Lolla
sit op die rak van 'n groot speelgoedwinkel. Sy het 'n pragtige blou lint in haar
geel krulhare wat by haar mooi blou rokkie pas. Net so blou soos haar rokkie,
is haar blou oë. Maar haar oë is hartseer want niemand wil haar koop
nie. "Ek
wens ek het geld gehad om vir Lolla te koop," sê een van die verkoopsdames
een middag. "Ja,
sy is die mooiste pop in die winkel. Ek kan nie verstaan hoekom sy nog nie aan
'n dogtertjie behoort nie," sê die ander verkoopsdame. Net
voor die winkel daardie middag toemaak, kom 'n'vrou ingehardloop. "Is
julle nog oop?" vra sy uitasem. "Ja,
sekerlik, Mevrou," sê die verkoopsdame, "Kan ons help?"
"Dis my dogtertjie
se verjaarsdag. Ek soek 'n geskenk vir haar," sê die vrou terwyl haar
oë van rak tot rak soek. "Wat
van 'n pop?" vra die verkoopsdame. "Ja..wat
het julle?" vra die vrou en stap saam met die verkoopsdame na die rak waar
Lolla sit. Die
vrou tel vir Lolla op, kyk na haar en dan sê sy: "Ja, ek sal haar neem."
Lolla kan dit
nie glo nie. Sy gaan uiteindelik aan 'n dogtertjie behoort. Die verkoopsdame sit
vir Lolla terug in die boks waarin sy was toe sy na die winkel gekom het en draai
dit toe met mooi verjaarsdagpapier. Binne in die boks is dit pikdonker. Lolla
kan niks sien nie maar sy is so bly sy gee nie om nie. Haar oë is toe en
sy droom van hoe lekker dit gaan wees om aan 'n dogtertjie te behoort. 'n
Rukkie later hoor Lolla baie motors en busse in die straat, 'n deur wat toeklap
en dan beweeg die motor waarin sy en die vrou wat haar gekoop het van die winkel
af wegry. Hulle
ry vir 'n rukkie. Later hou hulle stil, die vrou haal die boks waarin Lolla is
uit die motor en stap na die huis. Lolla hoor hoe kinders opgewonde speel
en lag en sy kan nie wag om hulle almal te sien nie. Sy hoor hoe hulle sing, 'Geluk
liewe maatjie omdat jy verjaar..' en dan sê die vrou wat haar gekoop het,
"Blaas nou jou kersies uit, Sumarie." Lolla
hoor hoe die kinders skaterlag. "Nou
kan jy jou geskenkies oopmaak," sê die vrou. "Wat
is in die groot boks, Mamma?" vra Sumarie. Lolla
se hart klop nou sommer baie vinnig. Sy kan nie wag om Sumarie se gesig te sien
nie. "Toe,
maak die boks oop," sê Sumarie se ma. Lolla
hoor hoe Sumarie die papiere van die boks afskeur en dan lig sy die deksel op.
"'n Pop!
Ag nee, ek wil 'n TV-speletjie gehad het," sê sy en gooi die deksel
terug op die boks. Een
van die ander dogtertjies tel die deksel op. "Dis
'n mooi pop, Sumarie," sê sy. "Ek
wens ek het so 'n mooi pop gehad," sê 'n ander dogtertjie. "Ek
wil haar nie hê nie," sê Sumarie en haar oë is vol trane,
"Ek hou nie van poppe nie." "Goed
dan," sê Sumarie se ma, "Ek sal vir jou 'n TV-speletjie koop.
Kom maak nou jou ander geskenkies oop." Lolla se hart is baie seer. Sumarie
wil haar nie hê nie. Wat gaan sy nou met haar maak? Toe
al die kinders daardie middag al huis toe is, lê die boks waarin Lolla is
nog steeds daar waar Sumarie haar gelos het. Sumarie se ma sien dit en tel
die boks op. "Ai,
wat maak ek nou met jou?" sê sy vir Lolla en stap met haar na Sumarie
se kamer. Sumarie
is al in die bed en vas aan die slaap. Die hangkas waarin haar klere hang se deur
staan oop. Sumarie se ma haal vir Lolla uit die boks uit en sit haar in die kas
waar Sumarie se skoene en stewels staan en toe stoot sy die deur toe maar dit
gaan nie heeltemal toe nie. Lolla
is baie hartseer. Trane loop oor haar mooi rooi wange. "Wie
huil so?" hoor sy skielik iemand vra. Wie
was dit, wonder Lolla en kyk om haar rond. Haar oë rek groot en sy hou op
snik. "Wie
e..wie's daar?" vra sy. Dis
donker binne in die kas. Net 'n klein bietjie lig kom deur die deur wat nie
heeltemal toe is nie. Lolla
skrik toe sy skielik die bruin beertjie sien. "Ha..hallou,
wat maak jy hier?" vra sy. "My
naam is Tobias. Wat is jou naam?" vra die beertjie. "Lolla..,"
sê Lolla en begin dan weer te huil. "Moenie
so huil nie. Jy maak my ook hartseer," sê Tobias. Lolla
hou op huil. "Wat maak jy hier?" vra sy vir Tobias. "Ek
sit in die kas al vir baie, baie lank. Toe Sumarie my gekry het, het sy baie met
my gespeel. Ek het elke dag op haar bed gelê." "En
toe?" vra Lolla nuuskierig. "Eendag
kom sy van die skool af, gryp my aan my arm en gooi my in die kas. Van daardie
dag af het sy my nog nooit weer hier uitgehaal nie." "Dis vreeslik!"
roep Lolla uit. "Ja,
sy's 'n nare kind. Sy het baie speelgoed. Sy kry alles wat sy wil hê,"
sê Tobias. "Sy
hou ook nie van my nie," sê Lolla ongelukkig. "Regtig?"
"Ja, sy het
my nie eens uit my boks gehaal nie," sê Lolla en haar hart is van vooraf
seer, "Ek wil nie in die kas bly nie. Ek wil aan iemand behoort."
"Kom ons
loop weg," sê Tobias. "Loop
weg?" vra Lolla, "Hoe kan ons wegloop?" "Ons
kan. Die venster is oop," sê Tobias, "Ek wou al baie keer wegloop
maar ek wou nie alleen wegloop nie. Nou is jy hier. Ons kan saam wegloop."
"Ja.."
sê Lolla en sug. "Misien loop ons kinders raak wat van ons hou en wat
vir ons wil hê." Toe al die ligte in die huis af is en almal
slaap, stoot Tobias die hangkas se deur oop en vat Lolla se hand. "Kom,"
sê hy. Hulle stap oor die vloer van Sumarie se slaapkamer na die stoel by
die groot venster. Eers
klim Tobias op die vensterbank. "Gee
jou hand," sê hy vir Lolla. Toe
hulle altwee op die vensterbank is, sê Tobias, "Spring!" Lolla
maak haar oë toe en spring saam met Tobias. Hulle land op die sagte gras
in die tuin. "Kom!"
sê Tobias. "Weet
jy waarheen om te gaan?" vra Lolla. "Ek
was al baie saam met Sumarie in die dorp," sê Tobias, "Ek ken
die pad dorp toe." Na 'n rukkie stap hulle deur die tuinhekkie en
dan is hulle in die straat. 'n Entjie van Sumarie-hulle se huis af begin dit skielik
te donderweer. Lolla skrik. "Wat
was dit?" vra sy en haar hart klop kadoef-kadoef. "Dit
gaan reën," sê Tobias. Voor hy haar meer kan vertel van reën,
val daar 'n druppel op Lolla se neus. "Kom,
ons moet hardloop!" sê Tobias en begin te hardloop, "Ons gaan
nat reën." Hulle
kom by die hek van 'n groot tuin. Dis die tuin van die dorp waar mense graag op
Sondae met hulle honde gaan stap. Skielik begin dit kliphard the reën.
Na 'n rukkie is Lolla se rok en hare sopnat en Tobias se lyf ook. Hulle kan nie
mooi sien waar hulle hardloop nie. Skielik gly Lolla se voet en sy val. "Help!
Help!" Tobias
skrik toe Lolla hom saamtrek en hulle in die visdammetjie val. Die stingels van
die plante draai om hulle lywe toe hulle spartel om uit te klim. Hulle sluk van
die groen slymerige water. Hoe meer hulle spartel hoe dieper dryf hulle na die
middel van die visdammetjie tussen die nare groen stingels. "Ek..e..kan
nie asem kry nie!" roep Lolla toe een van die stingels om haar nek draai.
"Draai
op jou maag!" sê Tobias. Lolla
draai op haar maag en sy verstik amper aan die groen slymerige water. Die stingel
val van haar nek af en sy draai weer op haar rug. Dit
reën nog steeds. "Wanneer
gaan dit ophou," kla Lolla. Sy kan nie haar oë oopmaak nie. Skielik
hou dit op en die wolke dryf weg. "Kyk
die baie liggies!" sê Lolla. "Dis
sterretjies," sê Tobias, "En daardie groot geel bal is die maan.
Die sterretjies en die maan skyn in die nag sodat die mense kan sien."
"Wanneer
gaan die donker weer weg, Tobias?" vra Lolla, "Die lug is dan so pikdonker.
Sal die son ooit weer terugkom?" "Ja,
jy sal sien," sê Tobias. "Hoe
gaan ons hier uitkom? Die nare plante hou ons hier vas," sê Lolla.
"Ons sal
moet wag tot dit dag word," sê Tobias, "Hier is niemand in die
tuin wat ons sal sien nie. Dis ook te donker." Skielik loer 'n vis tussen
die stingels uit na Lolla. Sy oë blink in die maanlig. "W..e..wat
is dit!" gil Lolla. "Dis 'n vis. Hier is baie van hulle. Lê
net doodstil. Hulle sal niks maak nie. Hulle is net nuuskierig." "Hoe
weet jy? Kyk hoe kyk hy vir my," sê Lolla met groot oë. "Sumarie
het 'n visbak met vissies in haar kamer. Sy haal hulle uit as sy die visbak skoonmaak.
Hulle het haar nog nooit gebyt nie." Later
maak Lolla haar oë toe. "Hou
my hand vas, Tobias. Ek wil nie verdrink as ek aan die slaap raak nie," sê
sy. Lolla
en Tobias is bly toe hulle later hulle oë oopmaak en die blou-blou lug sien.
Lolla lig haar kop. "Tobias,
ons is in die middel van die dam. Die mense gaan ons nie hier sien nie."
"Jy's reg.
Ons sal nader aan die rand moet kom," sê hy, "Kom, gee jou hand."
Hulle beur deur
die lang stingels van die plante tot naby die rand van die dammetjie. "Oe,
ek's nou baie moeg," sê Lolla en gaan lê op haar rug. "Hoor
daar!" fluister Tobias, "Dit klink soos mense." "Ja,
ek hoor," sê Lolla en luister weer. "Ag nee, hulle kom nie hier
verby nie. Hulle sal ons nie sien nie." "Dis
nog vroeg. Iemand sal na die visdam toe kom en ons sien. Jy sal sien," troos
Tobias. Hulle
hoor baie mense in die tuin. Maar hulle loop ver verby. "Niemand
gaan ons sien nie, Tobias. Niemand nie," sê Lolla mismoedig, "Die
son brand my gesig. Ek kry so warm." Toe
hoor hulle 'n man en 'n dogtertjie. "Hoor
daar," sê Tobias opgewonde. Hulle
luister. Dan hoor hulle die man sê vir die dogtertjie. "Ek
is so jammer ek kon nie vir jou 'n geskenk gee vir jou verjaarsdag nie, Annie.
As ek 'n werk kry sal ek vir jou iets koop." "Dis
goed so, Pappa," sê Annie. Toe
Lolla dit hoor is sy baie opgewonde. "Miskien
sal sy van ons hou, Tobias," sê sy, "Maar hoe gaan sy van ons
weet?" Lolla
en Tobias hou hulle asems op toe hulle voetstappe na die dammetjie hoor aankom.
"Pappa, kom
ons kyk of daar meer visse in die dammetjie is," hoor hulle Annie sê.
Tobias kyk na
Lolla. "Hier
kom hulle," sê hy opgewonde. Toe
Annie vir Lolla en Tobias sien, kan sy haar oë nie glo nie. "Pappa!
Kom kyk!" roep sy oor haar skouer na haar pa. "Wat
is dit?" vra hy en stap vinnig na haar toe. "Kyk
hierdie pragtige pop. Ek wonder wie het haar hier in die visdammetjie gegooi?"
"'n Pop!"
roep haar pa uit, "En 'n teddie?" "Ja,
'n teddie ook!" roep Annie uit. "Kan
ek hulle maar kry, Pappa?" vra Annie. "Wel,
ek weet nie. Is dit nie miskien 'n ander kind se speelgoed nie?" vra haar
pa en kyk in die tuin rond. Nee,
nee, ons behoort aan niemand nie, dink Lolla. Vat ons asseblief saam met jou,
Annie. "Wie
sal so 'n mooi pop in die visdammetjie gooi?" vra Annie. "Ek
dink jy kan hulle maar vir jou neem," sê Annie se pa. "Dankie
Pappa!" roep Annie uit. Sy haal vir Lolla uit die slymerige groen water van
die visdammetjie en sit haar op die gras neer en toe vir Tobias. "Kyk
hoe lyk julle. Ek sal julle in die son moet sit om droog te word," sê
Annie, "Maar eers gaan ons huis toe sodat ek julle vuil klere kan uittrek
en vir julle skoon kan was." "Wil
jy huis toe gaan?" vra Annie se pa. "Ja,
Pappa. Dankie vir die mooi geskenke," sê Annie en druk vir Lolla wie
se hare stink en in toutjies hang teen haar vas. "Sy's die mooiste pop wat
ek nog ooit gehad het." Toe tel sy vir Tobias op. "Ek
is so bly oor hierdie beertjie. Ek wou so graag 'n beertjie hê."
"Jy moenie
vir my dankie sê nie, my kind," sê Annie se pa. "Ek
moet. Pappa het gesê ons moet in die tuin kom stap. As ons nie hier kom
stap het nie, het ek nie nou die mooi pop en beertjie gehad nie," sê
Annie. Lolla
voel vuil en sy voel glad nie mooi nie maar sy is so bly want Annie hou van haar.
Toe hulle
later by die huis kom, trek Annie Lolla se rok uit en was haar lyf met seepwater.
Sy was haar mooi blou rokkie en hang dit op die draad. Haar blou lint ook. In
die koelte onder die boom in die tuin sit Tobias. Sy lyf is skoon gewas. Hy stink
nie meer nie. Die sonnetjie bak hom droog. Daardie
middag sit Lolla met haar blou rok en blou lint saam met Tobias op Annie se bed.
"Julle
lyk so mooi op my bed," sê Annie, "Ek hoop julle is gelukkig hier
by my en Pappa." Tobias
vat Lolla se hand toe Annie by die kamer uitstap. "Dis
baie lekkerder hier as in daardie donker kas," sê hy, "Ek sal
weer in daardie visdammetjie gaan lê as ek weet ek kan by Annie kom bly."
"Ja, jy's
reg Tobias. Ek's bly ons het weggeloop. Ek dink Annie is ook bly." |