2014-06

jongklomp
haasbekkies


Die avonture van Lolla
Riëtte Bester
Deel 2 - Lolla gaan see toe

Lolla word wakker met ’n klam, souterige briesie in haar neus; sy gaap en rek haarself uit, nog baie deur die slaap. Sy gewaar Dokter Wilna wat op die stoep van die woonstel staan en eers toe sy buite kom, besef sy waar sy is. Sy is mos uiteindelik by die see!
lyn“Goeiemôre my hondekind,” groet Dokter Wilna met ’n glimlag toe sy Lolla se voetjies oor die teëls hoor aangeskarrel kom, “Is jy reg vir strand toe gaan?” ’n Vrolike blaf gee Dokter Wilna haar antwoord.
lynLolla verwonder haar aan al die nuwe belewenisse op die strand: die warm sand onder haar pote, die see-briesie wat haar neus kielie, die geluid van mense wat baljaar in die water... Wat hoor Lolla daar? Kan dit wees? Die geblaf van ander honde? Nou is Lolla sommer baie bly.
lynDokter Wilna lê uitgestrek op haar strandhanddoek en lees ’n boek. Sy loer oor haar boek en glimlag toe sy Lolla sien speel met een van die ander honde op die strand.
lynLolla en die lewensredder se gawe labrador speel al te lekker op die strand. Die twee jaag meeue en hardloop deur die vlak water. Toe hulle honger raak kry hulle elkeen ’n sappige rooiworsie wat Dokter Wilna by een van die smouse op die strand gekoop het.
Die labrador hardloop ná middagete  na die lewensredder se wagtoring en kom terug met ’n tennisbal in sy mond. Hy is reg vir nog kaskenades met sy nuwe maatjie. Lolla is mal oor bal speel.

lolla bal

lynOe jitte! Daar rol die bal die see in voor die twee honde-vriende kan keer! Lolla hardloop agterna, sy sal die bal gaan haal.
lynDie water is heerlik koel en Lolla geniet die speletjie nou sommer vreeslik. Die gety trek die bal al dieper die see in, saam met Lolla. Haar kort beentjies voel nie meer die sand onder haar nie. Nou raak Lolla bang – sy is nou al baie ver van die strand af. Sy probeer omdraai en terugswem, maar tevergeefs: die gety is te sterk. Lolla blaf benoud om hulp na haar vriend op die strand.

lolla see

 

vervolg

Die storie is geskryf deur Riëtte Bester. Riëtte is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2015.
Kopiereg teks en illustrasies Riëtte Bester.

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016