2016-02

jongklomp
haasbekkies


Mientjie in die troonkamer
Helen Sandham
Deel 2

Later is Mientjie en Martie altwee op die bed. Uitgestrek lê Martie aan die slaap. Haar oë is styf toe. Terwyl die haastige Annie nuwe skaafsels gaan haal, kyk Mientjie versigtig rond. Daar is groot duinagtige heuwels op die bed. Dis seker die kussings, dink Mientjie. 

mientjie en martie

Saggies kruip Mientjie verby die slapende Martie. Sy wil sien wat aan die anderkant van die kussing-heuwels is. 

mientjie

Toe sy bo kom, kan sy lekker oor die hele bed sien. Mientjie is verbaas om te sien dat die bed groter is as wat sy haar verbeel het! Terwyl sy daar bo sit en haar uitkykpunt geniet, hoor sy nie vir die haastige Annie wat teruggekeer het met die skoon houtskaafsels nie.

Ewe skielik hoor Mientjie ’n geraas agter haar. DOEF!  DOEF! Die senuweeagtige Mientjie skarrel die verkeerde rigting in en PLOEPS! tuimel sy van die bed af.

Mientjie bevind haar op die stowwerige kamermat. Sy kyk op in die rigting van waar sy geval het.

“Martie!” roep sy benoud.

“Martieeeeee!”

Maar Martie slaap te lekker en boonop is sy ’n bietjie doof ook. 

mientjie

Mientjie kyk bekommerd om haar rond. Sy is alleen. Sy wens sy het maar net vir Martie geluister en stilgesit op die bed. Annie is nou besig om die skaafsels in hulle hok te gooi. Mientjie kyk op in die hoogte in en wonder hoekom Annie so vreemd lyk.

Annie is te besig om te sien dat Mientjie nie by Martie sit nie. Sy verlaat weer die kamer, met die emmer waarin die skaafsels was, en loop amper in haar ma vas.

mientjie

“Annie!” keer haar ma, “Kyk waar jy loop!”

“Jammer Ma, ek moet vinnig nog saagsels gaan haal. Mientjie is weer baie besig en wil nie stil op my bed sit nie!” Ma se wenkbroue sit hoog op haar voorkop. Annie klink darem haastig vandag, dink Ma.

“Hoekom maak jy nie bietjie jou kamer ook skoon nie, terwyl jy so besig is met die marmotte. Ek sal die vuil wasgoed in jou kamer sommer vir jou in die wasgoedmandjie gaan gooi,” stel Ma voor.

“Dankie, ma,” sê Annie oor haar skouer, terwyl sy by die gang af stap, “dit sal baie help.”

kyk hoe

pyllinks
vervolg

Storie, foto's en video's deur Helen Sandham. Helen is 'n Skryfkunsstudent aan die Noordwes-Universiteit (Potchefstroomkampus) 2015.
Kopiereg Helen Sandham

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | e-pos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2016