"Dis
weer musiekles vandag," sê Phillip toe hy een oggend die sykar inspan.
"Fwieet,
fwieet!" sê Samuel uit die hamsterbal. "Ek hou van musiek."
"Jy
sal maar jou snawel moet hou, Samuel. Die vrou wat vir Phillip leer klavier speel,
hou nie van jou soort musiek nie," waarsku Magrietjie toe hulle dorp toe
ry. "Jy's
net jaloers omdat jy nie kan fluit nie, Magrietjie." "Jaloers,
grrmf. Kan jy miskien blaf?" "Ek
wil nie blaf nie, want ek het nog nooit 'n voël hoor blaf nie," sê
Samuel. "Hm,
ja, ek het ook nog nooit 'n hond hoor fluit nie," sê Magrietjie. Onnosele
voël, dink sy. Hulle ry by die ingang van die musiekskool in. Phillip
parkeer sy fiets en maak die sykar se hok oop. "Kom,
Magrietjie, wikkel daardie boude," sê hy en wag dat sy moet uitklim.
Toe
Magrietjie uit is, haal Phillip vir Samuel uit die hamsterbal, sit hom op haar
kop en lei hulle na die trappe wat opgaan na die musiekskool op die eerste verdieping
van die gebou. "Môre,
julle," sê Alet, die musiekonderwyseres. "Kom in, Phillip."
Magrietjie
gaan lê voor 'n rusbank naby die klavier. "Vandag
moet Phillip mooi speel," sê Samuel. Phillip
gaan sit op 'n bankie voor die klavier. Alet gaan sit langs hom en vra hom om
te speel wat hy in die vorige les geleer het. Toe begin hy Hansie Slim te speel.
"Fwieet,
fwieet, fwieet, fwieet!" fluit Samuel. "Hou
op. Jy pla vir Phillip," waarsku Magrietjie. "Issie,
Magrietjie. Ek pla hom nie, ek fluit net saam," sê Samuel. "Fwieet,
fwieet, fwieet!" Ná
'n rukkie staan Alet op. "Phillip, ons kan nie oefen met die voël wat
so raas nie," sê sy. Samuel
trippel vererg op Magrietjie se kop. "Raas? Ek raas nie. Ek fluit. Ek fluit
mooi. Baie mooi." "Ek
het jou gesê jy pla hulle, Samuel," raas Magrietjie. "Die
voël moet uit, Phillip. Dit kan nie so aangaan nie," sê Alet.
Phillip
staan van die bankie af op. "Goed
dan. Ek sal hom uitneem," sê hy en tel vir Samuel van Magrietjie se
kop af op. "Nee!
Waarheen vat jy my nou?" skree Samuel. "Jy
gaan nou buite bly," sê Phillip kwaai en stap uit. Hy sit vir Samuel
in sy hamsterbal en los hom op 'n tafel in die gang buite die musiekkamer. Magrietjie
lê en luister hoe Phillip se vingers die klavers druk. Sy ken die liedjies
wat hy speel al uit haar kop. "Mooi,
Phillip," sê Alet nadat Phillip sy laaste liedjie gespeel het. "Jy
ken die liedjie al baie goed. Volgende keer leer ons 'n nuwe een." "Dankie
tog," brom Magrietjie en staan op. Phillip
vat sy hoed en groet vir Alet. "Kom,
Magrietjie," sê hy. Toe
hulle in die gang buite die musiekkamer kom, sien Magrietjie die hamsterbal op
die tafel. Sy stoot haar neus oor die rand van die tafelblad om beter te kan sien.
Haar oë rek groot toe sy sien die hamsterbal is leeg. Phillip sien dit ook.
"Samuel! Samuel! Hy's weg! Waar is Samuel?" Phillip kyk vervaard onder
die tafel, in die gang af, by die venster uit. Net
toe spring 'n grysbont kat op die tafel. Magrietjie skrik toe sy sien hoe die
kat haar lippe aflek. Nee, dit kan nie wees nie, dink Magrietjie benoud. Sy
draf in die nou gangetjie af en ruik aan die toe deure, kom dan terug en kyk weer
na die kat wat lyk of sy iets weet en nie wil sê nie. "Samuel!
Samuel!" roep Phillip, maar Samuel is nêrens nie. Phillip gaan
klop aan die deur van die musiekkamer. Die deur gaan oop. "Is
julle nog steeds hier, Phillip?" vra Alet met 'n frons. "Ja,
Samuel is weg," sê hy. "Die hamsterbal is oop, en daardie kat
. . ." Hy beduie na die kat wat haarself sit en was op die tafel by die hamsterbal.
"Lady
vang nie voëls nie. My kat kry oorgenoeg kos. Het jy al buite gekyk?"
vra Alet. "Nee,
ek sal gou gaan kyk," sê Phillip. "Miskien het hy na die sykar
toe gegaan." Phillip
is net weg toe Magrietjie skielik hoor: "Magrietjie . . ." Magrietjie
spits haar ore. Die
volgende oomblik vlieg die kat van die tafel af op en hardloop na die venster.
Magrietjie spring om, net betyds om te sien hoe die kat teen die gordyn opklouter.
"Magrietjie.
Magrietjie!" hoor Magrietjie vir Samuel skree. Dan
sien sy hom hoog op teen die bont gordyn sit. "Bly daar, Samuel!" roep
sy. Die
kat is al halfpad op teen die gordyn. Magrietjie hap na haar agterpote. "Kom
af daar jou pes!" knor Magrietjie, "of ek byt jou poot morsaf. Daarvan
sal jou baas nie hou nie. 'n Kat sonder 'n poot!" "Auuuuu!
Miaaauuu!" Die kat kyk af en kap met haar voorpoot na Magrietjie se neus.
Magrietjie koes en wys haar tande. Sy hap weer na die kat en byt haar agterpoot
raak. "Iauuuu!
Miaaaauuuu!" kerm die kat. Die
musiekkamer se deur vlieg oop.
"Wat
gaan hier aan!" gil Alet verontwaardig. Net toe spring die kat van die
gordyn af, oor Magrietjie se kop, en gly-gly oor die vloer na die musiekkamer,
tussen Alet se bene deur. Magrietjie spring agterna en stamp Alet dat sy dáár
trek. Samuel
sien alles van waar hy hoog teen die gordyn sit, reg onder die gordynkap. Hy sien
hoe kwaad Alet is. Dan hoor hy iemand op die trappe. Dis Phillip, en hy lyk moedeloos.
Nou moet hy sy kans vat, dink Samuel. "Uit!
Uit!" hoor Samuel Alet vir Magrietjie skree. Samuel
vat sy kans en fladder van die gordyn af en duik tot op Phillip se kop. "Samuel!
Samuel!" roep Phillip bly uit. "Waar kom jy nou vandaan?" "Maak
nie saak nie. Jy doen dit net nie weer nie, Phillip," raas Samuel. "Jy
sit my nie weer in daardie bal op daardie tafel nie," sê hy en tjorts
sommer net daar op Phillip se kop. "'Skuus,
kan nie help nie, Phillip. As 'n kat so groot soos 'n leeu jou jaag, sal jou maag
ook omgekrap wees." Magrietjie kom aangedraf toe sy vir Phillip hoor.
Sy sien vir Samuel op sy kop. "Dankie tog," sug sy. "Kom,
Magrietjie, kom!" roep Samuel. Net
voor hulle by die trappe kom, is Alet agter hulle. Magrietjie weet sy is kwaad,
want sy swaai haar vinger en sy praat hard. "Jy
los die hond en die voël by die huis wanneer jy volgende keer vir jou musiekles
kom, Phillip," sê Alet kwaai. "Dis
daardie kat . . . hy het vir Samuel skrikgemaak," probeer Phillip verduidelik.
"Amper
opgevreet!" skree Samuel. "Jy los my volgende keer in die sykar."
"Dit
. . . dit sal nie weer gebeur nie," belowe Phillip vir Alet. "Ek
weet jy het groot geskrik, Samuel, maar jy doen dit nie op mý kop nie,"
sê Magrietjie toe hulle met die trappe af loop na Phillip se fiets.
"Kon
dit nie gehelp het nie," sê Samuel. "Daardie kat het my baie groot
laat skrik." Terwyl
Phillip sy hare by die huis was, wag Magrietjie en Samuel in die sykar. "Hoe
het jy uit die hamsterbal gekom? Het Phillip dit nie goed toegmaak nie?"
vra Magrietjie. "Ja.
Daardie simpel kat het die bal op die tafel met sy poot omgerol en toe gaan dit
oop. Ek het amper al my vere weggeskrik, Magrietjie. Hy het sy poot deur die opening
gesteek om my aan te keer. Ek was nog nooit so bang nie." "Wat
doen jy toe?" vra Magrietjie. "Daar't
'n kind aangekom en die kat geroep. Ek klim toe vinnig uit die bal en klouter
teen die gordyn op. Ek het die hele tyd terwyl julle my gesoek het, agter die
gordyn gesit," sê Samuel. "Daardie kat kon my nie sien nie. Toe
ek hoor Phillip gaan my by die sykar soek, was ek bang julle ry vir my weg. Dis
toe dat ek agter die gordyn uitkruip." "Daardie
kat was baie lus vir jou," sê Magrietjie. "Sy het tot vir my kans
gesien." "Jy
het my gered," sê Samuel. "Magrietjie, ek is lief vir jou."
"Ja,
ja. Maar nou gaan ons nooit weer kan luister hoe Phillip op die klavier oefen
nie."
Om
die storie verder te lees: Koop Die
avonture van Magrietjie Swaaiboude deur Marianna Brandt 


|