Lolla
en Tobias was nog nooit so gelukkig nie. In die oggend sit Annie vir hulle langs
mekaar op haar bed voor sy skool toe gaan. In die middag wanneer sy van die skool
afkom, kom groet sy eers en gee vir hulle elkeen 'n drukkie. "Hallo
julle twee," sê sy dan, "Was dit lekker hier by die huis vandag?"
Partykeer neem
sy hulle saam biblioteek en supermark toe en dan verkyk haar maats hulle aan Lolla
en Tobias. Lolla
en Tobias hou van die uitstappies. Dis lekker in Annie se kamer maar partykeer
is dit ook lekker om dorp toe te gaan. Een
middag kom Annie by die huis en haar oë blink opgewonde. "Ons
gaan na 'n mooi huis trek," sê sy vir hulle, "Pappa het 'n werk
gekry!" Sy tel hulle op en druk hulle teen haar vas, "En julle gaan
saam." Daardie
Saterdag pak Annie haar klere in twee groot tasse en help haar pa om die kombuisgoed
in te pak. 'n
Groot pakwa kom hou voor die huis se deur stil. Die karweiers haal groot bokse
uit en dra dit die huis binne. Hulle bring ook 'n groot boks na Annie se kamer.
"Die boks
is seker vir die kind se speelgoed," sê een van die karweiers.
"Ja,"
sê die ander een en gryp vir Tobias aan sy arm en gooi hom in die boks en
toe vir Lolla. Hulle gooi van Annie se skoene en boeke ook sommer in die boks
en maak dit toe. "Nee,
Annie gaan ons soek," sê Lolla. "Sy
sal," sê Tobias en sug, "Hierdie skoene maak my rug seer."
Lolla sit vasgedruk
in 'n hoek. "Ek wonder hoe ver is die ander huis. Ek hoop tog nie ver nie.
Ek kan nie beweeg nie," kla sy. Dan
hoor hulle, "Hier's nog 'n vol boks. Vat dit na die pakwa toe." Toe
tel een van die karweiers die boks op en later gly die boks oor die vloer van
die groot pakwa na binne. 'n
Rukkie later begin die pakwa beweeg. "Dankie
tog," sê Lolla, "Ek kan nie meer so in die donker sit nie."
"Ons is nou-nou
by die ander huis," troos Tobias. "Hoe
weet jy, Tobias. Hoe weet jy?" vra Lolla. "T-aag,
jy sal sien," sê Tobias. Die
pakwa ry nie so ver nie voor hy stilhou. Lolla
is bly. "Dankie tog, nou gaan ons weer die lig sien," sê sy. "Ek
kan nie wag nie." Hulle
hoor hoe die karweiers al die meubels en bokse uit die pakwa dra. "Dis
alles," sê een van die karweier na 'n rukkie en toe maak hy die deure
van die pakwa toe. "Nee,
wat van ons!" skree Lolla. "Hulle
het van ons vergeet," sê Tobias verbaas. Die
pakwa begin weer beweeg. "Annie
gaan ons soek," sê Lolla hartseer. Die
pakwa ry ver, baie ver en baie later hou dit weer stil en die deure gaan oop.
"Al hierdie
goed moet hier by Mevrou Drakenstein afgelaai word," sê een van die
karweiers. Lolla
en Tobias sit doodstil en luister. Skielik word die boks waarin hulle is ook opgetel
en uit die pakwa gedra. "Is
dit alles?" vra 'n vrou met 'n skerp stem. "Ja,
Mevrou," sê die karweier. Nadat
die pakwa haar goed gebring het begin Mevrou Drakenstein die bokse uitpak. Skielik
gaan die boks waarin Lolla en Tobias is oop en hulle sien die gesig van Mevrou
Drakenstein. "Watse
goed is dit?" gil sy. Sy is die lelikste vrou wat Lolla nog gesien het. "Dis
nie myne nie!" Sy gryp vir Tobias aan sy arm en gluur in sy gesig. "Aha,
vir jou gaan ek vir vullisman gee." "Nee,
asseblief tog nie," huil Lolla, "Moenie vir Tobias van my af wegvat
nie." Dan
sien Mevrou Drakenstein vir Lolla, "'n Pop! Nogal nie aardig nie. Vir jou
gaan ek op my stoel in my kamer sit." Hie-hie-hie. "Ek wou nog altyd
'n pop gehad het. Ek was toe nie so gelukkig soos die kind aan wie jy behoort
nie, poppie! Maar nou is jy myne, net myne." "Nee,
ek wil na Annie toe gaan," huil Lolla. Mevrou
Drakenstein sit vir Lolla op 'n wiegstoel in haar kamer. "So ja, nou
kan ek na jou kyk wanneer ek in my bed klim saans. Ek moet vir jou 'n naam gee
laat
my dink," sê sy en vryf haar krom neus, "Aha, ek het net die regte
naam vir jou. Arnella." Annie is baie ongelukkig. Sy het al die
bokse oopgemaak en kan vir Lolla en Tobias nêrens kry nie. Moedeloos gaan
sit sy op haar bed in haar nuwe kamer. "Waar
is julle tog," begin sy te huil. Toe
kom haar pa in die kamer in. "Hoekom
huil jy, Annie," vra hy, "Hou jy nie van ons nuwe huis nie?"
"Ja Pappa,
ek hou baie van ons nuwe huis. Lolla en Tobias is weg. Ek het al orals gesoek.
Ek het in al die bokse gekyk. Hulle is net weg, Pappa." Sy begin weer te
huil. "Ek
is seker die karweiers het die boks waarin hulle is in die pakwa vergeet. Ek sal
hulle bel. Wat sê jy? Moet nou net nie meer so huil nie, Annie. Jy sal hulle
weer terugkry." Die
volgende dag in die skool kan Annie aan niks anders as Lolla en Tobias dink. Sy
kan nie wag om by die huis te kom nie. "Het
Pappa vir Lolla en Tobias gekry?" vra sy toe haar pa daardie middag by die
huis kom. "Ek
het die pakwa-mense gebel. Hulle sê nadat hulle ons goed afgelaai het, het
hulle goed by 'n Mevrou Drakenstein gaan aflaai. Dis 'n hele ent van ons af."
"Dis by haar,
Pappa. Lolla en Tobias is by haar. Kan ons hulle gaan haal?" "Ja,
ons kan. Ek het haar adres. Ons kan sommer nou soontoe ry," sê haar
pa. Annie
is baie bly. Sonder Lolla en Tobias gaan sy nie lekker in die nuwe huis bly nie.
Sy weet dit sommer. Hulle
ry ver, deur die dorp en dan met 'n lang pad na 'n ander dorp. Na 'n ruk hou haar
pa voor 'n huis stil. "Dis
Mevrou Drakenstein se huis," sê hy en klim uit. Mevrou
Drakenstein maak die voordeur versigtig oop toe haar pa klop. "Ja?"
"Mevrou,
hier is gister by u 'n boks afgelaai met speelgoed en skoene. Dis my dogtertjie
se goed. Ons kom dit net haal." "Julle
goed!" sê die vrou nors, "Hoe weet ek dis die waarheid?"
"Tannie
dis
'n pop met geel hare en blou oë en 'n bruin teddiebeertjie. Dis myne. Hulle
het op my bed gesit en die karweiers het hulle per ongeluk ook in die boks gesit,"
sê Annie vinnig. "Kom
in," sê die vrou. Lolla
luister en sy weet nie of sy droom nie. Dit het geklink soos Annie se stem by
die voordeur. Dan hoor sy voetstappe die gang afkom na Mevrou Drakenstein se kamer.
"Arnella,
ongelukkig moet jy gaan," sê sy en gryp haar van die stoel af.
O dankie tog,
dankie tog, dink Lolla toe Mevrou Drankenstein met haar die gang afstap na die
voordeur waar Annie en haar pa wag. "Is
dit die pop?" vra Mevrou Drakenstein. "Ja,
dis Lolla," sê Annie, steek haar arms uit en vat vir Lolla, "Ek's
so bly ek het jou gekry. Maar waar is Tobias?" "Tobias?
Gmf
wie is Tobias?" vra Mevrou Drakenstein. "My
teddiebeertjie, Tannie." "O,
jou teddiebeer. Ek het dit vir die vullisman gegee. Dis seker nog in die vullisdrom.
Jy kan self gaan kyk. Die drom staan hier langs die huis." Lolla
kan dit nie glo nie. Arme Tobias, tussen die pampoenskille, blikke, bottels, papiere
en ander weggooigoed! "Ek
hoop hy's nog daar, Pappa," sê Annie toe sy saam met haar pa om die
huis van Mevrou Drakenstein stap. Mevrou
Drakenstein het vir Tobias aan die handvatsel van die vullisdrom vasgemaak. Toe
Tobias hulle sien begin hy sommer te huil. "Dankie
tog, dankie tog dat julle my kom haal het," huil hy. Annie
se pa maak vir Tobias los en gee hom vir Annie. "Tobias,
ek is so bly ons het jou gekry," sê Annie en druk hom teen haar vas.
"Ek dink Lolla is ook bly." Skielik
hoor hulle hoe Mevrou Drakenstein goed by haar voordeur uitgooi. "Wat
gooi sy uit, Pappa?" vra Annie. "Jou
skoene en boeke," sê hy en tel dit op. Na 'n rukkie is hulle
almal in die kar. Hulle ry terug na die nuwe huis. Lolla en Tobias is al baie
nuuskierig om die nuwe huis te sien, maar die heel blyste om weer terug te wees
by Annie. Annie
het 'n groot kamer met 'n groot venster. Sy laat vir Lolla en Tobias deur die
venster kyk. Hulle sien 'n mooi parkie met 'n visdammetjie. "Eendag
kan ons daar gaan stap," belowe Annie, "Moenie bekommerd wees nie. Ek
sal julle nie daar laat lê nie." Dit
was lekker om weer op Annie se bed te lê. Tobias vat Lolla se hand.
"More sou
ek die kind van die vullisman se beertjie gewees het as Annie en haar pa ons nie
kom haal het nie," sê hy. Lolla
sug. "Mevrou Drakenstein wou my vir haar vat. Sy het vir my 'n nuwe naam
gegee. Arnella. Toe sit sy my op haar wiegstoel in haar kamer. Ek het vreeslik
na jou verlang, Tobias." "Ek
het net so na jou verlang, Lolla. Dit was glad nie lekker in daardie stink vullisdrom
nie." |