|
Prinses
Grassproetjies woon saam met haar koninklike gesin in 'n kasteel
langs 'n groen towerwoud.
Grassproetjies
is die jongste van drie prinsesse. Sy is ook die slimste, maar glad
nie die mooiste nie. Dit pla egter nie vir Grassproetjies nie. Sy
speel eerder saam met haar diere-maats as om vervelige prinse geselskap
te hou.
Eendag
speel sy, haar donkie Muisnes en haar brakkie Snuif in die woud.
Hulle skop 'n boontjiesak vir mekaar. Die sakkie wip en klap en
plak soos hulle hom heen en weer skop. Van voet na hoef, van hoef
na snoet en van snoet na knie.
Soos
die sakkie wip en wap, bons daar skielik 'n padda oor die grond.
Kaplaks!
tref Muisnes hom met sy agterpoot dwars in die bek.
Swooiee,
trek die padda deur die lug en land op Snuif se snoet.
"Kwaah!"
skree die padda toe Snuif hom weer hoog in die lig opskiet. Uiteindelik
beland hy plat op die punt van Grassproetjies se skoen.
"Oooh,
'n padda," sê Grassproetjies toe sy die ding op haar
voet van nader bekyk.
"Ek
dink hy's vrek!" blaf Snuif en hardloop nader. "Kyk, hy
lê daar nes 'n platanna."
Net
toe lui die klok vir etenstyd. Grassproetjies tel die padda vinnig
op en hardloop in die rigting van die kasteel met Snuif en Muisnes
kort op haar hakke.
"Wat
het jy daar?" vra die oudste prinses aan etenstafel.
"'n
Padda. Muisnes het hom per ongeluk disnis geskop. Ek gaan hom kamer
toe neem en eksperimente doen, kyk!" Grassproetjies steek die
slap padda hoog in die lug voordat sy hom op weer haar skoot neersit.
"Oe,"
sê die middelste prinses met haar neus opgekrummel van die
gril. "Aaklig. Moet hom net nie naby my bring nie." Sy
krul haar vingers en rol haar oë. "Daar is nie 'n manier
wat ek nou meer sal kan eet nie, sies."
"Vat
hom uit. Dis grous en jy gaan vraatjies kry." Die oudste lyk
skielik hoogs bekommerd. "Sê nou hy gee ons ook vraatjies.
Vat hom uit Grassproetjies, vat hom uit!"
"Nee,
ek gaan nie. Mens kry nie vraatjies van paddas nie. Dis sommer 'n
fabel. Ek weet, ek vat baie aan paddas en ek het niks." Grassproetjies
wys haar twee hande vir haar ouer susters.
"Siestog,
ek dink die padda is regtig dood," sê Grassproetjies
toe sy met Muisnes en Snuif na haar kamer stap. "Sy oë
is dan bot toe."
In
haar kamer lê sy hom op haar spieëlkas neer.
"Steek
hom met 'n potlood," balk Muisnes, "miskien slaap hy net."
Met
die agterkant van 'n potlood steek-steek Grassproetjies na die padda,
maar hy bly doodstil lê.
"Trek
aan sy bene, dalk maak hy of hy slaap." Snuif se stert waai
heen en weer van nuuskierigheid.
Grassproetjies
trek sy agterbene totdat hulle reguit en lank uitgestrek lê.
Maar niks gebeur nie, nie eers toe sy voorarmpies ver na die padda
se sye uitrek nie. Hulle val net weer in plek soos twee klein rubber
armpies.
Hulle
sit nog so die padda en bekyk, toe kry Grassproetjies 'n plan. Sy
grou in haar onderste laai, en bring 'n bloedrooi veer te voorskyn.
Met die veer begin sy die padda kielie. Eers onder sy armpies, dan
oor sy ronde maag, en onder sy plat voete.
"Gigigi,
gaga, kwaak." Die padda begin heen en weer wikkel. Hy giggel
dat sy agterbene skoon opkrul.
"Kwa-ha-ha-ha,
los, nee, dit kielie. Kwa-ha-ha-ha."
"Hy
lewe!" roep al drie gelyktydig.
Die
padda is skoon uitasem wanneer hy begin praat. "Kwaak. Weet
jy dan nie, mens kielie nie so aan 'n prins nie."
"Jy's
g'n 'n prins nie," sê Grassproetjies en vou haar arms.
"Kwaak.
Maar natuurlik is ek 'n prins."
"Is
nie, jy's 'n padda. Jy kan nie 'n prins wees nie. Ek weet hoe lyk
'n prins. Hier kom kuier gereeld prinse by my susters." Grassproetjies
staan nog net so met haar arms gevou en kyk na die padda.
"Ek
is prins Croesus. Ek kom ver uit Asië. My ouers is die rykste
koning en koningin ter wêreld. Kwaak."
"Nou
as hulle die rykste in die wêreld is, hoekom lyk jy dan soos
jy lyk en kwaak jy soos 'n padda?"
"My
ouers wou nie hê dat ek sommer met enige geldgierige prinses
moet trou nie. Net 'n opregte een wat nie agter rykdom aan is nie.
Kwaak. Toe laat kom hulle 'n towenaar uit die noorde. Hy het meer
mal as toweragtig gelyk en toe gee hy my 'n raaisel en verander
my in 'n padda."
"Wat
is die raaisel?"vra Grassproetjies bietjie nuuskierig.
"Kwaak.
In die land waar die groen towerwoud welig groei, en die gras bedek
is met sproete, daar sal jy jou vroutjie kry,maar glad nie sonder
boete. Dalk 'n soen van een of twee om van die kwaak ontslae te
raak. Uit die regte een, kom eers 'n nee, maar later wel 'n lewensmaat."
"En
toe?"
"Toe
verander hy my in 'n padda en gooi my in 'n groot rivier, kwaak."
"Haai?"
"Ja,
ek was al orals opsoek na hierdie plek, maar ek kan dit nêrens
kry nie. Ek het al seker 'n honderd prinsesse gevra om my te soen,
maar ek het hulle almal teleurgestel." Die padda lyk skielik
moedeloos.
"Jammer,
maar ek gaan jou nie, soen nie," sê Grassproetjies vasbeslote.
"Solank as paddas Manel dra, sal ek, Grassproetjies, jou nie
soen nie."
"Wat
sê jy?" Die padda lyk skielik baie ernstig.
"Ek
sê, ek sal jou nooit ooit soen nie, maak nie saak hoe ryk
jou ma en pa is nie. Maar ek sal jou maat wees as jy wil."
Net
daar gebeur die snaakste ding. Die padda begin waar hy is te groei
en groei.
"Kyk,
hy kry hare," sê Muisnes.
"En
hande en voete!" Snuif wip op en af soos hy blaf.
"En
kyk net sy klere," sê Grassproetjies verbaas.
Daar
voor hulle staan 'n lewensgrootte prins in die mooiste koninklike
klere. Sy kop is nog maar heelwat rond en met 'n redelike groot
mond sê hy. "Dis jy! Kwaak. Jy is opreg. Geld en rykdom
maak nie aan jou saak nie. Jy is die een met wie ek moet trou, Prinses
Grassproetjies." Die prins glimlag baie breed. "Ek moet
my ouers gaan laat weet dat ek jou gevind het."
"Nee
wat, trou sal ek nie, hoekom sal ek nou met jou wil trou?"
Grassproetjies trek haar neus op 'n plooi.
"Eendag,
my prinsessie, eendag gaan jy my vrou wees." Toe wip die prins
uit by die venster, af met die rankplant en verdwyn diep in die
groot groen woud.
"Hy
spring maar nog nes 'n padda," kry Muisnes die laaste woord
in.
*
|