|
Op 'n dag besef ma wolf dat daar nie meer kos in die yskas is nie.
Sy roep haar sewe klein wolfies nader.
"Kinders,
ek moet woud toe gaan om te jag. As ek weg is, sluit die deur agter
my en moet vir niemand behalwe my oopmaak nie. Veral nie vir die
nare slak nie," sê ma wolf.
"Maar
hoe sal ons weet as dit die nare slak is, mamma?" vra die slimste
wolfie.
"As
iemand klop en in 'n fyn, sagte stemmetjie praat, nie pote het nie
en slym oral mors, weet julle dis die nare slak," sê
ma wolf aan haar sewe kinders.
"Hoekom
mag ons nie vir slak oopmaak nie, mamma?" vra een van haar
wolfies wat nie té slim is nie.
"Hy
sal sy nare slym op julle gooi wat julle sal verlam maak en dan
sal die nare slak julle in sy dop sit tot julle versmoor. En wanneer
julle eers dood is, sal hy julle een vir een stadig op eet."
Ma
wolf is so vasgevang in haar eie storie dat sy vergeet die storie
sal dalk die wolfies baie bang maak.

(Tekening deur
Emma Swiegelaar)
Een van die kleinste fynste wolfies begin huil en
die ander ses wolfies staan styf teenmekaar en bewe.
"Ek
is jammer as ek julle bang gemaak het met die storie, maar dis beter
dat julle weet," sê ma wolf kortaf. Sy glimlag effens
en verdwyn by die deur uit. Vinnig sluit die wolfies die deur agter
haar en maak seker dat die nare slak nêrens sal kan inkom
nie.

(Tekening deur
Sergio Juries)
|