Na
'n lang pad hou die trok stil en die kartondose word opgetel en in 'n groot plek
ingedra. Donsie kyk deur die loergat. "Dis
nie die see nie, ag nee..." huil sy. "Watse
plek is dit die?" vra Paultjie. "Kyk
net die baie mense!" roep Pieter uit. Toe
die kartondoos oopgaan, haal geel en rooi hande hulle uit. Hulle word in 'n groot
blou plastiekswembad gesit sonder water. Pieter, Paultjie en Donsie pik-pik na
die nare vingers om hulle lywer toe hulle in 'n emmer seepwater gedruk word en
lekker skoon gewas word. "Kyk,
die swart see is af!" skree Paultjie opgewonde en skud sy vere sommer so lekker
vinnig om die water uit te kry. Waterdruppeltjies reën sommer so oor Pieter en
Donsie. "Ek
wil nou huis toe gaan," huil Paultjie dan, "Mamma gaan vir my soek." Nadat
hulle al drie silwerskoon gewas is, kry hulle elkeen 'n blinklyf sardientjie.
En toe word hulle in 'n poel seewater gesit om te swem. "O,
dis lekker," sê Donsie, "Dis net soos ons seewater." Daardie
aand slaap hulle in een van die groot plastiekswembaddens waarin nie water is
nie. In die leë swembad is sommer baie pikkewyne. Pieter, Paultjie en Donsie slaap
styf teenmekaar. Hulle is bang hulle verloor mekaar. Die volgende oggend
vroeg tel menshande hulle op en sit hulle weer in 'n kartondoos. Pieter, Paultjie
en Donsie is bly. "Ons
gaan huis toe!" sê Paultjie. "Ja,
die mense het ons net kom skoonmaak," sê Donsie opgewonde. Na
'n baie lang dag agter op 'n trok kom hulle in Port Elizabeth aan. Dis 'n groot
stad by die see en baie ver van Dasseneiland af waar hulle woon. Die drie pikkewyntjies
kan hulle oë nie glo toe hulle die blou see sien nie. "Jippeeee!
Jippeeee!" skree hulle toe hulle losgelaat word. Die drie kan nie wag om
hulle lywe in die heerlike koel water te baai nie. Hulle waggel sonder omkyk see
toe en spring in 'n poeletjie tussen die blink rotse in. Na
'n rukkie kyk Donsie om haar rond. "Maar
dis nie ons huis nie," sê sy, "Ek kan nie die groot plat berg sien nie!" Pieter
en Paultjie geniet hulle so baie in die water dat hulle nie eens agterkom dat
hulle nie in die see by Dasseneiland is nie. Toe
klouter Pieter op die rots en kyk land se kant toe. "Waar
is die groot plat berg?" vra hy. "Dis 'n ander see hierdie." "Mamma...mamma!"
begin Paultjie te huil. "Toemaar
Paultjie, ons sal huis toe gaan. Maar eers as dit donker is," troos Donsie.
Daardie aand kyk
die drie pikkewyne na die swart hemel met die duisende sterre. "Sien
jy die baie sterretjies, Paultjie?" vra Donsie. "Ja,
ek sien hulle," sê Paultjie met 'n huilstemmetjie. "Toe
ons by die huis weg is, het die sterretjies nie daar gesit nie. Maar as ons in
die regte rigting huis toe swem, sal die sterretjies op hulle regte plekke gaan
sit. Jy's nog te klein om dit te verstaan, maar moenie huil nie, ons sal by die
huis kom," belowe Donsie en druk 'n soentjie op sy wang. "My
pa het vir my van die sterre geleer," sê Peter, "Ons moet nou regs draai om huis
toe te swem." "Ja,
jy's reg," sê Donsie, "Kom." Hulle
spring in die water in. Paultjie swem tussen hulle. Bokant
hulle knip die sterretjies vir hulle oog en lag die maan want hulle is op die
regte pad huis toe. Na
baie ure se swem sien hulle die son opkom. "Ek
is moeg," kla Paultjie. "En
ek is honger," sê Donsie. "Kom
ons swem dan strand toe," sê Pieter en swem vooruit. Dis
laagwater. Die rotse sit oop en blink in die oggendson en die seesand skitter.
Die drie pikkewyntjies waggel na die strand, skud die water uit hulle vere en
sit vir 'n rukkie in die heerlike warm sonnetjie. "Ek
sien nog nie die plat berg nie," kla Paultjie. "Ek
ook nie. Miskien is hy nie meer so ver nie," sê Pieter. "Kom,
ek is honger," sê Donsie, skud weer 'n keer haar vere en waggel voor die ander
twee uit see toe. Sy kry 'n poeletjie tussen die rotse waar 'n klomp vissies swem.
Sy duik in en vang een. "Kom
Paultjie. Spring in!" nooi sy vir Paultjie wat staan en kyk hoe sy die vissie
opeet. Paultjie
is nou sommer baie lus vir 'n vissie. Hy duik in die poeletjie in en vang vir
homself ook 'n stukkie kos. En toe Pieter. Na 'n rukkie is hulle weer in
die see. Hulle swem so naby aan die strand as wat hulle kan. Dit word donker.
Toe sien hulle liggies op die strand. "Daar
is die huis!" roep Paultjie opgewonde. "Nee,
dis nog nie die huis nie," sê Pieter. "Ag
nee," sê Paultjie.
Hulle swem elke dag en elke nag. Vir baie dae. Wanneer hulle honger of moeg is,
swem hulle strand toe. Hulle vang 'n vis om te eet en rus 'n bietjie. Dan vat
hulle weer die pad huis toe. Een
aand, terwyl hulle nog so swem, spartel iets skielik in die water by hulle. Paultjie
skrik sy asem weg. Toe hy klaar geskrik het, lag 'n haai, met 'n bek vol skerp
tande vir hom. "Lekker
geskrik?," lag hy, "En waarheen is julle op pad?" "Na...na...huis
toe," stotter Paultjie. "Na
die see by die groot plat berg," antwoord Donsie versigtig. "So?"
lag die haai. "Ja,"
sê Pieter met groot bang oë. "Ek
is so lus en eet een van julle," sê Haai en lag. "Nee...nee...asseblief
tog nie," huil Paultjie. "Jy
sou tog so lekker sappig gesmaak het," sê Haai en druk sy bek teen Paultjie se
lyf, "Hm...dis net jammer ek het klaar geëet." "O
dankie tog," sug Donsie. Skielik
kyk Haai vir Donsie. "Ek sal my broers stuur. Hulle sal lekker aan julle eet."
Toe swem hy vinnig weg. Donsie
bewe van skrik. "Wat nou?" vra sy. "Ons
moet strand toe swem. Daardie haaie is baie gevaarlik. My pa waarsku my altyd
teen hulle," sê Pieter. Hulle
swem dadelik strand toe. "Ons
wag hier tot die son opkom dan swem ons verder," sê Pieter toe hulle later uit
die see uit strand toe waggel. "Daardie
haai het my amper opgeëet," sê Paultjie bewerig. "Ja,
ons kan bly wees hy het klaar geëet anders was jy nou in sy maag, Paultjie," terg
Pieter. Hulle
skrop vir hulle elkeen 'n slaapplekkie op die strand tussen die bamboes, klippe
en skulpe oop. Vroeg die volgende oggend eet hulle en toe swem hulle verder. |