Eendag,
lank lank gelede, was daar 'n Parramallalla-gesin. Dit was Pappa Parramallalla,
Mamma Parramallalla, en Donsie en Sponsie Parramallalla.
Donsie
en Sponsie was 'n siamese tweeling, en hul grootste droom was om los te wees van
mekaar.
Hulle
twee was alewig aan die baklei en hulle pappa en mamma was al raadop. As Donsie
wou regs gaan wou Sponsie altyd links gaan, dan het albei geval. 
Toe
hulle omtrent twaalf paddajare oud was, het hulle mamma gesê, "Julle
twee moet nou ophou baklei. As die hout weer op is, moet julle bos toe gaan om
hout te gaan haal. Indien julle terugkom met 'n nuwe bakleiery sal julle vir die
res van die jaar gehok wees en ek gaan julle selfone vat."
Hulle
het baie bang geword, want nie een van hulle kan sonder mxit klaarkom nie. Hulle
maak toe 'n plan. Hulle sal nie baklei nie en voor hulle ma sal hulle maak asof
hulle maklik in vrede kan saamleef, maar agter haar rug kon hulle mekaar nogsteeds
nie verdra nie. Die dag kom toe dat hulle moet bos toe gaan, want al die
hout was op en dit was baie koud.
Hulle
begin toe loop, maar in die eerste paar minute loop hulle die Whiekie Mawhakkie
raak. Die Whiekie Mawhakkie is die slegste towenaar wat daar in die hele bos is;
nie sleg omdat hy niks kan regkry nie, maar sleg omdat hy onmin saai oral waar
hy gaan. Niemand het dit vir Donsie en Sponsie gesê nie. 
Die
Whiekie Mawhakkie vra hulle toe: "Kan ek julle tweetjies dalk help?"
waarop Donsie antwoord: "Asseblief Oom, ons moet hout bymekaarmaak, maar
ons is soort van verdwaald hier in die bos." Sponsie pomp hom in sy ribbes:
"Jy kan nie net met vreemdelinge praat nie; netnou is dit soos op Rooikappie
waar die wolf haar verlei en toe later probeer opeet!"
Maar
Donsie sê: "Eerstens is hy nie 'n wolf nie, tweedens het Rooikappie
nie 'n selfoon gehad nie en derdens is ons nie oppad na 'n ouma of iets toe nie."
Die
Whiekie Mawhakkie, wat heeltyd gestaan en afluister het, sê toe vir hulle:
"Julle hoef nie bang te wees nie; almal in die bos ken my en ek weet van
baie hout hier in die bos."
Die
tweetjies besluit toe, sonder om iets te sê, dat hulle maar hierdie Whiekie
Mawhakkie sal vertrou, want hoe gouer hulle klaar hout optel, hoe gouer kan hulle
weer op mxit gaan.
Hulle
was toe nie eers meer bang nie, want hulle het nog nie geweet in watter gevaar
hulle nou is nie. Die Whiekie Mawhakkie lei hulle na 'n digte bosdeel van die
gewone bos, daar waar dit baie donker is.
Ewe
skielik is hulle stoksielalleen; die Whiekie Mawhakkie is weg. Hulle raak verskriklik
bang, want hulle is heeltemal alleen en hulle weet nie waar hulle is nie. Donsie
besef net betyds dat hy sy selfoon by hom het, en hy "please call me"
sy ma.
Sy
ma bel hom en toe sê hy vir haar: "Mamma, ons het verdwaal in die bos
en ons is baie bang. Sal julle ons asseblief kom haal? Ons is in 'n baie digte
deel van die bos, maar ons wil nie beweeg nie, want netnou val ons in gate of
iets," waarop sy ma antwoord: "Okay,
ons sal julle kom haal, sing net kliphard 'n liedjie dan kan ons julle stemme
volg."
Hulle
begin sing, die een liedjie na die ander, en uiteindelik daag hulle ouers op -
maar nie alleen nie.
Die
Whiekie Mawhakkie het ook die gesing gehoor en hy het geweet dat as die kinders
se ouers hulle kry, hulle die hele storie gaan hoor en dan is dit klaar met die
Whiekie Mawhakkie.
Hy
kom toe gelyk met die Parramallallas daar aan en hy besef hulle het 'n hele mag
van die bos saamgebring. Koning Spreeu, die hele Polisiemag onder leiding van
Krokodil en al die ander diere wat klein kindertjies het, is daar.
Die
diere en die Whiekie Mawhakkie veg teen mekaar, maar dit was duidelik wie sou
wen, want die diere was baie meer as een ou Whiekie Mawhakkie. Die diere jaag
toe die Whiekie Mawhakkie uit die bos uit en verbied hom om ooit weer terug te
kom.
Donsie
en Sponsie het natuurlik ongeskonde uit die hele geveg uitgekom, want hulle was
weer op mxit besig om hulle pêlle te vertel wat gebeur.
Hulle
het ook nooit weer baklei of met vreemdelinge gepraat nie. Mamma en Pappa Parramallalla
was so trots dat hulle kinders nie meer baklei nie, dat hulle hulle na die Goeie
Fee toe gevat het en sy het hulle losgemaak van mekaar.
Van
daardie dag af was die Parramallallas die gelukkigste gesin in die bos en daarom
het hulle hulle van verander na Paddas, "want," het hulle gesê,
"mense gaan nie oor ons kan praat of skryf sonder dat hulle tonge vashaak
nie."
En dis hoe die Parramallallas Paddas geword het. |