|
Vroeg die volgende oggend, nog voor die patryse hul koppe onder
hul vlerke uitgehaal het, vou hy sy graskombers vir oulaas op en
begin hy stap. Een keer, net een ou keertjie, kyk hy om na sy holte-huisie
tussen die boomwortels, maar toe word hy so hartseer dat twee groot
trane oor sy wolwange loop en hy haastig 'n stukkie groen blaar
moet afskeur om sy neus te snuit.
Volstruismuis
stap deur die stowwerige bosveld tot die son naderhand op is. Hy
drink van die dou op die gras en dink aan snoepsels. Vir die jakkals
met sy lang snoet wat nader gedraf kom, skrik hy nie. Hy gee net
een *POFFF* en ou Jakkals nies tot sy oë daarvan traan. En
vir ou leeu met sy stink lyf KYK volstruismuis nie eens nie; hy
is te besig om aan snoepsels te dink.
Verder
en verder stap Volstruismuis - tot daar waar hy nog nooit was nie.
Die son sit later hoog en bak sy wollerige lyfie vuurwarm, maar
van snoepsels is daar geen teken nie.
En
toe hoor hy iets wat hom laat vassteek.
Stemme!
Vreemde geluide wat hy nog maar selde en net van ver af gehoor het
hier in die bosveld, maar hy weet baie goed wat dít beteken.
Hy is naby mense!
Hy
rek sy nek om beter te kan sien en wikkel loer-loer nader, maar
o liewe deug! Die mense is yslik groot en hulle sit om 'n vuur!
Volstruismuis skrik so groot dat hy hom bolrond oprol en doodstil
bly lê.
Hy
maak sy een oog oop en loer onder sy oor deur.
Daar
is 'n pappa, 'n mamma en 'n kleine.
En
toe sien Volstruismuis die wonderlikste ding wat hy nog ooit gesien
het - die grootste, rondste, liefste snoepsels en almal is in 'n
yslike grasmandjie bymekaar!
Soveel
snoepsels het hy nog nooit bymekaar gesien nie. Sy magie begin rammel
en knorrr van die honger.
"O,
aarde," sê die pappa-mens. "Ek hoor die weer dreun.
Miskien moet ons maar liewer oppak en huis toe gaan voor ons dalk
natreën."
O,
nee, dink Volstruismuis. Oppak en saam met daardie mandjie snoepsels
huis toe gaan? Sonder hom wat Volstruismuis is? So nooit as te nimmer!
Hy
maak sy lang nek nog langer en wikkel sag-saggies en sluip-sluip
en so vinnig as wat sy ronde lyfie maar kán, tot by die grasmandjie.
Dis
die snaaksste snoepsels, dink hy toe hy teen die kant van die mandjie
begin opklouter - hulle RUIK glad nie soos snoepsels nie...
En
toe...
...val
hy binne-in die mamma se werksmandjie en bly hy net daar tussen
die bolle wol lê.
"O,
deug," dink hy. "Dis toe nooit regte snoepsels nie!"
En
Volstruismuis rol hom bolrond op van skone teleurstelling.
|