|
Rudi en sy hamsters, Maximus en MacGyver, is soos beste maats.
Wanneer Rudi saam met sy maats boomklim of fietsry, is Maximus en
MacGyver in sy hempsak. Wanneer Rudi met sy karretjies in die stof
speel, is Maximus en MacGyver in sy hempsak. Selfs wanneer Rudi
op die trampolien spring, is Maximus en MacGyver in sy hempsak.

(Tekening deur
Abigail Paulse - Gr 5 Laerskool Gericke)
Gewoonlik
het Rudi 'n groot glimlag op sy gesig as hy en sy twee hamsters
dinge saam kan doen, maar vanoggend is Rudi ongelukkig. Maximus
en MacGyver is nie in hulle hok nie. Hulle is skoonveld!
"Maximus!
MacGyver! Waar is julle?" roep Rudi terwyl hy tussen die saagsels
in die hok soek. Hulle is nie daar nie.
Rudi
hardloop na die kombuis waar sy ma besig is.
"Ma!
Maximus en MacGyver is weg! Hy is nie in die hok nie," sê
Rudi bekommerd. "Wat gaan ons doen, Ma? Hulle kan nie weg wees
nie. Ons wou vandag in die boomhuis gaan speel het!"
"Maximus
en MacGyver moet hier iewers in die huis wees. Ons sal net na hulle
moet soek," sê sy ma en begin om in die kombuis te soek.
"Ek
dink nie ons gaan hulle kry nie. Sê nou... sê nou Sussie
se kat het Maximus en MacGyver opgeëet?" vra Rudi benoud.
"Nee
wat, Gloria sal nooit so iets doen nie," sê sy ma en
vryf oor die groot, wit kat se rug.
Rudi
kyk kwaai na Gloria. Dan begin hy om die rusbank se kussing op te
lig. Maximus en MacGyver is ook nie onder die kussings nie. Hy buk
en kyk onder die rusbank in. Hulle is ook nie onder die rusbank
nie.
"Wat
het met my sokkies gebeur?" hoor Rudi sy pa in die kombuis
uitroep. Hy hardloop na die kombuis en begin dadelik lag toe hy
sy pa se sokkies sien. Daar is twee yslike gate in sy pa se sokkies.
Sy groottone loer by die gate uit.
"Pa,
ek dink Maximus en MacGyver het aan Pa se sokkies geknaag. Dan moet
hulle iewers in die slaapkamer wees!" sê Rudi en hy hardloop
na die slaapkamer.
|