|
Op 'n bed met wit lakens en sagte kussings bly daar 'n teddiebeer.
Hierdie teddiebeer se naam is Vlooitjie en hy het 'n goue pels en
groen knopie-oë.
Van
sy blyplek op die bed kan hy als sien wat in die kamer gebeur en
hy weet presies waar elke meubelstuk is.
Maar
Vlooitjie is baie ongelukkig want sy maatjie, Anna, speel nie meer
met hom nie. Sy laat hom ook nie meer saam met haar op die bed slaap
nie. Nou dat sy groot geword het, sit sy hom in die aand op die
spieëlkas en los hom daar terwyl sy alleen in haar lekker warm
bed slaap.
Anna
het ook al haar ander speelgoed weggegee of in haar kas weggepak.
Dis nou net Vlooitjie en Lappop oor in die kamer.
Vlooitjie
is baie bang dat Anna hom ook kas toe gaan verban! Hy is so bang
en so ongelukkig dat hy daaraan dink om weg te loop

Toe
Anna vergeet om die deur te sluit vat Vlooitjie sy kans. Hy spring
van die bed af en land op die mat. Hy het nog nooit van die mat
gehou nie, want dit krap sy pootjies.
Hy is nou bang, want hy ken nie hierdie deel van die kamer nie.
Alles lyk soveel anders van onder as van bo. Die spieëlkas
se vet houtpote toring bo hom uit en die punt van die wit laken
hang op die vloer, reg vir iemand om oor te val.
Vlooitjie
kan sien hoe Lappop op haar stoeltjie sit en vir hom glimlag. Hy
twyfel of dit reg is om weg te loop. Kan hy regtig Anna net so agterlaat?
Net toe sien hy die kasdeur met die koperslot en hy onthou hoe die
ander speelgoed in die aande huil en hy weet hy kan nie kas toe
gaan nie.
Vlooitjie
tel sy pootjies op en loop oor die krapperige mat om by die oop
deur te kom.
Hy
kan die blou lug en die groen gras sien en die vrolike voëltjies
hoor sing. Hy weet dat 'n nuwe wêreld buite vir hom wag.
|