2011-04

jongklomp
haasbekkies


Krokkenoster by die see
Nicolene Gelderman

Clara en haar ouers is oppad see toe vir die dag.

"Krokkenoster gaan ook saam," sê Clara toe sy met die groen boks in die kar klim.

Clara is eerste uit toe hulle by die see stop. Sy hardloop vinnig met Krokkenoster onder haar arm na die wit sand toe en ploems! val sy neer.

Krokkenoster is so plat gedruk van maande in 'n boks bly. Clara het al haar asem nodig om Krokkenoster weer groot te kry.

Clara blaas en blaas tot sy nie meer asem oor het in haar lyf nie.

"Pappa, kan Pappa my help om Krokkenoster op te blaas? Al my asem is uit," vra Clara vir haar pa wat onder sy nuwe sonsambreel lê en boeklees.

*

Clara se pa blaas en blaas tot al sy asem ook uit is.

'n Oom kom aangestap en Clara spring voor hom in. "Oom kan oom help om vir Krokkenoster op te blaas?" vra sy.

Die oom blaas en Krokkenoster groei stadig. Bietjie vir bietjie word Krokkenoster vetter. Maar nie te lank nie, toe is die oom se asem ook op.

Die man op die roomyskarretjie ry verby en Clara stop hom ook.

"Kan jy help om Krokkenoster vetter te kry?" vra Clara.
Die roomysman blaas en blaas met wange wat bol staan.

"Die roomys gaan smelt as ek dit nie nou gaan verkoop nie," sê die man en ry weer.

Clara se ogies blink, want Krokkenoster is nou eers halfpad vol geblaas. Stadig rol 'n traan oor Clara se rooi wang.


"Nee, vir wat huil so 'n mooi kind?"

Toe Clara opkyk sien sy baie mense wat besig is om Krokkenoster help opblaas. As die een se asem opraak, dan gee hy dit vir die volgende een aan.

In 'n japtrap is Krokkenoster vol lug geblaas.

Clara en Krokkenoster baljaar al te lekker in die see, op en af met die branders. Dan sit sy op die stert en dan weer op sy kop. Die son bak heerlik op Krokkenoster se gladde plastiekvel.

"Clara dis tyd om huis toe te gaan," sê Clara se ma. "Ons moet nou vir Krokkenoster afblaas."

"Nee!" huil Clara. "Ons kan hom nie weer afblaas nie. Nooit nie. Kan hy nie saam ons huis toe ry nie? Daar is plek in my kamer."

"Waar wil jy hom inpak?" vra Clara se ma. "Daar is nie plek vir `n muis in die kar nie."

Maar Clara het reeds 'n plan. "Kom ons maak hom op die dak vas."

"Pappa kan ons Krokkenoster op die dak vasmaak, sodat hy saam ons huis toe kan ry asseblief. Ek het plek in my kamer waar hy kan bly."

"Clara ons het nie 'n tou om hom vas te bind nie," sug haar pa.

Weer kry Clara 'n plan. Die oom wat eerste gehelp het, om Krokkenoster op te blaas het 'n tou onder aan sy sambreel. Clara hardloop vinnig na hom toe. "Oom kan ons asseblief 'n stukkie tou kry om Krokkenoster bo-op die dak vas te bind?"

Die tou is net lank genoeg om Krokkenoster vas te bind. Almal staan om die kar en skree raad vir Clara se pa.

"Bind hom onder vas!"

"Laat sy stert afhang!"

"Draai hom dwars!"

Almal skree gelyk en Clara kyk hoe haar pa vir Krokkenoster vasbind.

'n Vet tannie kom nader gewaggel en skree: "Blaas hom 'n bietjie af!"

Clara begin weer huil, "Nee, asseblief Pappa, moenie!"

Uiteindelik kry Pa vir Krokkenoster op die dak vasgebind sonder om hom af te blaas.

Toe Clara by die huis kom, vat sy Krokkenoster en sleep hom kamer toe. "Hier gaan jy slaap, Krokkenoster," gaap Clara.

Clara gaan lê op Krokkenoster net om hom 'n drukkie te gee. Stadig begin sy aan die slaap raak.

 

Die storie is geskryf deur Elaine Schiel. Elaine is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2010.

Illustrasies deur Hanneke Murray. Hanneke is 'n Grafiese Ontwerpstudent aan die Noordwes-Universiteit (Pochefstroomkamptus) 2010.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012