"Daar
gaan die lig af!" sê Ruimtemannetjie, "Kom Geraamte, kry jou bene
bymekaar. Jy het mos 'n groot mond. Kom wys vir ons hoe jy daardie groot dinosaurusse
en drake gaan veg." Geraamte
staan uit sy kis uit op. "Ja..ja..,"
sê hy en gaap, "Dis nog nie donker genoeg nie." "Jy's
'n bangbroek!" lag 'n Smurfie, "Daardie Dinosaurusse gaan jou optel
en skud dat jou lyfie ritteltit." "Kom
nou julle," sê Hasie Slapoor, "Geraamte het nog nooit gesê
hy kan iets doen as hy nie kan nie." "Vandat
Bennie vir jou gekry het, speel hy glad nie meer met ons nie," kla 'n soldaatjie.
"Ek
is nou moeg van julle se gekerm," sê Geraamte, spring in 'n rooi motortjie
en ry onder die bed uit. Bennie
se kamer het 'n groot vloer. Geraamte ry met die motortjie soos op 'n resiesbaan.
"Gee
pad!" skree hy vir 'n klomp soldate wat hom probeer voorkeer, "Ek ry
julle dood dan lyk julle net soos ek!" Die soldate spring uit die pad
van die rooi motortjie en hardloop terug onder die bed in. "Ek
wil nie soos hy lyk nie," sê een van die soldaatjies, "Ek sal
elke dag vir myself skrik." Die
ander soldaatjies bars uit en lag. In
die boks aan die anderkant van Bennie se kamer raak die ongediertes wakker.
"Vanaand
vreet ek daardie Smurfies op," sê die draak met die twee koppe."
"Vanaand
swaai ek my stert net eenkeer en daardie ruimtemannetjie vlieg terug na sy planeet
toe," sê 'n dinosaurus met 'n vreeslike lang stert. "Vanaand
trap ek al daardie karretjies en treintjies en bote van Bennie plat," sis
'n ander dinosaurus met 'n lang nek. "Ja,
van more af speel Bennie net met ons," sê 'n draak en blaas 'n bek
vol vuur uit.
Geraamte ry na 'n rukkie met die rooi motortjie onder die bed in en hou voor die
boks met speelgoed stil. 'n Smurfie klouter oor die rand van die boks. "Jy
het nog nie die drake en dinosaurusse gesien nie, Geraamte. Jy sal so groot skrik
jy sal nooit weer uit jou kis uit opstaan nie," sê hy en lag.
Buite raak dit nou baie donker. Die gordyn voor Bennie se kamervenster is oopgetrek
en die groot boom wat voor die venster staan se kaal takke laat hom soos 'n geraamte
in die maanskyn lyk. Skielik hoor die speelgoed in die boks onder Bennie
se bed 'n stampgeluid. "Dis
hulle," fluister Hasie Slapoor. "Laat
ek sien," sê die ruimtemannetjie en stamp vir Hasie Slapoor uit die
pad uit om oor die rand van die speelgoedboks te kan sien. Die
grootmond Smurfies is doodstil. Hulle sit en luister. Skielik
is daar weer 'n stamp en blaas geluid. "Hulle
het gesê hulle gaan al Bennie se karretjies en treintjies stukkend trap,"
sê die soldate, "Ons moet hulle keer!" Die soldate spring uit
die speelgoedboks en gaan staan voor die boks om die ongediertes te keer.
Hasie Slapoor
klim ook uit en spring in die laaikas. "Waarheen
kan ons hardloop?" vra 'n Smurfie. "Ons
bly net hier in die boks. Die soldate sal die ongediertes skiet." sê
'n ander een. "Jy
beter hardloop, Geraamte," sê ruimtemannetjie, "Daardie drake
trap jou in klein stukkies." Skielik gebeur 'n vreeslike ding. Buite
word dit donkerder en dan slaan die weerlig. Dit verlig die kamer. Die speelgoed
skrik toe hulle al die drake en dinosaurusse op die mat in die middel van kamer
sien staan. Die draak met die twee koppe spoeg vuur, die dinosaurus met die lang
nek swaai sy kop heen en weer. Die ander se bekke is oop en hulle lag en wys hulle
groot tande. Die
soldate staan stokstyf van skrik. "Skiet!"
skree die Smurfies van die boks af. Net hulle keppe en oë steek oor die rand
van die boks uit terwyl hulle probeer sien wat aangaan. "Waar
is Geraamte?" vra ruimtemannetjie. Geraamte is net weg. Hy is ook
nie in die rooi motortjie nie. Die drake en dinosaurusse kom nou al nader
aan die speelgoedboks. "Vanaand
trap ons julle flenters!" sis die twee-kop draak en blaas vuur. Sy tonge
lek oor sy lippe. "Hardloop!"
skree die Smurfies en klouter oor die rand van die boks. Hulle spat nou in alle
rigtings oor die vloer en gaan kruip agter die kas weg. Party spring in Bennie
se boeksak in. Hulle loer want hulle wil niks mis nie. "Waar
is daardie grootmond Geraamte dan?" vra een van hulle. Skielik
donderweer dit weer en 'n weerligstraal verlig die kamer. En toe sien hulle vir
Geraamte met 'n lasergeweer op die rug van die draak met die twee koppe sit. Ruimtemannetjie,
die smurfies en al die ander speelgoeed sluk amper hulle asems weg. "Kyk
daar!" skree 'n Smurfie. Geraamte
skiet op die dinosaurusse en drake. Toe
die ongediertes vir Geraamte sien, skrik hulle groot. Hulle swaai net daar om
en hardloop sterte in die lug terug na hulle boks toe. "Waar
kom daardie geraamte vandaan?" vra een van die drake en sy oë blits
so kwaad is hy. "Weet
nie, ek het hom nog nooit gesien nie. Ons sal hom nooit kan doodmaak nie. Hy is
klaar dood!" sê een van die dinosaurusse. "Hy
is 'n spook! Ek het hom nie op my rug gevoel nie," sê die draak met
die twee koppe. "Hy
is gevaarlik," sê 'n ander een, "Hy het twee van ons geskiet."
Die soldate staan verstom. Hulle kan nie glo dat Geraamte dit reggekry het om
die ongediertes te verdryf nie. Die Smurfies spring uit Bennie se boeksak uit
en agter die kas uit en hardloop terug na die boks toe. "Het
julle gesien?" vra die een. "Ja,"
sê Ruimtemannetjie, "Ou Geraamte is nie bang nie." "Ja,
hy is vir niks bang nie," sê 'n ander Smurfie. Toe
Geraamte by die boks aankom, drom almal om hom. Die soldate staan op aandag en
salueer hom. "Jy
verdien 'n medalje, Geraamte. Van nou af is jy hoof van ons soldate," sê
een van die soldate, "Jy is die beste soldaat." Almal
in die speelgoedboks stem saam. Een
van die soldate hang 'n medalje om Geraamte se nek. "Jy
kan nou maar die rooi motortjie vir jou vat, Geraamte," sê hy, "Jy
het ons lewens gered." "Dankie...e..dankie,"
sê Geraamte. "Jy
is nou een van ons, Geraamte," sê Hasie Slapoor, "As jy nie hier
was nie, het daardie ongediertes ons almal flenters getrap." |