 'n draak?"  |
|