|
Daar
was eenmaal in Afrika 'n mannetjiesleeu wat onder die grootste boom
in die land geslaap het. Bo in hierdie boom het daar twaalf vroue-voëls
met die mooiste stemme gebly en hulle moes die mannetjiesleeu elke
oggend wakker fluit. Op 'n dag verslaap die mannetjiesleeu egter
en word hy eers teen laatmiddag wakker. Hy was briesend kwaad en
het die hele Afrika laat bewe met sy brullende stem:
"Hoekom
is ek nie vanoggend wakker gefluit deur die twaalf vroue-voëls
in my boom nie?"
Een
brawe grondeekhoring wat die oggend vroeg wakker was en die hele
gedoente aanskou het, nader die mannetjiesleeu huiwerig.
"Die
twaalf vroue-voëls se stemme is hees. Hulle het geproes en
gespoeg, maar hulle stemme is uit gefluit."
Die
mannetjiesleeu brul 'n geweldige brul en die eekhoring skarrel vinnig
weg.
"Wel,
dit beter die laaste maal wees wat dit gebeur," sê die
mannetjiesleeu.
Die
volgende oggend en die een daarna en sommer nog 'n oggend, word
die mannetjiesleeu nie deur die twaalf vroue-voëls wakker gefluit
nie, omdat hulle stemme hees is.
Die leeu het nou net mooi genoeg gehad van hierdie situasie en hy
besluit om 'n daadwerklike plan aan te wend.
Hy
brul al die diere in Afrika nader en sê in sy dreunende stem:
"Die een wat binne drie dae kan uitvind hoekom die twaalf vroue-voëls
in my boom elke oggend hees is, kan langs my onder die grootste
boom in Afrika slaap en ná my dood die boom besit."
Hierna het diere van alle grootte en soorte na die mannetjiesleeu
gekom om die raaisel van die hees vroue-voëls op te los. Almal
wou 'n slaapplek onder die grootse boom in Afrika, met sy heerlike
koelte, hê. Die jakkals, die kameelperd en selfs die slang
het tevergeefs probeer. Om hulle mislukte pogings te straf het die
mannetjiesleeu hulle verskeur en opgevreet.
*
'n
Verkleurmannetjie het die gedoente nuuskierig bekyk en gewonder
of hy nie ook maar sal probeer vasstel hoekom die twaalf vroue-voëls
elke oggend hees is nie. Die wyse ou uil van Afrika het langs hom
kom sit, om te kyk of daar al enige vordering is.
"Hoekom
probeer jy nie die raaisel oplos nie, verkleurmannetjie? Met jou
kamoefleringvermoë behoort jy die voëls maklik ongesiens
te kan volg. Jy moet net jou ore styf toemaak wanneer dit skemer
word, sodat die twaalf vroue-voëls jou nie aan die slaap fluit
met hulle betowerende stemme nie."
Nadat
hy met die wyse ou uil gepraat het, gaan meld die verkleurmannetjie
homself aan by die mannetjiesleeu. Hy word net soos al die ander
diere 'n regverdige kans gegun. Die verkleurmannetjie maak homself
tuis op 'n tak langs die twaalf vroue-voëls in die grootste
boom in Afrika. Skemertyd maak hy betyds sy ore styf toe, sodat
die twaalf voëls hom nie met hulle sang aan die slaap kan sing
nie. Hy maak sy oë toe en flous die meisie-voëls om te
dink dat hy slaap.
Die verkleurmannetjie loer so skelmpies deur sy een oog net toe
die een voël drie maal aan die boom se bas pik. Die boom se
bas maak 'n opening waardeur al twaalf vroue-voëls al fladderend
vlieg. Die verkleurmannetjie sien sy kans en agtervolg die vroue-voëls
deur die gat in die boom.
Terwyl die twaalf vroue-voëls hoog vlieg volg die verkleurmannetjie
op 'n betowerende paadjie van goue gras en blink klippe. Hy volg
hulle tot by 'n groot meer waar daar twaalf manne-voëls met
skitterende vere hoog bo die water sweef. Die verkleurmannetjie
kyk in vervoering na die pragtige, kleurryke mannevoëls.
Toe
die manne-voëls die vroue-voëls sien duik hulle af in
die silwer water en begin hulle was. Hulle vere blink en skitter
selfs helderder vol druppels silwer water. Wanneer hulle opvlieg
in die lug weerkaats hulle vere helder blou, rooi en geel in die
water. Die vroue-voëls vlieg nou hoog bo die silwer water en
fluit hulle betowerende sang vir die manne-voëls wat bad.
Die verkleurmannetjie luister in vervoering die hele nag na die
pragtige klanke van die twaalf vroue-voëls. Eers toe die twaalf
vroue-voëls se stemme weggefluit is keer hulle terug na die
opening in die boom.
Die verkleurmannetjie het gelukkig vooruit gegaan, omdat hy weet
dat hy 'n bietjie stadiger beweeg op die grond, as die vroue-voëls
in die lug. Terug op die boom sit hy doodstil met sy toe oë
en die twaalf vroue-voëls is daarvan oortuig dat die verkleurmannetjie
slaap.
Die
volgende aand gaan luister die verkleurmannetjie weer na die twaalf
vroue-voëls se pragtige stemme. Hy kyk verwonderd hoe die manne-voëls
van hoog in die lug afpyl tot in die silwer water en weer opvlieg
in die lug, skoon en blink. Die verkleurmannetjie is ook betower
deur die goue gras en die blinkende klippe in hierdie vreemde wêreld
en neem daarvan saam om vir die mannetjiesleeu te gaan wys.

Die
tyd breek toe aan dat hy die antwoord vir die raaisel aan die mannetjiesleeu
moet uitlê. Die verkleurmannetjie gaan vol selfvertroue na
die mannetjiesleeu en vertel hom van die wonderwêreld binne
die grootste boom in Afrika.
"Die
twaalf vroue-voëls sing elke aand hulle stemme hees vir die
twaalf manne-voëls in hierdie vreemde wêreld," sê
die verkleurmannetjie. Hy wys vir die mannetjiesleeu 'n goue grassie
en blink klippie.
Die
mannetjiesleeu kyk verstom na die twaalf vroue-voëls wat hoog
in die boom sit en vra hulle of die verkleurmannetjie die waarheid
praat.
Die twaalf vroue-voëls kan nie antwoord met hulle hees stemme
nie, maar knik hulle koppe op en af. Die vroue-voëls kan nie
glo dat hulle uitoorlê is deur die kleine verkleurmannetjie
nie.
Die mannetjiesleeu gee toe opdrag dat die twaalf manne-voëls
se pragtige vere gepluk moet word om 'n kroon vir hom en die verkleurmannetjie
te maak.
Die verkleurmannetjie het van daardie dag af saam met die mannetjiesleeu
die grootste boom in Afrika gedeel.
Die twaalf vroue-voëls het die mannetjiesleeu en die verkleurmannetjie
elke oggend wakker gefluit en treurig gedink aan hulle twaalf manne-voëls.
|