Bennie
se ma sit die lig af. "Lekker
slaap, Bennie," sê sy by die deur en dan gaan die deur toe. In
die speelgoedkas onder die bed gaap die speelgoed lang gape. Bennie en Jakkie
en Wikus en Marius het die hele dag met hulle gespeel. Anika was ook daar met
haar poppie. Die speelgoed is doodmoeg en wil ook nou net slaap. In
die boks langs die groot hangkas aan die anderkant van die kamer gesels die monsters
en die dinosaurusse. Bennie en sy maats het nie met hulle gespeel nie en hulle
is kwaad, sommer baie kwaad. "Ons
moet iets doen," sê die tweekop monster, "Hy speel nie meer met
ons nie. Ons word vir die gek gehou!" "Ja..ja.."
stem die ander saam. "Ons
moet eers daardie nare geraamte plattrap. Sy bene sommer onder ons pote in stukkies
breek," sê 'n ander monster en blaas vuur. "Wanneer..wanneer?"
vra 'n dinosaurus met vlerke, "Ek kan hom met my skerp bek gaan oppik en
vir jou bring." "Ah,
dis 'n goeie plan. Dis 'n goeie plan!" roep 'n ander een uit.
Geraamtemannetjie is glad nie vaak nie. Hy kyk na die groot kasteel van Lego blokkies
wat Bennie en sy maats gebou het. "Julle
moet regmaak," sê hy vir die soldate, "Ek hoor die monsters en
dinosaurusse. Hulle maak planne." "Regtig?"
sê een van die soldate. "Ja,
hulle maak planne om ons aan te val. Vanaand nog," sê Geraamtemannetjie.
"Kom julle
manne!" roep die Kommandant van die soldate, "Ons moet in die kasteel
gaan." "Wat
gaan aan?" vra die Smurfies. "Daar
kom moeilikheid," sê Geraamtemannetjie, "Gaan kruip in die kasteel
weg." Hasie
Slapoor hoor hulle. "Nee,
ek sal maar agter die kas gaan wegkruip," sê hy. Skielik
hoor Geraamtemannetjie iemand hartseer huil. "Wie
huil so?" vra hy vir die ander speelgoed. "Dis..dis
hierdie pop," sê 'n Smurfie, "Hou op huil. Hulle hoor jou."
Skielik spring
die poppie op en hardloop onder die bed uit. Sy hardloop reguit na die boks waarin
die monsters en dinosaurusse is. 'Keer
haar! Keer haar!" skree die soldate. Maar
hulle is te laat. Toe die speelgoed weer kyk, tel die langnek dinosaurus haar
aan haar rok op en swaai haar deur die lug. "Help!
Help!" skree die poppie. "Ons
moet haar gaan help," sê een van die soldate. "Hoe?"
vra 'n ander een, "Daardie goed sal ons fyn trap." "Dit
kom nou van kinders wat hulle poppe op die verkeerde plekke laat lê,"
sê Hasie Slapoor, "Dis die dogtertjie van langsaan se pop. Sy sal haar
pop kom soek. Daar gaan niks van daardie pop oor wees as die monsters met haar
klaar is nie." 'Ons
kan nie dat dit gebeur nie. Dis te vreeslik," sê een van die Smurfies.
"Waar
is ons held?" vra een van die soldate, "Kan Geraamte ons nie help nie?"
"Nee wat.
Die monsters weet nou van hom. Hy kan hulle net skrikmaak en nou gaan hulle nie
meer vir hom skrik nie," sê Krisjan die Seerower." "Help!
Help! Help!" hoor hulle weer die poppie roep. Hulle kyk weer na die boks
waarin die monsters is. Die monsters en dinosaurusse het nou almal uit geklim.
Die poppie klou aan die lang nek van die dinosaurus van. Die monster lek haar
been met sy lang tong. "Help!
Help! Help!" skree sy. "Jy
gaan darem lekker smaak," sê die monster vir haar. "Nee,
nee
gaan weg!" skree die poppie. "Nee,
ek wil jou hê," sê die monster, "Jy is myne." Tobor
die Robot kyk na die speelgoed. "Waar
is Geraamte. Hy moet iets doen. Dis net hy wat haar kan red," sê hy.
"Ja, die
soldate kan net uit die kasteel uit skiet as die monsters en dinosaurusse aanval.
Hulle kan nie buite die kasteel teen die monsters veg nie," sê 'n ou
Smurfie. Almal
soek vir Geraamtemannetjie. Hy is net weg. "Help,
help!" skree die poppie. Sy klou nog steeds om die langnek van die dinosaurus
vas. Die
dinosaurusse en monsters dans en stamp hulle pote. Party maak nare geluide en
blaas vuur terwyl hulle hulle groot tande vir die speeldgoed wys. "Ons
sal jou kom help!" roep een van die speelgoed vir die poppie. Toe
skielik, skrik die poppie amper haar asem weg. "'n
Geraamte! Nee!" skree sy. Die
speelgoed hoor haar en kyk na mekaar. Hulle kan glad nie vir Geraamtemannetjie
sien nie. "Waar
is hy?" vra 'n Smurfie, "Ek kan hom nie sien nie. Maar dit lyk of die
pop hom kan sien. Dis snaaks..dis baie snaaks." Die
speelgoed se monde val oop toe hulle sien hoe die poppie skielik deur die lug
na hulle toe vlieg. "Kyk!"
roep die Smurfie uit. "Sy
vlieg sonder vlerke!" roep Tobor, die robot uit. "Sy
kan vlieg!" roep Hasie Slapoor. Die
soldate hardloop uit die kasteel uit om te sien wat gebeur. "Die
pop is 'n voël," roep een van die soldate uit. Dan
land die pop op haar voete voor hulle. En skielik verskyn Geraamtemannetjie.
"Dis..dis
hy," sê die poppie, "Hy het my gered. Hulle kon hom nie sien nie
net
ek." "Regtig?"
roep die soldate uit. "Kan
jy regtig verdwyn en weer verskyn?" vra Hasie Slapoor. Geraamtemannetjie
lag. "Ja, as dit nodig is, word ek 'n SPOOK." "'n
Spook!" roep Hasie Slapoor uit, "Ek is bang..e..bang vir spoke. Maar
ek gaan nie bang vir jou wees nie, Geraamte...nee, nie vir jou nie."
Die Smurfies kom
ook nou almal uit hulle wegkruipplekke uit. "Wat
hoor ons?" sê die een, "Het Geraamte jou gered?" "Ja,
hy is my held," sê die poppie. Geraamtemannetjie
se bene ritteltit. Hy luister. "Ek
hoor hulle. Hulle weet nou iemand het die poppie gered," sê hy, "Maar
hulle weet nie wie nie. Hulle gaan ons kom aanval. Hulle is baie kwaad. Ja, ek
hoor hulle." |