jongklomp
haasbekkies


In die speelgoedkas
Marianna Brandt
Deel 2

Bennie se ma sit die lig af.
"Lekker slaap, Bennie," sê sy by die deur en dan gaan die deur toe.
In die speelgoedkas onder die bed gaap die speelgoed lang gape. Bennie en Jakkie en Wikus en Marius het die hele dag met hulle gespeel. Anika was ook daar met haar poppie. Die speelgoed is doodmoeg en wil ook nou net slaap.
In die boks langs die groot hangkas aan die anderkant van die kamer gesels die monsters en die dinosaurusse. Bennie en sy maats het nie met hulle gespeel nie en hulle is kwaad, sommer baie kwaad.
"Ons moet iets doen," sê die tweekop monster, "Hy speel nie meer met ons nie. Ons word vir die gek gehou!"
"Ja..ja.." stem die ander saam.
"Ons moet eers daardie nare geraamte plattrap. Sy bene sommer onder ons pote in stukkies breek," sê 'n ander monster en blaas vuur.
"Wanneer..wanneer?" vra 'n dinosaurus met vlerke, "Ek kan hom met my skerp bek gaan oppik en vir jou bring."
"Ah, dis 'n goeie plan. Dis 'n goeie plan!" roep 'n ander een uit.

Geraamtemannetjie is glad nie vaak nie. Hy kyk na die groot kasteel van Lego blokkies wat Bennie en sy maats gebou het.
"Julle moet regmaak," sê hy vir die soldate, "Ek hoor die monsters en dinosaurusse. Hulle maak planne."
"Regtig?" sê een van die soldate.
"Ja, hulle maak planne om ons aan te val. Vanaand nog," sê Geraamtemannetjie.
"Kom julle manne!" roep die Kommandant van die soldate, "Ons moet in die kasteel gaan."
"Wat gaan aan?" vra die Smurfies.
"Daar kom moeilikheid," sê Geraamtemannetjie, "Gaan kruip in die kasteel weg."
Hasie Slapoor hoor hulle.
"Nee, ek sal maar agter die kas gaan wegkruip," sê hy.
Skielik hoor Geraamtemannetjie iemand hartseer huil.
"Wie huil so?" vra hy vir die ander speelgoed.
"Dis..dis hierdie pop," sê 'n Smurfie, "Hou op huil. Hulle hoor jou."
Skielik spring die poppie op en hardloop onder die bed uit. Sy hardloop reguit na die boks waarin die monsters en dinosaurusse is.
'Keer haar! Keer haar!" skree die soldate.
Maar hulle is te laat. Toe die speelgoed weer kyk, tel die langnek dinosaurus haar aan haar rok op en swaai haar deur die lug.
"Help! Help!" skree die poppie.
"Ons moet haar gaan help," sê een van die soldate.
"Hoe?" vra 'n ander een, "Daardie goed sal ons fyn trap."
"Dit kom nou van kinders wat hulle poppe op die verkeerde plekke laat lê," sê Hasie Slapoor, "Dis die dogtertjie van langsaan se pop. Sy sal haar pop kom soek. Daar gaan niks van daardie pop oor wees as die monsters met haar klaar is nie."
'Ons kan nie dat dit gebeur nie. Dis te vreeslik," sê een van die Smurfies.
"Waar is ons held?" vra een van die soldate, "Kan Geraamte ons nie help nie?"
"Nee wat. Die monsters weet nou van hom. Hy kan hulle net skrikmaak en nou gaan hulle nie meer vir hom skrik nie," sê Krisjan die Seerower."
"Help! Help! Help!" hoor hulle weer die poppie roep. Hulle kyk weer na die boks waarin die monsters is. Die monsters en dinosaurusse het nou almal uit geklim. Die poppie klou aan die lang nek van die dinosaurus van. Die monster lek haar been met sy lang tong.
"Help! Help! Help!" skree sy.
"Jy gaan darem lekker smaak," sê die monster vir haar.
"Nee, nee…gaan weg!" skree die poppie.
"Nee, ek wil jou hê," sê die monster, "Jy is myne."
Tobor die Robot kyk na die speelgoed.
"Waar is Geraamte. Hy moet iets doen. Dis net hy wat haar kan red," sê hy.
"Ja, die soldate kan net uit die kasteel uit skiet as die monsters en dinosaurusse aanval. Hulle kan nie buite die kasteel teen die monsters veg nie," sê 'n ou Smurfie.
Almal soek vir Geraamtemannetjie. Hy is net weg.
"Help, help!" skree die poppie. Sy klou nog steeds om die langnek van die dinosaurus vas.
Die dinosaurusse en monsters dans en stamp hulle pote. Party maak nare geluide en blaas vuur terwyl hulle hulle groot tande vir die speeldgoed wys.
"Ons sal jou kom help!" roep een van die speelgoed vir die poppie.
Toe skielik, skrik die poppie amper haar asem weg.
"'n Geraamte! Nee!" skree sy.
Die speelgoed hoor haar en kyk na mekaar. Hulle kan glad nie vir Geraamtemannetjie sien nie.
"Waar is hy?" vra 'n Smurfie, "Ek kan hom nie sien nie. Maar dit lyk of die pop hom kan sien. Dis snaaks..dis baie snaaks."
Die speelgoed se monde val oop toe hulle sien hoe die poppie skielik deur die lug na hulle toe vlieg.
"Kyk!" roep die Smurfie uit.
"Sy vlieg sonder vlerke!" roep Tobor, die robot uit.
"Sy kan vlieg!" roep Hasie Slapoor.
Die soldate hardloop uit die kasteel uit om te sien wat gebeur.
"Die pop is 'n voël," roep een van die soldate uit.
Dan land die pop op haar voete voor hulle. En skielik verskyn Geraamtemannetjie.
"Dis..dis hy," sê die poppie, "Hy het my gered. Hulle kon hom nie sien nie…net ek."
"Regtig?" roep die soldate uit.
"Kan jy regtig verdwyn en weer verskyn?" vra Hasie Slapoor.
Geraamtemannetjie lag. "Ja, as dit nodig is, word ek 'n SPOOK."
"'n Spook!" roep Hasie Slapoor uit, "Ek is bang..e..bang vir spoke. Maar ek gaan nie bang vir jou wees nie, Geraamte...nee, nie vir jou nie."
Die Smurfies kom ook nou almal uit hulle wegkruipplekke uit.
"Wat hoor ons?" sê die een, "Het Geraamte jou gered?"
"Ja, hy is my held," sê die poppie.
Geraamtemannetjie se bene ritteltit. Hy luister.
"Ek hoor hulle. Hulle weet nou iemand het die poppie gered," sê hy, "Maar hulle weet nie wie nie. Hulle gaan ons kom aanval. Hulle is baie kwaad. Ja, ek hoor hulle."

vervolg
Kopiereg Marianna Brandt
Die storie word geskryf deur tannie Marianna Brandt.
Jy kan vir haar skryf by marianna@storiewerf.co.za

 

 

 

 


Voordeur en inhoud | Jong woordvrate | Ouer woordvrate | epos

STORIEWERF word aangebied saam met woordvrate en storiemakers
van alle soorte en groottes.

Gebou en onderhou deur Franci Greyling.

Skryfkuns Skool vir Tale Noordwes-Universiteit (PUK)

(C) Franci Greyling 2000-2012