Diep in die hartjie
van die bosveld waar die jakkalse rondsnuffel en die patryse goggas
soek, woon 'n volstruismuis.
Snags
slaap hy in 'n sagte bol opgerol in sy huisie onder die boomwortels
en bedags soek hy tussen die klippers en graspolle na snoepsels.
Hy
gesels graag met die patryse en partykeer kuier hy 'n bietjie by die
eekhorings, maar snoepsels is waarna hy eintlik soek. Partykeer kry
hy die snoepsels sommer maklik. Hulle is veral volop net ná
die reëntyd. Ander kere sit hulle 'n bietjie hoog, sodat hy maar
sukkel om hulle by te kom. Soms, na lang tye van droogte en winter
in die bosveld, soek hy baie dae lank vir net 'n ou paar snoepseltjies.
Eendag, en dit was glad nie so lank gelede nie, kan volstruismuis
geen snoepsel meer kry nie. Nie eens enetjie nie!
Hy
is naderhand so honger dat hy op sy sagte wolboudjies gaan sit en
geduldig begin dink en dink aan iets wat hy kan doen om nie meer
aan snoepsels te dink nie:
Hy
borsel sy stert se tossel dat dit pofff;
Hy
trek elke klitsgras uit sy wollyfie;
Hy
ryg naderhand vir hom 'n string saadjies aan 'n grashalm om om sy
nek te hang...
Maar
dit help alles niks, want sy maag gee 'n knorrr dat die eekhorings
hul sterte wip en woerts-warts wegkruipplek soek en die patryse
aan die sketter raak tot sy arme ore daarvan tuit.
Volstruismuis
weet hy gaan nie snoepsels kry van stilsit en dink nie. Hy sal verder
moet gaan soek. Iewers in hierdie groot, wye wêreld moet daar
tog 'n plek wees waar daar nog snoepsels is.
Toe
sug volstruismuis lank en diep en gaan rol hom in sy graskombersie
toe agter in die holte van sy huisie onder die boomwortels.
*
|